1. Hou toe


Elke keer dat jy die deksel oopmaak, ontsnap koue lug en word dit vervang met warm lug van buite af. Dit maak alles in die koelboks so ’n klein bietjie warmer. As jy koeldrank of bier wil uithaal, besluit vooraf of dit ’n Coke Light of Windhoek Lager sal wees en maak die deksel so vinnig as moontlik oop en toe. 

2. Werk vooruit

Verkoel alles wat jy in die koelboks gaan bêre vooraf. Vleis moet kliphard gevries wees en ander goed moet ’n paar uur in jou yskas afkoel. Jy kan selfs die aand voor jy jou koelboks pak ’n paar ysblokkies ingooi om die binnekant van die koelboks ook af te koel. As jy jou koelboks in jou motorhuis bêre, moet jy dit minstens 24 uur voor jy vertrek uithaal en in ’n koeler vertrek laat oopstaan. Op dié manier sal die hitte binne kan ontsnap. 

3. Laai die ys laaste

Koue lug sak af. Pak dus die ys laaste nadat die kos ingepak is. Die ys bo-op sal smelt en hierdie yskoue water sal tussen alles inloop om dit koud te hou. Maak ook seker als is waterdig verpak en jou vleis verkieslik vakuumverpak. 

4. Gebruik twee koelbokse

Die ideaal is om een koelboks te hê vir koeldranke en goed wat jy gereeld gaan gebruik. Die een sal meer oopgemaak word en dus sy hitte vinniger verloor. Gebruik die ander vir die vleis en ander bederfbare goed. Dit moet so min as moontlik oopgemaak word sodat die koue binne kan bly.

5. Gebruik droë ys

As jy iets bevrore wil hou, gebruik droë ys. Draai dit behoorlik toe in koerantpapier en keer direkte kontak met jou vel, die kos en die binnekant van die koelboks.