Vir 4  |  Voorbereityd 10 minute  |  Gaarmaaktyd 15 minute

Pierre Bester van Wellington vertel sy ma het hierdie smoor graag Sondagaande gemaak. Saam met oorskietlamsboud is dié aandete “vinnige dood” gedoop – dis vinnig om te maak en jy eet jou dood. 

Jy benodig
 
• 5 groot tamaties
• kookolie, vir braai
• 2 uie, grof gekap
• 1 groot knoffelhuisie
• 25 ml bruinasyn
• 2 eetlepels bruinsuiker
• sout en peper
• 6 eiers
• ’n paar vars basilieblare (of ’n knippie droë basilie)

So maak jy

1. Laat lê die tamaties vir ’n paar minute in kookwater. Skil dit af en sny dit in blokkies. 

2. Verhit kookolie in ’n groot pan. Braai die uie en knoffel daarin totdat die uie begin verbruin. Roer die tamatie by en laat dit ’n rukkie prut totdat die tamatie gaar raak. 

3. Gooi die bruinasyn en suiker by die smoor. Pas die hoeveelhede aan na smaak en geur dit met sout en peper.

4. Breek 6 eiers in die pan, sit die deksel op en laat dit gaar word soos verkies. Sit ’n paar basilieblare by vir kleur en geur.