Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 15 minute

Jy benodig

  • 100 g vars kokosneut, fyngerasper
  • sap en gerasperde skil van 1 lemmetjie
  • 4 eetlepels vars koljanderblare, gekap
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 stuk vars borrie van 10 cm, fyngerasper (of gebruik 1 teelepel borriepoeier)
  • 6 koningklipfilette van 150 g elk
  • sout na smaak
  • swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Kry die kole gereed vir braai (of voorverhit die oond tot 180 ºC).

2. Meng die gerasperde kokosneut, lemmetjiesap en -skil, koljander, rissie, knoffel en borrie saam in ’n mengbak.

3. Pak die visfilette elkeen op ’n stuk foelie wat groot genoeg is sodat jy die stuk vis daarin kan toedraai. Geur die filette na smaak met sout en peper en skep dan gelyke hoeveelhede van die kokosneutmengsel bo-op elkeen. Sorg dat die kokosneut dig gepak is en draai elke filet in sy foelie toe.

4. Braai die vispakkies oor matige kole op ’n rooster (of sit dit op ’n bakplaat in die oond en bak vir ongeveer 12 minute) totdat die vis gaar gestoom is.

5. Sit dit dadelik voor met rys en ’n lekker groenslaai.