Stadig oor die klippers...

Stowebeesvleis aan die been sorg vir ’n baie geurige potjie. Maar dan moet jy die vleis lank en stadig prut sodat al die geur stadig uit die been kan kook en die senings in die vleis sag raak en in die pot smelt.

1. Verhit ’n leksel olie in ’n pot en braai ’n paar vleisstukke op ’n slag tot mooi goudbruin. (Moenie die vleis alles gelyk probeer braai nie, want dit sal stoom, water trek en nie bruin word nie.) Skep die vleis uit en hou dit eenkant. Hou ongeveer 2 eetlepels van die vet in die pot en gooi die res weg.

2. Gooi die res van die bestanddele by die vet in die pot. Verhit dit tot kookpunt, sit die deksel op en prut dit vir 30 minute oor matige kole.

3. Roer die vleis terug by die mengsel in die pot, sit weer die deksel op en prut dit vir 2-3 uur of tot die pot geurig is en die vleis van die been af loskom. Loer ná 2 uur: As die vleis amper reg is maar die sous te dun, haal die deksel af en prut dit vir nog 30 minute. As die vleis nog nie reg is nie, maar die sous besig om min te raak, gooi ½ koppie water daarby en prut dit met die deksel vir nog 30 minute of tot doeksag en geurig.

Weg Ry & Sleep sê
Een of twee gekapte rooi brandrissies (sonder pitjies) maak hierdie potjie ékstralekker.