Jy benodig

(genoeg vir 4)  

  • sonneblomolie vir diepbraai 
  • 8 aartappels, in dun vingers gesny (met skil en al)

VIR DIE TARTARESOUS

  • ½ koppie mayonnaise 
  • 1 eetlepel ingemaakte kappertjiesaad 
  • 2 eetlepels piekelkomkommer, fyngekap 
  • 1 hardgekookte eier, fyngekap 
  • 1 eetlepel vars pietersielie 
  • 2 eetlepels gekapte ui

VIR DIE VIS  

  • 1¾ koppie bruismeel 
  • 3 teelepels bakpoeier 
  • ’n knippie sout 
  • 1 blikkie (330 ml) bier 
  • 4 stokvisporsies van 300 g elk, met of sonder vel en grate

Só maak jy

1. Maak die tjips Verhit die olie in ’n groot pot tot dit dadelik begin borrel as jy ’n aartappelskyfie daarin gooi. Braai die tjips vir sowat 10 minute in die olie tot dit mooi kleur kry. As die olie rook, is dit te warm. Skep die gaar tjips met ’n gaatjieslepel uit en dreineer dit op kombuispapier. Hou dit eenkant.

2. Maak die tartaresous Meng die mayonnaise, kappertjiesaad, piekelkomkommer, eier, pietersielie en ui, en geur dit met sout en peper.

3. Maak die vis Meng 1½ koppie van die meel met die bakpoeier en ’n knippie sout en roer die bier met ’n vurk by. Moenie al die bierborrels uitklits nie – dié beslag kan eerder nog klontjies hê.

4. Geur die res van die meel (¼ koppie) goed met sout en peper. Rol elke visfilet in die gegeurde meel tot dit oraloor bedek is, en skud die oortollige meel af. Doop elke stukkie vis in die beslag en laat die oortollige beslag afdrup. Braai die visstukke twee-twee vir 5-10 minute in ’n pan tot hulle goudbruin aan albei kante is. Sit die gaar vis op kombuis-papier sodat die olie kan dreineer.

5. Gooi die tjips weer in die olie en bak dit tot dit mooi goudbruin en bros is.

Weg Ry & Sleep sê
Kabeljou en skelvis werk ook lekker vir hierdie resep.