Vir: 4 | Voorbereityd: 20 minute plus rustyd | Gaarmaaktyd: 5 minute

Ons sit dit hier voor met gebraaide soetpatatblokkies en ’n gebakte eier. 

Jy benodig

TUISGEMAAKTE WRAPS
• 1 koppie broodmeel (wit óf bruin)

• ’n knippie sout

• 3 eetlepels olyfolie of regte botter

• ¼ koppie warm water

OM VOOR TE SIT

• 2 soetpatas of aartappels

• canola-olie plus ekstra om die eiers te bak

• 2 eetlepels gekapte roosmaryn

• 1 eetlepel komynsaad

• 2 ryp avokadopere

• suurlemoensap na smaak

• 100 g chorizo- of cabanossiwors, in skyfies gesny

• 4 eiers

Só maak jy

1. Meng al die bestanddele vir die wraps saam en knie dit ’n bietjie totdat dit ’n sagte deeg vorm. Maak die deeg in ’n bol bymekaar en rol dit in kleefplastiek toe. Laat dit vir 1 uur rus. 

2. Verdeel die deeg dan in 4 ewe groot stukke, besprinkel ’n werkoppervlak met ’n bietjie meel en rol elke stuk so dun as moontlik uit totdat jy plat, ronde deegskywe het.

3. Verhit ’n droë pan en braai die wraps ’n minuut aan elke kant. Plek-plek sal bruin kolletjies vorm.

4. Sny die soetpatat of aartappel in klein blokkies en braai dit in ’n paar eetlepels olie in ’n pan totdat die blokkies gaar en bros is. Sprinkel die roosmaryn en komynsaad oor en haal dit van die plaat af.

5. Druk die avokadopeer met ’n vurk fyn en geur dit na smaak met suurlemoensap, sout en peper. Smeer ’n dik laag hiervan op elke wrap.6. Bak die eiers in ’n bietjie olie en skep dan ’n eier in die middel van elke wrap. Sprinkel ¼ elk van die soetpatat en wors bo-oor. Sit die wraps voor met gekapte vars rissie en suurlemoenskyfies of Tabascosous na smaak.