Vir 4 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 10 minute

Jy benodig 

• 2 koppies vars mentblare
• ¼ koppie amandels, gekap
• ½ koppie parmesaan, gerasper 
• ¼ koppie olyfolie
• 600 g varkfilet of lendeskyftjops, in repies gesny
• 1 ui, in ringetjies gesny
• 500 g sampioene, grofgekap
• sout na smaak
• swart peper na smaak
• 350 g murgpampoentjienoedels (te koop by sekere supermarkte)\

Só maak jy

1. Kap die mentblare en amandels saam tot baie fyn. Meng dit dan met die parmesaan en die helfte van die olyfolie. 

2. Verhit 2 eetlepels olyfolie in ’n baie warm pan en roerbraai die vleis vir 3 minute. Skep die vleis op ’n bord uit en geur dit met sout en peper.

3. Verhit weer 2 eetlepels olyfolie in dieselfde pan en roerbraai die uie en sampioene tot sag. 

4. Maak intussen die murgpampoentjienoedels gaar deur dit vir 2 minute te stoom of in die mikrogolf te verhit. Dit kan ook aan die einde saam met die sampioene en uie geroerbraai word – die murgpampoen moet nog ferm maar gaar wees.

5. Roer nou die vleis en ment-en-amandelpesto deur die roerbraai en sit dit dadelik saam met die murgpampoentjienoedels voor.