Vir 4-6 | Voorbereityd 10 minute plus marineertyd | Gaarmaaktyd 45 minute

Jy benodig

1 heel hoender (1,5-2 kg)
2 knoffelhuisies, fyngekap
¼ koppie tamatiesous
6 eetlepels sojasous
1 eetlepel gewone paprika
1 teelepel gerookte paprika
1 teelepel rooipeper
2 nartjies
¼ koppie olyfolie
2 eetlepels heuning (of marmelade)
suiker na smaak

Só maak jy

1. Maak hom ’n flattie: Draai die hoender om sodat die borsbeen na onder wys. Gebruik ’n kombuisskêr en knip aan weerskante van die rugstring langs oor die lengte van die hoender sodat jy die rugstring van die res van die karkas kan verwyder. Draai dan die hoender om en druk dit met albei hande plat sodat die borsbeen breek en die hoender plat lê. As jy haastig is, kan jy sommer ’n flattie koop.

2. Meng in ’n bakkie die knoffel met die tamatiesous, sojasous, paprika en rooipeper. Voeg die sap en gerasperde skil van een nartjie daarby en roer die olyfolie by. 

3. Sit die hoender in ’n Ziploc-sakkie, gooi die helfte van die sous daaroor uit en skud goed. Laat die hoender vir ’n paar uur of verkieslik oornag marineer.

4. Sorg dat die hoender kamertemperatuur is voordat jy dit braai; gooi die marinade af en meng die heuning daardeur. Sit die hoender met die velkant na onder op die braai en laat dit vir ongeveer 10 minute oor matige kole braai totdat die vel bros en goudbruin is. Draai die hoender om en skuif dit na ’n koeler deel van die rooster. Gebruik ’n kwas om van die marinade oor die hele hoender te verf terwyl jy dit elke 10 minute omdraai.

5. Toets die hoender ná 35 minute deur ’n messie in die dikste deel van die vleis te steek – as die sap wat uitloop, deurskynend is (nie bloederig nie), is die hoender gaar. Indien nie, braai dit vir nog 10-15 minute. ) Onthou, die hoender kook nog nadat jy dit afgehaal het. Moenie die vleis té droog braai nie.)

6. Haal die hoender van die kole af, bedek dit losweg met foelie en laat dit vir 10 minute rus voordat jy dit sny. Sny intussen die oorblywende nartjie middeldeur, sprinkel suiker oor en braai die twee halwes met die oop kant na onder op die rooster. Sny die hoender in stukke, drup ’n paar lepels olyfolie oor die vleis en druk dan die warm nartjiesap daaroor uit.