Ons eerste kenner, Johann Groenewald, is die besturende direkteur van Tracks4Africa en Riaan Haasbroek van Bushward Safari’s.  

1. KRY DIE PAPIERWERK REG 

“Die papierwerk en jou finansies is die twee belangrikste dinge wat jy moet gereed hê voordat jy toer,” sê Johann. 

“Want sonder al die nodige dokumente gaan jy eenvoudig moet tuis bly of by die grens omdraai.” 

Die AA se webwerf is ’n uitstekende hulpbron vir al die dokumentasie wat jy vir ’n oorgrenstoer met ’n voertuig sal benodig, asook T4A se gidse vir Namibië en Botswana. 

Behalwe ’n geldige paspoort moet jy sorg dat jy jou voertuig se registrasiesertifikaat, ’n brief van jou bank wat jou toestemming gee om op jou beplande datums landuit daarmee te reis (indien die voertuig gefinansier is), en ’n bewys van jou versekering daarop hê.

“Maak ook seker jy weet wat gebeur in geval van ’n ongeluk. Herwin jou versekeringsmaatskappy die voertuig op die toneel, of moet jy hom self tot by die naaste grenspos kry?” 

Riaan voeg by dat volledige geboortesertifikate vir kinders ’n moet is. “En wat voertuie betref, moet jy nie probeer om met jou pa of jou vriend se bakkie oor die grens te kom sonder ’n toestemmingsbrief én afskrif van die eienaar se ID nie.” 

Hy sê ook dat jy ’n lys moet maak van jou elektroniese toerusting en dit op die grens verklaar. “ ’n Mens dink doeane kyk nie hiervoor nie, maar ek is onlangs voorgekeer oor ’n tabletrekenaar op my sitplek. Gelukkig het ek my elektronika verklaar toe ek die land verlaat het en hoef toe nie onnodig invoerbelasting daarop te betaal nie,” sê hy. 

2. KRY JOU FINANSIES IN ORDE 

Mense se begrotings verskil, maar Johann sê jy kan voor jou toer redelik akkuraat bepaal hoeveel jy op brandstof en verblyf gaan spandeer. “Jy weet mos min of meer waar jy gaan oornag en hoeveel kilometer jy per liter brandstof kry. Wanneer ek my roete beplan, gebruik ek hierdie inligting saam met die afstande en padtoestande wat ek verwag om vir my koste te begroot.” Dis baie belangrik om die plaaslike brandstofpryse te gebruik, voeg hy by, en nie alles in rand teen Suid-Afrikaanse pryse te bereken nie. 

Riaan sê hy trek dikwels kontant in die buiteland, daarom sorg hy voortydig dat sy bank weet hy gaan reis en dat sy daaglikse limiete hoog gestel is.

Dan moet jy ook bepaal hoeveel kontant om te vat, waar jy met ’n kaart kan betaal én ook seker maak wat is die situasie met plaaslike valuta. “Namibië is byvoorbeeld maklik, want rande word oral aanvaar en jy kan byna oral brandstof op jou kredietkaart betaal, maar dis ’n ander storie in Zambië, en dis boonop moeilik om kwatchas in Suid-Afrika te kry.” 

Wanneer hy dus Zambië toe reis, ruil Johann ’n paar kwatcha by die grens en die res in Lusaka. “Jy kan by byna enige grenspos in Suider-Afrika geld ruil. Daar staan oral handelaars rond. Kry net vooraf ’n idee van die wisselkoers en onderhandel met hulle. Ek maak dan seker om net genoeg te ruil om oor die grens te kom en dan die res van my kontant by ’n bank te gaan ruil in ’n stad. 

Verder sê Johann hy sorg dat hy baie krediet op sy kredietkaart het, want in noodgevalle kan hy kontant daarop trek. “Meeste internasionale hotelle in die buiteland het ’n geldruildiens. Jy betaal wel duurder fooie, maar dis kleingeld as jy in die nood is.” 

Riaan sê hy trek dikwels kontant in die buiteland, daarom sorg hy voortydig dat sy bank weet hy gaan reis en dat sy daaglikse limiete hoog gestel is. 

