Is jy ’n kampgroentjie? Camp Master deel die tien basiese stukke toerusting wat jy moet aanskaf as jy en jou gesin die lekkerte van ’n tentvakansie wil leer ken.



1. Jou huis op reis 


’n Tent gaan miskien jou grootste uitgawe wees, maar jy hoef nie ’n fortuin op ’n seilpaleis uit te gee nie. Begin met ’n basiese nylonkoepeltent, want dis goedkoper en ligter as ’n seiltent en heeltemal opgewasse vir gewone kampuitstappies. 


2. Sit diep  


Dit klink dalk lekker om op ’n boomstomp of rots te sit – jy kry vir ’n kort rukkie daardie Camel Man-gevoel – maar ná ’n rukkie begin jou agterstewe kla. ’n Groot opvoukampstoel is deesdae amper so goedkoop soos daardie klein driepootstoeltjies. Kry een met ’n rugleuning, armleuning én ’n houer vir jou koue bier.


3. Slaap salig    


Jy kan maklik jou hele dertiende tjek op ’n slaapsak blaas. Los eerder die duur gansdonssoort vir die hardebaarde, want sintetiese vulsel is meer as genoeg as jy op ’n plek kamp waar dit nie te koud word nie. 



4. Gooi ’n skaduwee


Jy gaan nie in jou tent kan sit en kuier nie en jy kan nie voorspel of daar ’n skaduboom op julle kampplek wag nie. Kry ’n sonskerm of gazebo wat jy langs jou bakkie kan staan maak, sodat  jy onder skadu kan sit met die motor radio byderhand.


5. Gooi vir jou ’n mat uit


Moenie heeldag in die stof en as sit en dan met dieselfde voete in die bed klim nie. ’n Behoorlike grondseil gaan nie net jou tent beskerm nie, maar ook jou slaapplek skoon hou. 



6. Maak vuur


Om te kamp sonder om te braai is soos ’n boereworsrol sonder ’n worsie of 7de Laan sonder Hilda. Meeste kampplekke het braaiers – maak seker jy pak ’n sak brikette in. 


7. ’n Koel komkommer


’n Sagte koelboks is goedkoper en pas makliker in die Yaris se bagasiebak, maar dit kan wraggies nie kers vashou by ’n elektriese koelboks nie. Wanneer ’n mens kamp soek jy koue bier en vars kos – ’n elektriese koelboks sal help.  


8. Hoog en droog


Moenie jou handdoeke en klere oor die naaste boom hang nie. ’n Opvoubare droograk gaan seker maak die klere bly hoog, droog, skoon en netjies. 


9. Die kinderkamer


Dié tentjie is nie net lekker vir vakansies nie, maar kan ook by die huis gebruik word vir ’n kamp-avontuur in die tuin. 


10. Sitplek vir kleingoed


Laat sus op haar eie stoeltjie sit, anders gaan jy joune moet deel!  


Klik hier vir Camp Master se volledige aanlynkatalogus.