Foto's: Michelle Parkin

Pestogevulde lamsboud

Pestogevulde lamsboud
Pestogevulde lamsboud. Foto: Michelle Parkin

Vir: 6 | Voorbereityd: 10 minute | Kooktyd: 90 minute 

Jy benodig

• 2 kg lamsboud, ontbeen

• 1 koppie parmesaan

• 100 g kasjoeneute (of enige ander neut), fyngekap

• 250 g Pesto Princess-rissie-en-basiliepesto

• olyfolie

• sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Laat rus die lam totdat dit kamertemperatuur bereik.

2. Meng die parmesaan, kasjoeneute en pesto saam. Vou die lamsboud oop en smeer die pestomengsel rojaal daaroor.

3. Rol die vleis op en bind dit op vier plekke met kombuistou vas. Klad die vel droog en sprinkel olyfolie, sout en peper oor.

4. Kry kole gereed in die ketelbraai en berei dit voor vir die indirekte kookmetode deur die kole na die kante te krap sodat daar ’n spasie oop is onder die rooster.

5. Sit die lam in ’n gietysterpan of foeliebak, plaas dit in die middel van die rooster, bedek met die ketelbraai se deksel en rooster vir 90 minute.

6. Verwyder van die braai en laat dit 15 minute eenkant rus voordat jy dit voorsit met wortels wat in botter en komyn gebraai is.


Hoender-en-heuningmosterdbraaipastei
Hoender-en-heuningmosterdbraaipastei

Hoender-en-heuningmosterd-braaipastei

Vir: 6 | Voorbereityd: 20 minute | Kooktyd: 20 minute 

Jy benodig

• 1 heel gaar hoender

• 1 ui, gekap

• 2 eetlepels botter of olyfolie

• 1 pakkie (45 g) Royco Sour Cream & Mushroom Sauce

• 4 eetlepels jogurt, melk of water

• 2 teelepels Dijon-mosterd

• 1 rol blaardeeg, ontdooi

• 2 eetlepels heuning

• 2 eetlepels gesmelte botter

Só maak jy

1. Vlok die hoender met twee vurke.

2. Braai die ui baie stadig in die botter tot sag en glasig.

3. Meng die ui met sowat 3-4 koppies gevlokte hoender. Maak die Royco-sous aan met ’n bietjie melk of water en meng dit saam met 1 teelepel mosterd deur die hoender. Proe en geur na smaak met nog mosterd of sout (onthou, die pakkie sous het reeds baie sout in). Jy kan nog water byvoeg as die mengsel droog lyk, maar dit moenie te pap wees nie.

4. Rol die blaardeeg oop op ’n meel-bestrooide oppervlak. Vul die een helfte met die hoendermengsel en vou die ander helfte bo-oor. Druk die kante op mekaar vas met ’n vurk.

5. Braai die pastei hoog bo-oor matige kole en draai dit gereeld om totdat die deeg bros en goud van kleur is.

6. Meng die heuning met die oorblywende teelepel mosterd en die gesmelte botter. Drup dit bo-oor die pastei sodra dit van die rooster kom. Sny in skywe en geniet! 

WENK
Sorg dat jy die rooster olie sodat die pastei nie vassit nie.


Bruinrysslaai

Vir: 6 | Voorbereityd: 15 minute | Kooktyd: 30 minute

Jy benodig

• 300 g bruinrys

• 100 g amandelvlokkies, gerooster

• 2 eetlepels koljandersade

• 1 blik (400 g) lensies

• 300 g olywe, ontpit en middeldeur gesny

• 5 stingeluie, gekap

• 250 g droë appelkose, gekap

• 1 bossie koljander- of basilieblare, gekap

• 1 bossie pietersielie, gekap

• 1 suurlemoen se gerasperde skil en sap

• 4 eetlepels heuning

• olyfolie

• sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Kook die rys volgens die instruksies op die pakkie tot gaar maar ferm – moenie dit pap kook nie.

2. Maak ’n droë pan warm en braai die amandelvlokkies daarin tot lig gerooster. Skud die pan gereeld.

3. Gooi die koljandersade in dieselfde pan en rooster ook ’n paar sekondes tot geurig. Skud dit uit en rol fyn – ek gebruik sommer enige blikkie of flessie.

4. Meng die gaar rys met die koljander en die res van die bestanddele. Ek gooi minstens ’n ¼ koppie olyfolie oor die slaai – jy kan meer spaarsaam wees as jy wil. Proe en geur na smaak met sout en peper en sit nog suurlemoensap by indien verkies. Sprinkel die amandels bo-oor. Die slaai kan dadelik bedien word, of vir 4 dae in die yskas gehou word.

