Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 30 minute 

Jy benodig

  • olyfolie
  • 800 g steurgarnale, skoongemaak
  • 1 ui, grofgekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 50 g tamatiepasta
  • 2 blikkies (800 g) gekapte tamaties
  • 400 g Italiaanse tamaties
  • 2 eetlepels suiker
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 1 teelepel rissievlokkies
  • sout na smaak
  • swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Drup ’n skeut olyfolie oor die garnale en braai dit in ’n groot pot of pan tot pienk (sowat 3 minute). Skep die garnale uit.

2. Verhit nog olyfolie in ’n middelslagpot en braai die ui vir sowat 5 minute oor matige hitte tot sag. Voeg die knoffel by en braai dit vir nog 1 minuut. Roer dan die tamatiepasta by en maak seker jy kook dit deur om te keer dat dit ’n bitter smaak in jou bredie laat.

3. Voeg die res van die bestanddele by die sous, geur dit na smaak met sout en swartpeper en laat dit vir 15-20 minute prut totdat jy ’n dik sous het. Skep die gaar steurgarnale by die sous, roer liggies deur en sit dit dan voor saam met geelrys met rosyne. Roosterkoeke vir die sousie is net so lekker!