“Plekke in die suide van Mosambiek, soos Ponta do Ouro, aanvaar ook dikwels rande, maar dis nie noodwendig die geval as jy meticais nodig het vir Xai-Xai of Inhambane nie. Dis ook baie moeilik om meticais terug te ruil in Suid-Afrika. Sorg dus dat jy dit in Mosambiek of by die grens doen.” 

3. BEPLAN VIR GENOEG WATER 

Water is uiteraard baie belangrik as jy kamp, maar “deesdae is die kampe so goed ingerig dat jy jou voorraad elke paar dae kan aanvul,” sê Johann. 

Vir kampe met geen water nie, begroot sy gesin sowat 5 liter per dag per persoon (as hulle nie stort nie en met waslappe was). Hy vat ook watersuiweringspille vir uiterste situasies. 

“As ek self ry en by kampe sonder water bly, vat ek so 3 liter drinkwater per dag. Vir drink, kosmaak en skottelgoed was, is 20 liter per maaltyd genoeg as ons in ’n groep is, sê Riaan. “Onthou ook dat jy in plekke soos Botswana en Namibië dikwels brak water kry. Dis piekfyn vir was, maar nie lekker om te drink nie.” 

4. VAT DIE REGTE KOS 

Johann-hulle sluit ’n paar groot dorpe of stede op hulle roete in en vul voorrade daar aan eerder as om alles saam te ry. 

Vir ’n noodsituasie hou hy genoeg kos en water aan boord om vir ’n week te oorleef, indien hulle êrens vasval en moet wag vir hulp. “Hiervoor is ’n groot pak rys, ’n bietjie blikkieskos en sowat 2 liter water per persoon per dag genoeg.” Laastens waarsku Johann dat jy tydens jou roetebeplanning vir enige beperkings op die vervoer van sekere kosse, soos Namibië se Rooilyn, moet kyk. 

Riaan voeg by dat jy navorsing moet doen oor die grensposte waardeur jy gaan ry.  

5. MAAK SEKER JY KAN KOMMUNIKEER 

Nes kos en water, is dit belangrik om jou kommunikasietoerusting te beplan rondom die plekke wat jy sal besoek. 

“Selfoonkommunikasie is deesdae so algemeen dat ons byna oral regkom met ’n plaaslike SIM-kaart.” 

Johann gebruik ook ’n SPOT-satelliet-opsporingstelsel. Indien hy op baie afgeleë plekke gaan reis, laat weet hy vooraf ’n vriend tuis. Dié vriend (wat ook Johann se reisplan sal hê) sal dan sy SPOT-posisie monitor. Indien Johann vir te lank op een plek stilstaan en die vriend vermoed onraad, kan hy plaaslike owerhede of ’n reddingspan kontak met Johann se presiese ligging. 

Die SPOT-toestel het ook ’n SOS-knoppie vir noodgevalle. 

JOHANN SÊ: “ ’n Paar honderd dollar in kontant is jou beste bosversekering!”  


6. BEPLAN JOU NAVIGASIETOERUSTING EN ROETES 

’n GPS-toestel help nie veel as jy nie voor jou toer reeds weet hoe dit werk nie. Wanneer jy jou roete en kampplekke beplan, “ gebruik eerder dieselfde toerusting vir jou beplanning as vir jou toer”, sê Johann, “en dit sluit jou GPS, papierkaart en boeke in.” Dit, meen hy, help jou om ingeoefen te wees met jou navigasietoerusting en ook om jou te oriënteer wanneer jy op toer is. 

Dit help jou ook om reistye uit te werk, wat weer help met kamplogistiek: “Hoe laat moet julle opstaan? Het jy môreaand tyd vir ’n braai of gaan jy laat by die kampterrein aankom? As jou roetebeplanning reg is en jy weet hoe om jou navigasietoestel te gebruik, kan jy sulke vrae baie goed antwoord,” sê Johann. 

Riaan voeg by dat jy brandstofpunte ook baie meer akkuraat op dié manier kan beplan. 

7. WEES GEREED VIR VOERTUIGPROBLEME 

“Jou voertuig is jou lewensaar in die bos,” beaam Johann. “Ek dink daarom dis baie waardevol om ’n basiese bosmechanic-kursus te doen voordat jy gaan toer.” 

