TOERINLIGTING

Datums: 31 Mei-13 Junie 2018

Hoe lank is die toer? 14 dae; 13 aande

Van waar vertrek die toer? Luderitz, Namibië

Eindpunt: Etosha, Namibië

Koste: R19 650 p.p. (10% ekstra vir enkelbesprekings)

BESPREEK NOU!

Bespreek jou plek vir 2018 – bel Mpafa by 0445350065; of stuur ’n e-pos na info@mpafa.com. Gaan na www.mpafa.com vir reisplanne.


Die toerprys sluit in:

• ’n Toerleier, veldgids en professionele fotograaf
• Alle verblyf
• Alle parktariewe
• Drie heerlike etes per dag
• Tweerigtingradio’s

Waarvoor sorg ek?

• Kameratoerusting
• ’n 4x2 met grondvrye hoogte en ’n ewenaarslot is piekfyn asook ’n sportnutsvoertuig met ’n viertrekstelsel
• Brandstof
• Drankies en snoepgoed
• Jou eie beddegoed/Mpafa verskaf en slaan die tente op

Die toer in 'n neutedop:

Dag 1 & 2: Lüderitz

Ons kom tussen 1 nm. en 2 nm. bymekaar en in die namiddag begin ons met die eerste fotografiepraatjie. Die volgende oggend toer almal saam na Kolmanskop en die middag is joune.

Dag 3: Kanaän

Ons vertrek vroegoggend uit Lüderitz en stop net voor Aus by die wildeperde se waterkrip, Garub. Hiervandaan vertrek ons na die plaas Kanaän, waar ons die eerste rooi duine sal teëkom. Die uitsig van die kampplek af is sonder gelyke en hier sal ons – en die blafgeitjies – die sonsondergang geniet.

Dag 4&5: Sossusvlei

Die groep reis met die D707 na Sesriem – ons sal plek-plek stop vir foto’s. Ons besoek die Sesriemcanyon met sy interessante konglomerate en wag op die sonsondergang by die Elim-duin. Op dié dae is daar genoeg tyd vir individuele sessies met die foto-instrukteur. Kyk vroegoggend vanaf Duin 45 hoe die son opkom en beleef Dooievlei en Sossusvlei in al sy glorie.

Dag 6 & 7: Swakopmund

Ons volgende stopplek is Solitaire voordat ons Noord draai na Walvisbaai en Swakopmund. Hier bly ons in formele en suite-kamers. Aktiwiteite vir die volgende dag is nie by die prys ingesluit nie. Ons vertoef twee nagte in Swakop.

Dag 8: Spitzkoppe 

Hier kan ’n mens die vlaktes met jou kamera invaar vir hope fotogeleenthede. Indien jy kans sien, kan jy tot by die rotskuns in die gebied se koppies klim.

Dag 9: Madisa / Twyfelfontein

Ná sonsopkoms vertrek ons na die Madisa Camp in Damaraland. Ons kan heelpad op die uitkyk wees vir die ontwykende woestyn-olifante en -renosters. Die kamp is tussen massiewe rotse met ’n mooi uitsig op die Gauntegabrivier. Indien die tyd dit toelaat, kan ons Twyfelfontein met sy indrukwekkende graverings besoek.

Dag 10: Etosha (Olifantsrus)

Weer eens vat ons ’n mooi pad met heelwat fotogeleenthede. Ons maak tenk vol op Kamanjab. Hiervandaan is dit ongeveer 70 km teerpad tot by die Galtonhek waar ons Etosha aan die westekant ingaan. Ons kamp by Olifantsrus; dis selfsorg met net tien staanplekke en geen lodge nie. Die kamp het ’n verligte watergat.

Dag 11,12 & 13: Etosha (Halali)

Ná ’n vroeë ontbyt is dit 200 km deur die park tot by Halali waar ons drie nagte vertoef. Ons het oorgenoeg tyd om meer oor die fynere kuns van ISO en sluiterspoed te leer terwyl diere model speel.

Dag 14: Ons sê totsiens.

... net tot die volgende toer.

EK IS ’N AMATEUR...

Dit maak nie saak of jy en jou mik-en-druk nog huiwerig is en of jy al gekonfyt is nie; dié fototoer kan jou vaardighede slyp. Ons sal jou leer oor komposisie, beligting en ’n hele paar fototruuks wys – langs die pad of gesellig om ’n kampvuur.