’n Mosseltjie vir voorgereg

Jy benodig

(genoeg vir 4 as voorgereg)

  • 300 ml droë witwyn
  • 1,5 kg vars swartmossels, skoongeskrop en baard verwyder
  • 3 eetlepels knoffelbotter
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 1 klein witui, fyngekap of gerasper
  • 1 teelepel meel (opsioneel)
  • 1 koppie room 1 suurlemoen
  • 1 ciabatta, in skywe gesny

Só maak jy

1. Gooi die wyn in ’n swartpotjie en verhit dit tot kookpunt. Voeg al die mossels by, sit die deksel op en stoom dit vir 5-6 minute tot al die mossels oopgegaan het – gooi dié weg wat nie oopmaak nie.

2. Skep die mossels uit en behou 1 koppie van die kookvloeistof. Breek die mossels oop en pak die skulpe met die mossels plat in ’n vuurvaste skottel – gebruik sommer foelie as jy nie skottelgoed wil vuilmaak nie.

3. Smelt die knoffelbotter en olie in ’n skoon potjie en soteer die ui stadig tot sag en glansend. Roer die meel by as jy van ’n dikker sous hou en braai dit vir ’n minuut.

4. Klits die koppie kookvloeistof by – ’n vurk werk net so goed as jy nie ’n  ballonklitser het nie – gevolg deur die room. Geur die sous na smaak met gerasperde suurlemoenskil en prut dit oor lae hitte tot dik, gaar en geurig. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

5. Drup die sous oor die mossels – moenie skaam wees nie! – en verhit die bord weer oor die kole as dit dalk te veel afgekoel het. Geniet die mossels saam met suurlemoenwiggies en ’n lekker sny ciabatta.

Ry & Sleep sê
Die mossels is net die antwoord vir ’n heerlike deelbord langs die kampvuur.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook