Kom saam op ‘Weg’ se gewildste fototoer!
VIDEO: Shelley Christians

Kom saam met Weg en Bhejane 4x4 Adventures op ’n 11 dae lange toer na van Suider-Afrika se mees ikoniese bestemmings en verbeter langs die pad jou fotografievaardighede. Hoogtepunte sluit in: Kubu-eiland, Tsodilo-koppies, die Okavangorivier en Victoriawaterval.

’n Professionele fotograaf reis saam met die groep en leer jou meer oor jou kamera en die tegniese aspekte. Jy gaan terugkeer huis toe met klassieke foto’s om uit te druk en te raam en die kennis om jou stokperdjie na die volgende vlak te neem. 

Bespreek nou!
Bespreek jou plek: bookings@bhejane.com; 082 724 0442; 044 535 9033

TOERBESONDERHEDE

Wanneer? 15-25 Maart 2019; 14-24 Julie 2019

Hoe lank is die toer? 11 dae, 10 nagte

Vertrek vanaf Letlhakane, Botswana

Hoeveel kos dit? R15 750 p.p. (verblyf in tente)

DIE TOERPRYS SLUIT IN

• ’n Toerleier en veldgids • Fotografie-instrukteur • Alle verblyf • Alle parktariewe • Drie maaltye per dag • Tweerigtingradio’s

Botswana

WAARVOOR SORG EK?

• Kameratoerusting • Eie voertuig • Brandstof en grenstariewe • Drankies en snoepgoed 

REISPLAN

Dag 1: Ons kry mekaar in Letlhakane, Botswana en reis tot op die plat vlaktes van die Makgadikgadipanne waar ons by Kubu-eiland oornag. Fotogeleenthede sluit in kremetartbome wat aan granietrotse klou en die panne wat tot op die horison strek. Die professionele fotograaf is beskikbaar om te help. 

Dag 2: Sonsopkoms by Kubu-eiland is iets waaroor fotograwe droom. Ons probeer die perfekte sonsopkomsfoto neem met ’n koppie koffie in die een hand en ’n kamera in die ander. Ná ontbyt mik ons in die rigting van Maun, waar ons twee nagte lank langs die Botetirivier bly. Die mooi roete oor die Makgadikgadipanne bied nog fotogeleenthede, terwyl daar volop voëls langs die Botetirivier is wat laatmiddag model kan speel. 

Verken Botswana

Dag 3: Vanoggend het jy die geleentheid om ’n besigtigingsvlug oor die Okavangodelta te neem. (Dis ’n opsionele aktiwiteit wat ekstra kos, maar dit word beslis aanbeveel.) Of jy kan foto’s van Maun en sy mense neem. ’n Kort lesing die middag sluit ook tyd in vir een-een-ontmoetings met die fotograaf. Gesels oor enige foto- of kamera-verwante vrae wat jy nog het, of kyk saam na van die foto’s wat jy tot dusver geneem het.

 Dag 4: Van Maun af ry ons verder noordwaarts al langs die westelike rand van die delta, tot by Tsodilo-koppies. Ons hou stil vir middagete langs die Okavango-pypsteel. 

Wanneer ons daar aankom, staan ons kamp reeds en prut die potte al. Hierdie boskamp is die ideale plek om sterfotografie te beoefen. 

Dag 5: Ná ontbyt maak ons ’n draai by die museum by Tsodilo-koppies, kyk dan na die gewilde rotskuns en eet ’n piekniekmiddagete by hierdie Wêrelderfenisgebied. 

Dan verlaat ons Botswana deur die Mohembo-grenspos en slaan kamp op by Ngepi in Namibië. Ons huis vir die volgende drie nagte lê op die oewer van die Okavangorivier, in ’n rivierwoud. Plons in die drywende swembad, ontspan en geniet jou omgewing. 

Neem beter foto’s in Botswana! Foto: Shelley Christians

Dag 6: Vandag toets ons ons wildkyk- en fotografievaardighede in die Mahango-wildreservaat, en eet ’n lekker piekniekmiddagete. Ons fokus op natuurfotografie. Mahango het meer as 300 voëlspesies en vier van die Groot Vyf kom hier voor. 

Dag 7: Ons vat dinge ’n bietjie rustiger vandag. Slaap laat, ontspan in die kamp, of maak ’n draai by die Buffalo-deel van die Bwabwata- nasionale park vir ’n interessante stukkie militêre geskiedenis en grootwild. Jy kan ook deelneem aan voëlkyk- of visvanguitstappies, mokoro-vaarte of ’n uitstappie na die Popa-waterval of nabygeleë dorpies. (Op jou eie onkoste.)  Laatmiddag doen ons ’n sonsondergangvaart op die Okavangorivier. 

Dag 8: Ons reis deur die Zambesistreek terug tot in Botswana na ons volgende kamp buite Kasane, waar ons vir die laaste drie aande gebaseer gaan wees. 

Dag 9: Ons vertek ná ontbyt op ’n daguitstappie na die Victoriawaterval, net anderkant die grens in Zimbabwe. Nadat jy oopmond na die watervalle gekyk het, kan jy verder rondkyk en inkopies doen op die dorpie Victoria Falls. As jy ’n ander blik op die waterval wil kry, bespreek ’n helikopter-bollemakiesie (nie ingesluit by die toerprys nie). 

Verken Botswana

Dag 10: Vandag verken ons die Chobe- nasionale park, eers op ’n drie uur lange oggendwildrit en dan op ’n drie uur lange bootvaart op die Choberivier die middag. Dis een van Afrika se top-natuurervarings. Vanaand is ons laaste aand saam om die kampvuur. 

Dag 11: Ná ontbyt groet ons mekaar en keer huiswaarts. 

BESPREEK NOU!

Bespreek jou plek: bookings@bhejane.com; 082 724 0442; 044 535 9033

EK IS ’N AMATEUR...

Dit maak nie saak of jy en jou miken-druk nog huiwerig is en of jy al gekonfyt is nie; dié fototoer kan jou vaardighede slyp.

Verken Botswana