Resepte en stilering Aletta Lintvelt | Kosassistent Merrill Buckley

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 500 g gaar lamsvleis, in repies gesny
  • blaarslaai na smaak
  • vars tamatieskyfies na smaak
  • ½ rooiui, in dun skyfies gesny

VIR DIE NAANBROOD

  • 1 koppie witbroodmeel
  • ½ koppie Griekse jogurt
  • ’n knippie sout
  • 2 eetlepels olyfolie plus ekstra om te braai

VIR DIE TZATZIKI

  • 1 koppie Griekse jogurt
  • ½ komkommer, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • ’n knippie sout
  • 2 eetlepels olyfolie
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Maak eers die naanbrood Meng die meel, jogurt, sout en olyfolie saam en knie dit goed. Voeg nog 2 eetlepels jogurt by as die mengsel te droog is. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit vir minstens 20 minute rus.

2. Verdeel die deeg in 4 bolletjies en rol elkeen uit in ’n sirkel van ½ cm dik – ek gebruik sommer ’n wynbottel vir die rolwerk.

3. Verhit ’n gietysterpan met ½ teelepel olyfolie daarin. Braai die platbroodjies vir ’n paar minute aan elke kant tot goudbruin borrels verskyn. Hou die gaar brood in ’n skoon vadoek warm.

4. Maak die tzatziki Meng die jogurt, komkommer, knoffel, sout en olyfolie en geur dit na smaak met sout en swartpeper.

5. Vul die broodjies met vleis, blaarslaai, tamatie en ui, en skep dan ’n lepel vol tzatziki daarin.

Weg Ry & Sleep sê
Die broodjies is op hulle beste vars. As jy dit die volgende dag wil geniet, verhit hulle net weer vinnig in ’n skoon droë pan.