Verder vat hy ’n gereedskapkis met ’n klomp basiese gereedskap en onderdele saam. Johann stel ook voor dat jy op forums gaan rondsnuffel vir tipiese probleme wat by jou soort voertuig opduik. “Ek het byvoorbeeld vir jare ’n Disco 2 gery en het gelees dat hulle bekend is vir waterpypprobleme. Ek het dus altyd ’n ekstra waterpyp saamgery – en nodig gekry.” 

Riaan sê hy het allerhande goed in sy “spares box”, van ekstra gloeilampe en sekerings, tot olies, remvloeistof en ’n banddrukmeter. 

Hy ry selfs ekstra nommerplate saam. Verder sê hy dat hy altyd vooruit seker maak wie die diensverskaffers vir sy sort voertuig is waar hy gaan reis. “Daar is dalk nie ’n handelaar naby nie, maar met ’n bietjie navorsing kan jy vasstel watse werkswinkel in die omgewing op jou voertuig kan werk.” 

RIAAN SÊ: “Druk jou verblyfbesprekings vooraf uit. Dit gebeur soms dat ’n kamp en hulle besprekingskantoor nie goed kommunikeer nie en dan is jou bespreking nie op hulle stelsel nie.” 


8. PAK DIE REGTE TENTE EN BESKUTTING 

Johann meen jou keuse van tente en beskutting is ook ’n belangrike deel van jou voorbereiding. “Die vlak van luuksheid hang van jouself af, maar dis belangrik dat jy genoeg beskerming teen die son, wind en reën het. 

Verder is dit ook wys om te beplan rondom die omgewing waar jy gaan kamp. Indien jy tussen Mabua of die Kgalagadi se leeus gaan kamp, is ’n daktent of gehuurde boswoonwa dalk ’n beter roep as ’n eenmantent. 

9. MAAK JOU NOODHULPTAS VOL 

Johann en Riaan het albei ’n noodhulptas met goed soos breëspektrum-antibiotika en pille vir naarheid, diarree en pyn. Volgens Johan is brandwonde die mees algemene probleme wat hulle ondervind, daarom het hulle altyd baie Burnshield-pleisters. 

“Sorg ook dat jy koorsmedisyne het as klein kindertjies saamreis en onthou tog genoeg pleisters. Dis soos Smarties vir hulle – dit maak alles reg.” 

Riaan voeg by dat medisyne vir allergiese reaksies baie bruikbaar is (dit help ook vir sommige insekbyte) terwyl Johann weer altyd ’n fles kamferroom inpak. “Jy sal verbaas wees hoe gou ons ou kantoorhandjies sleg lyk as hulle elke dag tentstroppe en kamptoerusting moet hanteer.” 

Laastens sê hy dis belangrik om seker te maak dat jou inentings op datum is. Jou naaste reiskliniek sal jou kan inlig oor watter inentings nodig is vir jou bestemming. En kan jy onthou wanneer laas jy ’n klem-in-die-kaak-inspuiting gehad het? 

Skep ook ’n noodlys met dinge soos die klinieke, hospitale en insleepdienste waar jy gaan reis, asook noodkontaknommer wat jy tuis kan kontak, stel Riaan voor. “En stel ’n reisplan op met jou roete, verblyf en kontaknommers. Dit gee jy dan vir iemand tuis sodat hulle die besonderhede het indien daar ’n noodgeval is waarvan jy moet weet.” 

10. ONTHOU DIE HIGIËNE 

Johann se laaste voorbereidingswenk is ’n klein dingetjie wat groot probleme kan voorkom. 

“Ons koop altyd ’n botteltjie Dettol-seep en hou dit byderhand in die voertuig. Elke keer as ons deur ’n grenspos gaan, moet almal in die kar hulle hande was. Grensposte het groot konsentrasies mense en enige denkbare virus kan daar rondhang.”  

WENWENK

Maak volkleur, gewaarmerkte afskrifte van al jou dokumente. Jy wil nie ’n oorspronklike paspoort of voertuigdokument vir ’n beampte gee wat dit dalk slegs vir ’n “fooitjie” wil teruggee nie.