WENK
Moenie dat vars kruie jou pootjie as jy dit nie by jou vakansieplek in die hande kan kry nie. Voeg net ’n teelepel elk gedroogde kruie by.


Botterskorsie met dadels en spek

Vir: 6 | Voorbereityd: 15 minute | Kooktyd: 30 minute  

Jy benodig

• 250 g spek

• 1 eetlepel olyfolie

• 10 heel dadels

• 1 heel botterskorsie

• 2 eetlepels heuning

• 4 eetlepels botter

Só maak jy

1. Sny die spek in stukkies en braai dit vir 5 minute in olyfolie in ’n pan.

2. Kap die dadels in stukkies en meng dit met die spek en olie in die pan. Hou eenkant.

3. Sny die botterskorsie middeldeur en verwyder die pitte. Maak snye in die breedte van die botterskorsie se skil, maar wees versigtig om nie heeltemal deur te sny nie – die sny moet net so driekwart deur die skil gaan.

4. Gebruik ’n teelepel en druk die dadel-en-spekmengsel versigtig tussen die snye in. Skraap enige pansappe bo-oor die botterskorsie uit. Bedruip met die heuning en botter.

5. Pak met die snye na bo in ’n gietysterpan of foeliebak en plaas in die ketelbraai vir 30 minute. Maak die ketelbraai se deksel toe en skep die sous wat vorm, deurentyd bo-oor die botterskorsie. Die botterskorsie is gereed as die bokant effens bros en die binnekant sag is.


Karringmelk- mieliebrood

Vir: 1 middelslag-brood | Voorbereityd: 10 minute | Kooktyd: 30 minute 

Jy benodig

• 1 koppie polenta of mieliemeel

• 1 koppie koekmeel

• 3 eetlepels suiker

• 1½ teelepel bakpoeier

• ¼ teelepel koeksoda

• 1 teelepel sout

• 1 koppie karringmelk

• 5 eetlepels botter, gesmelt

• 2 eiers

• 2 koppies kersietamaties, middeldeur gesny

• 5 stingeluie, gekap

• 1 eetlepel olyfolie

Só maak jy

1. Smeer ’n 23 cm-gietysterpan deeglik met botter.

2. Meng die polenta (of mieliemeel) in ’n bak met die meel, suiker, bakpoeier, koeksoda en sout.

3. Klits dan die karringmelk, gesmelte botter en eiers saam en roer dit deur die mieliemeel-mengsel. Skraap dit uit in die pan en maak die bokant gelyk.

4. Meng die tamatie, stingeluie en olyfolie saam en sprinkel dit oor die beslag in die pan.

5. Kry die kole in ’n ketelbraai gereed vir die indirekte kookmetode deur die kole aan die kante te pak en ’n spasie in die middel onder die rooster oop te laat. Plaas die pan oop in die ketelbraai en maak dit toe met die ketelbraai se deksel. Bak vir 25-30 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom. (Of bak in ’n warm oond van 200 ºC.) Laat die brood vir 15 minute afkoel voordat jy dit sny en warm voorsit met botter.

WENK
Vervang die tamaties met 1 koppie mieliepitte wat met 2 eetlepels Marmite en 2 eetlepels gesmelte botter gemeng is. 


Oreo-koekstruif

Vir: 6 | Voorbereityd: 20 minute

Jy benodig

• 3 pakkies (90 g elk) sjokolade-kitspoeding

• 1,3 l yskoue melk

• 2 pakkies (152 g elk) Oreo-koekies

• 6 eetlepels botter, gesmelt

• 230 g roomkaas

• 2 eetlepels melk

• ¼ koppie koue suiker

• 1½ koppie geklitste room (vars of Orley Whip)

• 1½ koppie sjokoladesplinters of -stukkies

Só maak jy

1. Maak die kitspoeding volgens die instruksies op die pakkie. Hou dit eenkant.

2. Plaas 36 Oreo-koekies in ’n sak en druk dit fyn met ’n koekroller. Meng die gesmelte botter daarby. Versprei die krummels in bak van 22 x 33 cm of verdeel die mengsel tussen 6 kleiner bakkies. Plaas in die yskas.

3. Klits die roomkaas, melk en suiker tot goed gemeng. Vou die geklitste room by die roomkaas in.

4. Krap die helfte van die roomkaas uit op die krummellaag en versprei dit met ’n spatel. Smeer die kitspoeding bo-oor die roomkaas. Eindig met ’n laag roomkaas. Sprinkel die sjokoladesplinters oor en versier met ekstra Oreo-koekies en sjokoladebolle