Vir 8 | Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 2 uur

Jy kan dit al ’n aand of drie voor die tyd regkry en in foelie bêre. ’n Skottelbraai werk die beste omdat die varklies eweredige hitte kry.

Jy benodig

• 2 kg varklies

VIR DIE MARINADE

• ¼ koppie balsemiekasyn
• 5 eetlepels heuning of esdoringstroop,plus ekstra
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 teelepel gerookte paprika
• 2 teelepels fyn komyn

VIR DIE VULSEL

• 1 chorizowors
• 1 rooi brandrissie, gekap
• 1-2 koppies broodkrummels
• ½ ui, fyngekap
• 1 knoffelhuisies, fyngekap
• ½ koppie kasjoeneute, grofgekap
• ’n hand vol bosbessies (cranberries)
• 5 eetlepels botter, gesmelt
• ’n paar takkies vars tiemie
• skil en sap van 1 suurlemoen

Só maak jy

1. Verwyder die bene en vel van die varklies (of vra jou slagter om dit te doen). Meng die bestanddele vir die marinade en vryf die lies aan al twee kante deeglik daarmee in. Laat dit vir ’n paar uur staan om in te trek – oornag is beter.

2. Trek die chorizowors se velletjie af, kap die vleis fyn en meng dit met die res van die vulselbestanddele.

3. Vou die varklies oop met die vetkant na onder. Pak die vulselbestanddele op die vleis en bring die kante na mekaar toe sodat dit ’n rol vorm. Gebruik kombuistou om die rol stewig in plek te hou. 


4. Krap die kole na die kante toe en plaas die varklies in die middel van die rooster sodat daar geen direkte hitte van onder af kom nie (sit ook ’n foeliebak direk onder die vleis). Sit dan die deksel op. Die vark sal ongeveer drie uur neem om gaar te word. As die vleis te donker begin word, kan jy dit in foelie toedraai en dan weer vir die laaste 15 minute oopmaak sodat die vetjies bros kan braai. Sit elke uur nog ’n paar kole by. 


IN DIE OOND: Jy kan die varkrol ook vir drie uur in ’n oond van 140 °C bak, en daarna vir 15 minute teen 200 °C rooster om te verbruin. Die vleis is gereed wanneer die vleis sag is.

5. Drup nog heuning oor die varkrol en laat dit vir 20 minute rus voor jy dit in skywe sny.

WENK: As jy nie chorizowors in die hande kry nie, kan jy ook spek of gewone varkworsies gebruik.