Waar daar ’n rokie trek...

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • 1 forel, skoongemaak
  • ½-1 koppie taai bruinsuiker
  • ’n hand vol houtskaafsels

VIR DIE OOSTERSE SOUS

  • 1 klein brandrissie, fyngekap
  • 1 stuk gemmerwortel van 2 cm, geskil en in vuurhoutjies gesny
  • 1 klein hand vol koljanderblare, gekap
  • 5 eetlepels sojasous
  • 4 sprietuie, fyngekap
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

Só maak jy

1. Verwyder die kop en vlek die forel of sny dit in filette. Gebruik ’n tangetjie om die graatjies te verwyder. Jy kan dit ook doen as die vis gaar is, maar moet net nie daarvan vergeet nie!

2. Pak die bruinsuiker in ’n dik laag op die vis se vleiskant en laat dit eenkant staan terwyl jy die kole in die ketelbraai aan die gang kry. Die vis kan ook oornag in die yskas in die suiker lê.

3. Week die skaafsels in water sodra die kole gereed is – louwarm (ongeveer 120 ºC.) Skep die skaafsels uit en druk dit droog. Sit nou ’n foeliebak onder die rooster en gooi die skaafsels daarin. Sit die ketelbraai se plat ysterplaat daaroor of plaas twee lae dik foelie direk op die rooster. Wag tot die skaafsels begin rook en sit dan die vis met die velkant na onder op die plaat of rooster. Sit die ketelbraai se deksel op.

4. Rook die vis vir 1-2 uur, afhangende van die dikte. Die vis is gaar wanneer dit maklik kan vlok.

5. Meng intussen die sousbestanddele. Sit die vis op ’n houtplank en giet die sous daaroor – dit kan warm óf koud voorgesit word. As jy dit nie nou bedien nie, kan jy die gesmelte suikerstroop met kombuispapier afvee, die vis in kleefplastiek toedraai en dit vir tot drie dae in die yskas hou.

Ry & Sleep sê
As die Oosterse geure nie in jou smaak val nie, kan jy die vis ook net met suurlemoen, ’n skeppie suurroom en gekapte vars dille voorsit