1. Tientonner? Baie belangrik is dat wenaste nog in outydse pond-tonne gemeet word en nie in metrieke ton nie. As jy dus ’n 9,5 ton-model koop, kan hy nie 9500 kg hanteer nie, maar slegs 9500 pond (lbs)/2,2 = 4300 kg.


2. Hoe werk die somme? Die eerste ding wat jy moet weet, is wat jou voertuig weeg met drie weke se kos, water en rum en raspberry, want dis dié gewig wat jou wenas moet kan hanteer.

’n Goeie maatstaf is om jou voertuig se GVM (BVM) te vat en dit met 1,5 te maal om by die sterkte van jou wenas uit te kom. GVM (BVM) staan vir gross vehicle mass of bruto voertuigmassa, die totale gewig wat jou gelaaide voertuig mag weeg volgens vervaardiger spesifikasie wat wetlik toegepas kan word. 

Onthou, jy wil eerder effens swaarder gaan as die GVM, want jy sit dalk eendag vasgesuig in modder, of jy moet jou swaer se Cruiser met jou Triton herwin. 

3. Wat van die wenas se gewig? Moet nou ook nie probeer vergoed daarvoor dat jy nooit vir die eerste span uitgedraf het deur die grootste wenas in die land op jou Mazda Drifter te installeer nie. ’n Wenas kan tot meer as 50 kg weeg en jy moet jou voorste vering daarvoor aanpas. Daarby moet jy onthou dat jy nie ’n bakkie kan aanhou swaarder en swaarder laai as jy die vering sterker maak nie – die onderstel en remme is ook net ontwerp vir ’n sekere gewig.


4. Waar monteer jy dit? Voor jy ’n wenas koop, moet jy seker maak dit kan op jou voertuig gemonteer word. Jy kan ’n wenas op verskillende maniere vassit; een van die gewilde maniere is om ’n vervangingsbuffer te koop wat op die onderstel vasbout en ontwerp is om ’n wenas te huisves.



5. Kabel of plasmatou? ’n Plasmatou is nie maar net ’n baie sterk skitou nie; dis gevorderde sintetiese tegnologie wat in laboratoriums ontwikkel is.Dit is duurder as ’n staalkabel maar het ’n hele paar voordele. Dis byvoorbeeld baie makliker hanteerbaar omdat dit ligter en sagter is en kan sonder handskoene hanteer word.

Dit dryf op water en kan makliker ingekatrol word, sonder om met kinkels te sukkel. Dit hou ook nie soveel energie soos ’n staalkabel nie en as dit dus breek, val dit net grond toe eerder as om gevaarlik deur die lug te vlieg.

Dit moet egter deeglik skoongemaak word, veral as jy dit deur die modder of sand gesleep het.

Hierdie tou kan ook soos enige ander tou maklik beskadig as hy oor skerp kliprante skuur. Moenie dadelik jou nuwe wenas se kabel met ’n plasmatou vervang nie – wag eers tot jy dit móét vervang.

Die nadeel van ’n kabel is dat dit baie swaar is. Dit kry ook maklik kinkels wat dit kan verswak en uitrafel as jy spanning opsit. Sulke uitgerafelde drade kan jou baie seer maak. Die enigste voordeel van ’n kabel is dat dit minder onderhoud vereis.