Daar is baie 4x4-toerusting om uit te kies. Sommige is gaaf om te hê, hoewel nie noodsaaklik nie. Ander weer is uiters noodsaaklik. Jy kan byvoorbeeld die sterkste en kragtigste 4x4 met die duurste daktent hê, maar met die verkeerde bande gaan jy dalk nie eers jou bestemming haal nie.

Weg Ry & Sleep het 'n lys saamgestel met wat ons glo die vyf belangrikste toerusting-items is. Hier is hulle, in volgorde van belangrikheid: 

1. Tekkies vir die veld 

Bande: Dis uiters belangrik. Nie net om goeie vastrapplek te gee nie, maar ook omdat die regte bande baie meer bestand is teen skade van skerp voorwerpe soos veral klippe. Onthou dat die meeste voertuie verkoop word met bande wat gemik is op teerpadry en die beste brandstofekonomie.

Veelterreinbande (All-Terrains) bied ’n goeie balans tussen teerpadry en die vereistes van ernstige veldry.

2. Die breker van die Bosveld

Bosbrekers: Jy sit nie bosbrekers op jou 4x4 om hom hardekwas te laat lyk nie, maar om praktiese redes. Die eerste rede is dat dit jou voertuig se neus beskerm teen stampe wat wissel van boomstompe en hindernisse, tot vee en wilde diere. As jy ’n donkie met ’n gewone bakkie sou tref, selfs teen 40 km/h, behoort jou verkoeler erg beskadig te wees en sal dit die einde van jou reis beteken. Met ’n bosbreker behoort jy te kan aangaan.

Die ander rede vir bosbrekers is vir herwinnings. Nie net is bosbrekers by uitstek geskik om wen-asse op vas te sit nie, maar hulle dien ook as punte waar jy hooglig-domkragte kan indruk om jou wiele uit ’n gat te lig of om ’n band op ongelyke terrein om te ruil.

3. En lig...

Vering: Jou voertuig se standaardvering is gebou vir min vrag en, laat ons maar eerlik wees, om nie te veel te kos nie. 

Doelgemaakte veldryvering van goeie handelsmerke is gemakliker oor rowwe terrein, kan met veiligheid groter vragte dra en is geneig om minder te breek as jy die bos invaar.

4. Ekstra oemf vir die langpad

Langafstand-brandstoftenks: As jy régtig begin reis, gaan jy jou vroeër of later bevind op ’n plek waar die brandstof skraps is of waar die vulstasie se tenks nie gereeld volgemaak word nie. Dis dan wanneer jy groot probleme kan optel as jy nie genoeg brandstof het om by die volgende vulstasie uit te kom nie.

’n Mens verdwaal ook soms of omstandighede – soos vol riviere – dwing jou om onverwagse draaie te ry. En dis dan wanneer ’n langafstandbrandstoftenk ’n uiters waardevolle item word. 

5. Gee my krag

Dubbel-batterystelsel: Nog voordat jy ’n yskas en ander elektriese toerusting vir jou voertuig laat installeer, behoort jy in ’n goeie dubbel-batterystelsel te belê. 

So ’n stelsel bewaar jou voertuig se hoofbattery om sy primêre funksie – die aan- en afskakel van die enjin – te vervul. Die tweede battery – ’n diepsiklusbattery – word weer ingespan om goed soos die yskas en kampligte aan te dryf.