Vir 4-6
Voorbereityd 5 minute
Gaarmaaktyd 2½ uur




Die soetsuur smaak van appelbier en vark bly ’n wenkombinasie.


Jy benodig 


  • 1 kg varkskouer, ontbeen en in stukke gesny
  • 2 eetlepels meel
  • 2 eetlepels botter
  • 250 g dikgesnyde gerookte spek (of kasslertjops), gekap
  • 2 selderystingels, fyngekap
  • 2 preie, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 4 witwortels (of wortel- of soetpatatstukke), in 4 cm-stukke geny 
  • 1 koppie appelsider (soos Savanna)
  • 1½ koppies hoenderaftreksel
  • 2 koppies krulkool, gekap
  • sout
  • swartpeper
  • ½ suurlemoen se sap en gerasperde skil
  • ’n hand vol pietersielie, gekap



Só maak jy


1. Voorverhit die oond tot 140 ºC (met die waaier aangeskakel) of kry ’n hopie kole gereed. Voeg die stukke varkvleis saam met die meel in ’n plastieksak en skud dit totdat die vleis oraloor bedek is. Verhit die botter in ’n platboompot en braai die vleis in sarsies daarin tot verbruin. Skep uit en hou eenkant.

2. Verlaag die hitte en roerbraai nou die spek, seldery, preie en knoffel tot sag. Voeg dan die witwortel, appelsider en hoenderaftreksel by, sowel as  die vleis en enige pansappe. 

3. Bring die pot tot kookpunt en verlaag dan dadelik die hitte tot baie laag. Sit die deksel op en laat die potjie vir 2 uur in die oond (of oor louwarm kole) prut totdat die vleis doeksag is. 

4. Roer die gekapte krulkool by en laat die pot vir nog 5 minute prut. Proe, en geur met sout en swartpeper na smaak. Sprinkel van die suurlemoenskil oor, geur na smaak met die sap en garneer elke porsie net voordat jou mense aansit met ’n bietjie pietersielie.