Vir 4 | Voorbereityd 20 minute plus marineertyd | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

• 1,5 kg hoenderdye

• 2 teelepels sout

• sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

• 2 teelepels heel koljandersaad

• 1 teelepel heel komyn

• 1 ui, gekap

• 4 knoffelhuisies, geskil

• 7 cm vars gemmer, geskil

• 4 teelepels paprika

• 3 teelepels garam masala (’n mengsel fyngemaalde speserye, te kry by supermarkte)

• 1 teelepel borrie

• 1 koppie ongegeurde dik jogurt

Vir die mangosalsa

• 2 groot mango’s

• sap van 1 lemmetjie

• ½ brandrissie, pitjies verwyder en fyngekap

• 10 mentblare

• ¼ rooiui, fyngekap

Só maak jy

1. Maak ’n paar diep snye in elke stuk hoender en pak dit in ’n enkellaag in ’n oondbak. Sprinkel die sout oor, druk die suurlemoensap oor die hoender uit en vryf dit goed met jou vingers in die snye in. 

2. Braai die koljander en komyn droog in ’n baie warm pan om die geure te ontwikkel, en maal dit dan fyn met ’n stamper en vysel.

3. Gooi die fyn speserye saam met die res van die bestanddele in ’n voedselverwerker en verpulp dit. Krap die sous oor die hoender uit, en maak seker dis ook in die snytjies. Sit dan die vleis in die yskas en vergeet vir ’n dag of twee daarvan.

4. Wanneer jy braai: Kry baie warm kole gereed en spuit jou braairooster met kleefwerende kossproei sodat die marinade nie daaraan vassit nie. Braai die hoenderstukke vir ongeveer 20 minute en draai dit gereeld om. Verf dit ongeveer 5 minute voor jy dit afhaal, weer goed met marinade. Die hoender is gereed as die sap helder uitloop wanneer jy ’n mes in die dikste deel steek.

5. Vir die slaai: Skil die mango’s en sny dit in blokkies. Meng die res van die bestanddele en gooi dit oor die mango. Sit dit saam met die gebraaide hoender voor.

KORTPAD:

Ontbeen die dye en marineer die hoender vir slegs 1 uur. Ryg dit op sosatiestokkies sodat die vleisrepe dun en plat gespalk is. Pak die stokkies dan in ’n vlak bak wat op die rooster kan gaan en bedek dit met foelie. Rooster dit baie stadig oor matige warm kole vir 25 minute. Maak dan die kole weer lekker warm, haal die hoendersosaties uit die marinade en skroei dit vinnig oor baie warm kole vir ’n goudbruin kleur.