Vir 8 | Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 20 minute


Die bruinsuiker in dié resep “beskerm” die vis en verrig wondere vir die geur. Moenie bekommerd wees nie – dit loop net af en jou vis sal nie soos borssuiker smaak nie.


Jy benodig

• 1 forel, skoongemaak
• ½-1 koppie taai bruinsuiker
• ’n hand vol houtskaafsels

VIR DIE OOSTERSE SOUS

• 1 klein brandrissie, fyngekap
• 2 cm gemmerwortel, geskil en in vuurhoutjies gesny
• 1 klein hand vol koljanderblare, gekap
• 5 eetlepels sojasous
• 4 sprietuie, fyngekap
• sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen


Só maak jy

1. Verwyder die kop en vlek die forel of sny dit in filette. Gebruik ’n tangetjie om die graatjies te verwyder. Jy kan dit ook doen as die vis gaar is, maar moet net nie vergeet nie!

2. Pak die bruinsuiker in ’n dik laag op die vis se vleiskant en laat dit eenkant staan terwyl jy die kole in die ketelbraai aan die gang kry. Die vis kan ook oornag in die yskas in die suiker lê.

3. Sodra die kole gereed is (louwarm, ongeveer 120 °C), week die skaafsels in water, skep dit uit en druk dit droog. Sit ’n foeliebak onder die roosterelement en gooi die skaafsels daarin. Sit die plat ysterplaat van die ketelbraai daaroor of plaas twee lae dik foelie direk op die rooster (as jy nie ’n ysterplaat gebruik nie). Wag tot die skaafsels begin rook en sit dan die vis met die velkant na onder op die plaat of rooster. Sit die ketelbraai se deksel op.

4. Rook die vis vir 1-2 uur, afhangende van die dikte. Die vis is gaar wanneer dit maklik kan vlok.

5. Meng intussen die sousbestanddele. Sit die vis op ’n houtplank en sprinkel die sous daaroor. Die vis kan warm of koud voorgesit word.

6. As jy dit nie dadelik gaan bedien nie, kan jy die gesmelte bruinsuikerstroop met kombuispapier afvee, die vis in kleefplastiek toedraai en dit vir tot drie dae in die yskas hou.


WENK: As die Oosterse geure nie in jou smaak val nie, kan jy die vis ook net met suurlemoen, ’n skeppie suurroom en gekapte vars dille voorsit.