Hoe werk dit?

Dis ’n ordentlike slenterstap oor vier dae en vier nagte saam met Venture Beyond se kundige gidse. Jy bring net jou klere, stapskoene en -stok, kamera, verkyker en dagsak.

Ons sorg vir die res: verblyf, alle etes, toegangstariewe vir die natuurreservate en vervoer tussen die verskillende staproetes. As jy tot op Plettenbergbaai vlieg, pik ons jou by die lughawe op.

Waar bly ek?

Daar is twee verblyfopsies. Bly in drie- of viersterlodges in Plet of kamp in styl. Ons sorg vir luukse tente met kampbeddens, matrasse, linne en handdoeke. Ons kampplekke is in die Diepwalledeel van die Knysnawoud en in Nature's Valley. Al twee kampplekke het uitstekende ablusiegeriewe met warm storte.

Hoeveel kos dit?

• Glanskamp kos R9 850 p.p. wat deel.

• Die lodge-opsie kos R11 750 p.p. wat deel, enkelreisigers betaal ’n bykomende 30%

Kamp saam

Dag 1 Ons kom laatmiddag by die Diepwallekampterrein bymekaar, en geniet aandete rondom die kampvuur.

Dag 2 Ná ontbyt begelei ons gids ons op die Kringe in die bos-roete deur inheemse woud en fynbos. Ons eet ’n piekniekmiddagete by Jubilee Creek of Diepwalle en stap die middag deur die Diepwalledeel van die Knysnawoud.

Dag 3 Vandag stap ons die 12 km van Nature’s Valley af tot by Keurboomstrand. Ons stap langs die mooi kuslyn en eet middagete by Forest Hall. Ons sluit die dag af met aandete rondom die kampvuur in Nature's Valley.

Dag 4 Vandag se 8 km lange Kalanderpadroete kronkel weer deur mooi inheemse woud en fynbos en bied asemrowende uitsigte oor die vallei, die Tsitsikammabergreeks en die see. Ons stap tussen geelhoutbome, kraanvoëlblomme en welige varings deur.

Dag 5 Die Robberg-skiereiland wag vandag vir ons. Dis geleë in ’n mariene bewarea en ons sien dalk dolfyne, boggelrugwalvisse, robbe of dalk ’n witdoodhaai. Hier is ook volop seevoëls.*

2018-DATUMS

9-13 Augustus

20-24 September

11-15 Oktober

29 November-3 Desember

... of bly in ’n lodge

Dag 1 Meld laatmiddag by die Whalesong Hotel aan, waar ons die toerleier ontmoet en agterna aandete geniet.

Dag 2 Sien Dag 3 op die Kampprogram hiernaas. (Keurboomstrand na Nature's Valley). Ons slaap by vanaand by die Whalesong Hotel (of ’n alternatief ).

Dag 3 Sien Dag 2 op die Kampprogram hiernaas (Kringe in die bos-roete). Ons bly vanaand by die Bitou River Lodge (of ’n alternatief ), bekend as ’n voëlkykkol langs die Bitouvleiland. Vir aandete braai ons op die rivieroewer.

Dag 4 Sien Dag 4 op die Kampprogram hiernaas. (Kalanderpadroete). Middagete is by die Bramon-wynlandgoed en ons sluit die dag af met ’n skemerkelkievaart op die Keurboomsrivier.

Dag 5 Dis ons laaste stapdag, en ons stap vanoggend al om die Robberg-skiereiland. Ons geniet ’n piekniekmiddagete hier, en dan is dit tyd om te groet.*

2018-DATUMS

1-5 November

15 -19 November

* Die program kan op die laaste dag aangepas word as jy op die Keurboomsrivier wil roei of perdry – dis ekstra.
Bespreek nou jou plek

Stuur e-pos na info@venturebeyond.co.za; bel 064 654 3284 of gaan na venturebeyond.co.za