Maak 6 broodjies | Voorbereiding: 45 minute | Kooktyd: 3-4 uur 

Jy benodig

• 1,2 kg gepekelde beestong

• 1 ui, in kwarte gesny

• 2 wortels, grofgekap

• 3 lourierblare

• 2 takkies tiemie

• 3 naeltjies

• 1 teelepel peperkorrels

VIR DIE MOSTERDSOUS

• ¾ koppie suiker

• 2 eiers

• 3 teelepel mosterdpoeier

• 1 teelepel Dijonmosterd

• 4 teelepel mielieblom

• ½ koppie kookwater

• 1 koppie asyn

VIR DIE SUURKOOL

• 1 eetlepel elk botter en olyfolie

• 1 klein ui, fyngekap

• 1 rooi brandrissie, gekap

• 1 klein kopkool, gesnipper

• 1 teelepel karwysaad

• 2 eetlepels droë bosbessies (opsioneel)

• 1 koppie appelasyn

• ½ koppie sider of appelsap

• sowat 2 eetlepels platblaarpietersielie, gekap

OM VOOR TE SIT

• 2 Franse baguettes, elk in 3 stukke gesny

• botter

• vars rooiuiringe

Só maak jy 

1. Spoel die tong deeglik af. Sit dit saam met die ui, wortel, speserye en kruie knus in ’n kastrol en bedek dit met water. Verhit alles tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut dit vir sowat 3 uur met die deksel op totdat die tong gaar is – dit moet sag wees as jy dit met die punt van ’n skerp mes toets. Gooi nog water by terwyl dit kook indien nodig, want dis belangrik dat die tong bedek moet bly terwyl dit kook. 

2. Skep die tong uit en laat dit afkoel tot jy daarmee kan werk. Trek die velletjie met ’n skerp messie af terwyl die vleis nog warm is, anders is dit moeilik om te verwyder. Sit die tong terug in die vloeistof en laat die hele toetie heeltemal afkoel. Sny die tong in dun skyfies.

3. Vir die mosterdsous: Klits die suiker, eiers, mosterdpoeier en mosterd tot glad en klits dan die water en asyn in ’n straaltjie by tot gemeng. Mikrogolf dit op hoë hittte vir 1 minuut. Klits en mikrogolf dit vir nog ’n minuut. Klits en herhaal die proses vir altesame 8 minute. Indien nog nie dik nie, mikrogolf ’n ekstra 2 minute. Die sous bly effens loperig. Geur met sout na smaak, skep in ’n gesteriliseerde glasfles en laat afkoel.

4. Vir die suurkool: Smelt die botter en olie saam en braai die ui en brandrissie tot glansend. Voeg die kool, karwysaad en bosbessies by en braai dit vir ongeveer 5 minute totdat dit begin verwelk. Gooi die asyn en sider by, draai die hitte laer en prut die kool met die deksel op vir sowat 20 minute. Geur dit na smaak met sout en varsgemaalde peper en sprinkel die pietersielie oor. Ek hou daarvan om die gaarmaakproses hier te stop, terwyl die kool nog persoonlikheid het. Laat dit afkoel.

5. Om voor te sit: Sny die baguettes elk in 3 en elke deel middeldeur, en smeer dit dan dik met botter. Dollie dit nou na hartelus op met die kool, tongskyfies en mosterd. Garneer dit met vars rooiuie.