TOERINLIGTING

Wanneer?

22-30 November 2018

Hoe lank is die toer? 9 dae, 8 nagte

Vertrekpunt: Ulundi, KwaZulu-Natal

Eindpunt: Ithala-wildreservaat

Blyplek: Formele verblyf

Hoeveel kos dit? R18 450 p.p. Enkelpersone betaal 30% ekstra.

WAT MOET EK BRING?

• Jouself en jou gesin
• ’n 4x4 met goeie grondvryhoogte (jy betaal self die petrol)
• Drankies en versnaperinge
• Kampstoele

DIE TOERPRYS SLUIT IN

• ’n Toerleier en ervare veldgids
• Drie etes per dag
• Alle verblyf in chalets of gastehuise
• Alle parktariewe
• Tweerigtingradio’s

REISPLAN-HOOGTEPUNTE

Dag 1 Ons ontmoet in Ulundi en maak ’n draai by die Ulundi-slagveld. Ná ’n piekniekmiddagete mik ons vir die hartjie van die Zoeloe-koninkryk. Ons roete vat ons van teer- na grondpad voor ons die iMfoloziwildreservaat binnegaan.

Dag 2 Danksy ’n proefprojek kan ons ’n 4x4-roete ry wat nog nie oop is vir die publiek nie. Dié ervaring bied jou die geleentheid om die dag in ’n bewaringsgebied vir wit- en swartrenosters deur te bring. Die reservaat se 360 voëlspesies sal voëlkykers en hulle verkykers vasgenael hou.

Dag 3 Ná ontbyt en ’n wildrit deur Hluhluwe, ontmoet ons by KZN Wildlife se Wildvasleggingen-eeufeessentrum waar die gids Frank Carlisle sy kennis oor renosterbewaring met ons deel. Hierna ry ons oos in die rigting van die kus en St. Lucia. Ná ’n vroeë aandete doen ons ’n aandwildrit in ’n oop wildkykvoertuig – al langs die oostelike oewer van die St. Lucia-meer tot in die iSimangaliso-vleilandpark.

Dag 4 Geniet ’n bietjie kuiertyd – ry perd op die strand, loer in by ’n krokodilsentrum, ry na Kaap Vidal of gaan snorkel. Of ontspan bloot in St. Lucia. Ons kom later weer bymekaar vir ’n skemerkelkievaart op die meer.

Dag 5 Ons mik noord tot in iSimangaliso en ry al langs die St. Lucia-meer se westelike oewer. Hierdie gebied was eens op ’n tyd die tuiste van plantasies, maar is gerehabiliteer en wemel nou van natuurlewe. Ons vul ons voorraad en brandstof aan in Hluhluwe en ry dan verder noord tot by Thonga Beach Lodge – ons slaapplek vir die volgende twee nagte. Ná aandete op die strand stap ons tot by Bhanga Nek om te kyk of ons seeskilpaaie wat nesmaak te siene kan kry.

Dag 6 Ná ontbyt ry ons met ’n sanderige pad tot by die Kosibaai-riviermonding om na die tradisionele visfuike te kyk wat al eeue lank deur plaaslike vissermanne gebruik word. Die plan vir die dag sluit ook snorkel, swem en ’n piekniek in.

Dag 7 Vandag ry ons tot by die Tembe-olifantpark en kom hopelik van dié ontwykende reuse van Maputaland teë. Die olifante van Tembe is amptelik van die grootste slagtandolifante in Afrika. Van hier af ry ons na die Ithala-wildreservaat waar ons die volgende twee nagte deurbring.

Dag 8 Verken vandag Ithala teen jou eie pas. ’n Bosstappie saam met ’n gids kan gereël word, of jy kan ’n wildrit doen. As die weer dit toelaat, bring ons ons laaste aand in die boma rondom die braaivleisvuur deur.

Dag 9 Jy kies koers huis toe met ’n nuwe begrip van Shaka se wêreld, meer kennis oor renoster- en seeskilpadbewaring en ’n breë glimlag!

JA, EK WIL GAAN!

Bespreek jou plek by 044 535 0065 of info@mpafa.com – gaan na mpafa.com vir volledige reisplanne.