Jy benodig (genoeg vir 4)

  • 4 lekker vet varklendetjops met vel
  • ’n ruim knypie sout
  • ¼ koppie knoffelbotter

VIR DIE ROOSMARYNVRYFMENGSEL

  • 1 teelepel seesoutvlokkies
  • ’n ruim knypie varsgemaalde swartpeper
  • 1 takkie roosmaryn, blaartjies gestroop
  • ’n knippie droë gemengde kruie
  • ½ teelepel elk droë ui en knoffel

Só maak jy

1. Druk die vleis goed droog, vryf die knypie sout in die vel en sit die vleis oornag oop in die yskas. Dié stap is nie noodsaaklik nie, maar as jy die tyd het – en jou kampeerplek die gerief – kan jy dit gerus oorweeg. Die yskas help die vog onttrek en dít laat die vel bros braai.

2. Maak die bestanddele vir die vryfmengsel met ’n stamper en vysel fyn en vryf die vleis oraloor daarmee in. Rangskik die tjops regop langs mekaar en druk ’n sosatiestokkie deur om hulle so te hou.

3. Braai nou die tjops, stadig met die velkant eerste, oor matige hitte tot dit begin borrel en bros raak. Trek die stokkie uit en braai die tjops plat tot hulle mooi bruin is en gaar na jou smaak. Hou die tjops mooi fyn dop om ’n sappige stukkie vleis met ’n bros sooltjie te kry – vat dus jou tyd.

4. Smelt die knoffelbotter en verf dit die laaste minuut of twee oor die kole ruimskoots oor die vleis. Laat die tjops ’n paar minute rus en sit dit voor met die ekstra botter en gebraaide aartappels.

Ry & Sleep sê: ’n Ander manier om ’n bros sooltjie te kry is om die swoerd in een strook van die tjops af te sny en dit dan te sout, droog te druk en apart van die tjoppies te braai – oor die kole óf in ’n pan.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook