foto’s Kyle Kock

Min dinge is so teleurstellend as wanneer jy met ’n groot stuk biltong in jou kampstoel agteroorsit en dan besef jy het nie jou gunstelingbiltongmes saamgebring om deur die sening te sny nie.

Moenie dat dit gebeur nie, want niemand wil daardie geelvetbeesbiltong met een van daai bottermesse in jou kampstel aandurf nie. Hier is vir jou ’n klompie keuses om seker te maak jy het altyd die ware Jakob byderhand.

1. LEATHERMAN SKELETOOL KBX

Biltong en bier

Tim Leatherman se bekende reeks mesmoertange is ’n huishoudelike naam, en met die Skeletool is alles op jou vingerpunte.

Die lem van vlekvrye staal is 66 mm lank en het ’n gladde én getande snykant. Hy het ook ’n verwyderbare knippie waarmee jy hom aan jou gordel kan haak.

En o ja, die meneer het ook ’n botteloopmaker.

Prys: R760 by Awesome Tools.

Ry & Sleep sê
Die Skeletool is beskikbaar in die vlekvryestaalafwerking, groen en blou.

2. 316 KNIVES BILTONG BUDDY

Tuisgemaak

Daar is iets bevredigends omtrent die ontwerp van die Biltong Buddy deur die mesmaker Adriaan de Villiers.

Dit lyk soos ’n klein vleisbyl. Die hef wys egter anderkant toe sodat jy makliker biltong kan kerf.

Die lem is 66 mm lank en van N690- vlekvrye staal, wat beteken hy bly lank skerp.

Prys: R900-R1 200 by 316 Knives.

Ry & Sleep sê
Adriaan kan die mes opdollie met die afwerking en kleure waarvan jy hou.

3. OKAPI-BILTONGMES

Ou staatmaker

Wie ken nié die naam Okapi nie? Dié mes is in Solingen, Duitsland, gebore, ’n stad wat bekend is vir mesmakery.

Meer as 100 jaar lank is Okapi-messe, genoem na die soogdier uit Sentraal-Afrika, na alle Duitse kolonies gestuur.

Die lem (104 mm) is van koolstofstaal en die houthef met harpuis behandel.

Prys: R100 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê
Dié mes maak ’n mens skoon nostalgies.

4. KALIBER-GROOT BILTONGKNIPMES

Groter ís beter

Kaliber is bekend vir sy taai dog bekostigbare messe, en daarom is dit geen verrassing nie dat dié grootmeneer relatief goedkoop is.

Die mes se lem word van duursame staal gemaak en wanneer hy uitgevou is, is die hele mes 180 mm lank.

Prys: R350 by Cape Union Mart.

Ry & Sleep sê
 ’n Kleiner Kaliber-biltongknipmes is beskikbaar, maar hierdie een kos net R100 meer. Gaan eerder vir hom. 

5. ENLAN BILTONG BOK

Spoggerig

As jy hou van ’n mes met ’n bietjie meer flair, kan jy gerus die vervaardiger Enlan se Biltong Bok van nader bekyk. Hy kom met sy eie swart leerskede én ’n netjiese swart houtkissie. Die lem is van vlekvrye staal en die swart hef van sogenaamde pakkahout, wat basies ’n saamgestelde materiaal van hout en plastiek is.

Prys: R300 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê
Dis ’n mes dié wat ’n mens amper te jammer is om te gebruik.

6. OPINEL N°12 EXPLORE

Rowwe Fransman

Sedert sy ontstaan as vervaardiger van messe vir die kleinboere van Savoie, Frankryk, het Opinel ontwikkel tot ’n mesmaker wie se produkte tuis is in bekroonde restaurante.

Hierdie model is gemik op mense met ’n passie vir die buitelewe en is water- en hittebestand. Hy spog selfs met ’n vuuraansteker.

Prys: R800 by Awesome Tools.

Ry & Sleep sê
Die mes het ’n veiligheidsring wat Marcel Opinel in 1955 ontwerp het om die lem in plek te hou wanneer die mes oop- of toegevou is.

7. VICTORINOX-BILTONGMES

MacGyver se mes

As jy dié handelsnaam en kenmerkende kleure nie dadelik herken nie, is daar nie salf te smeer nie. Die Switserse vervaardiger Victorinox, wat wêreldbekend is vir sy veeldoelige weermagmes, vervaardig ook dié outjie wat nommerpas is om jou biltong te kerf. Die lem is 100 mm lank en vlymskerp.

Prys: R330 by Outdoor Warehouse.

Ry & Sleep sê
Die enigste manier hoe hierdie mes meer volmaak kon wees, is as daar ook ’n tandestokkie ingebou was.

8. BUFFALO RIVER-BILTONGMES

Vir die hardebaarde

Buffalo River se reeks kluise en geweerkiste en -sakke is bekend onder jagters, boere en buiteleweavonturiers, maar dié vervaardiger het ook ’n groot reeks messe op die rak. Dié een word spesifiek gemaak vir biltong. Hy is 220 mm lank wanneer jy die lem van 90 mm oopvou.

Prys: R300 by Boys Toys.

Ry & Sleep sê
Die mes sal mooi by jou ander Buffalo River-produkte pas.

9. CRKT 6406-BILTONGMES

Van die VSA

Die Amerikaanse handelsnaam Columbia River Knife & Tool is ewe geskik vir ons mark, wat geen verrassing is nie omdat die mense in die Verenigde State ewe lief is vir ’n stukkie gedroogde vleis.

Die lem is van staal en 64 mm lank. Met die lem uitgevou is die mes 150 mm lank.

Prys: R465 by Blades & Triggers.

Ry & Sleep sê
Die hef is beskikbaar in swart of olyfgroen.

10. SMITH’S CAPRELLA-MES

Links en regs

Hier is nog ’n handelsnaam wat al langer as ’n eeu met ons is. Die Caprella-mes is 75 mm lank en word van vlekvrye staal gemaak.

Die hef is slim ontwerp en beskerm jou vingers ongeag of jy links- of regshandig is.

Prys: R575 by Awesome Tools.

Ry & Sleep sê
Dit lyk dalk nie soos jou tipiese mes nie, maar hy skrik nie vir ’n hardnekkige biltongsening nie.

11. GORTEK-BILTONGMES

Klassieke ontwerp

Hierdie mes se unieke verkoopspunt is sy hertshoringhef en die dwarshoute van nikkelsilwer, geelkopervoering en roesbestande holgeslypte lem.

Die lem is 65 mm lank en die mes as hy oopgevou is 155 mm.

Prys: R400 by Momentum Multiply.

Ry & Sleep sê Dit is ’n tradisionele ontwerp vir ’n mes wat aanklank behoort te vind by die meeste mense.

12. TEKUT-BILTONGMES

Tot teen die been

As jy ’n verantwoordelike verbruiker is wat glo die hele dier moet gebruik word, kan jy met gemoedsrus hierdie mes aanskaf. Die bees is in dié geval nie net verantwoordelik vir vleis vir jou biltong nie, maar ook vir die been wat in die hef gebruik word. Toegevou is die mes 90 mm lank, en wanneer jy die vlekvryestaallem uitvou, rek hy tot 153 mm.

Prys: R330 by Boys Toys.

Ry & Sleep sê
Die ligte hef laat ’n mens nogal dink aan die skeermesse wat die ouens by boetiekbarbiers gebruik om jou wange skoon te krap
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook