Foto’s James Garaghty

Sake het aansienlik gevorder sedert die basiese bottel- en skêrdomkragte wat in soveel voertuie van ’n klompie jare gelede te sien was.

’n Trolliedomkrag is waarskynlik die beste opsie vir ’n sedan, maar daarvoor het jy basies ’n volmaakte plat oppervlak nodig – én jy word beperk met hoe hoog jy die voertuig kan lig.

Hoe maak jy met jou veldryer met sy hoë grondvryhoogte wanneer jy tussen niks en nêrens is? Jy gaan iets met ’n bietjie meer staankrag nodig hê. Daarom het ons ’n klompie van hulle onder hande geneem sodat jy een kan kies wat in jou smaak en begroting sal val.

T-Max-plaasdomkrag (60 duim)

Soos in die ou dae

As jy die soort 4x4-bestuurder is wat dit verkies om in die berge oor rotse te klouter eerder as om in die sand te speel is dié 60 duim-model van T-Max die domkrag vir jou.

Hy is met poeierverf behandel, wat beteken hy is duursaam, selfs in uiterste toestande. Hierdie Australiese maatskappy is bekend vir sy taai wenasse en ander 4x4-toerusting – en dié domkrag is geen uitsondering nie.

Prys R2 581 by 4x4 Mega World.

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie een is gebou sodat jy dit op die meeste veldryers met ’n hoë grondvryhoogte kan gebruik.


Desert Products-3 t-lugdomkrag

Makliker kan dit nie

Dié handelsnaam van 4x4 Mega World maak net een domkrag, en daarom maak dit sin dat dit ’n swaargewig is. Jy kan jou kompressor gebruik om hom op te blaas, maar dit neem ongeveer twee minute. Gebruik eerder die keël wat oor jou ryding se uitlaatpyp pas en laat die enjin die harde werk doen.

Die domkrag is een van die groter modelle in ons toets en beslaan ’n groot oppervlakte onder die motor. Hy het ook ’n ingeboude veiligheidsklep.

Prys R2 581 by 4x4 Mega World.

Weg Ry & Sleep sê
Jy bêre hom in ’n groot PVC-sak wat die water en stof buite hou.


Takla-lugdomkrag

’n Ring vir jou pyp

Takla is waarskynlik beter bekend vir sy reeks puik sitplekoortreksels, maar hulle vervaardig ook twee lugdomkragte (onderskeidelik 1,5 t en 2,5 t). Jy kry ’n aparte klep wat jy kan gebruik wanneer jou uitlaatpyp beskadig is. Andersins pas die domkrag se lugpyp danksy ’n spesiale ring aan die voorkant knus in jou uitlaatpyp.

Die Takla-lugdomkrag het ook ’n unieke ontwerp met ’n harde basis én bokant; dus het jy nie ’n beskermende mat nodig wanneer jy hom gebruik nie.

Prys R4 067 by Takla. 

Weg Ry & Sleep sê
Jy moet die grootte en vorm van jou ryding se uitlaatpyp vooraf aan Takla deurgee. 

Hi-Lift-1,5 m-domkrag

Die oorspronklike een

Met dié legendariese naam kan ’n mens nie verkeerd gaan nie. Hi-Lift se gegote domkragte word van die beste materiaal gemaak en die maatskappy doen al langer as ’n eeu sake. Jy kan jou domkrag ook aanpas met ’n verbindingstuk, basisplaat en domkragpunt om by jou behoeftes aan te pas.

Prys R2 650 by Outdoor Warehouse. 

Weg Ry & Sleep sê
’n Mens kan sommer voel dié meneer is gebou om te hou.

Ironman-4x4-lugdomkrag

Ou grootseun

Hierdie is die hardebaard in die groep: Met sy vermoë om tot 4,2 t te lig is hy nét die domkrag vir daardie veldryer van jou wat so swaar toegerus is met ’n gelaaide dakrak en vol watertenks. Hy kan jou motor tot 750 mm hoog lig en sy eenrigtingklep sorg dat hy ure lank opgeblaas bly, indien nodig.

Jy kan hom ook in verskeie omstandighede, waaronder modder en sneeu, gebruik.

Prys R4 795 by 1st Outdoor & 4x4. 

Weg Ry & Sleep sê
Die keël vir die uitlaatpyp is hard; dus moet jy hom hard teen die pyp druk om hom opgeblaas te kry.

Ironman-4x4-hoogligdomkrag

Eenvoudig doeltreffend

Jy kan hierdie domkrag, wat jou voertuig ’n volle 970 mm kan lig, ook gebruik om jou voertuig te stoot of te trek wanneer jy hom moet herwin. Maak net seker jy verstaan hoe om hom te gebruik, want die maksimumkapasiteit is 1 050 kg.

Jy kry ’n beskermende drasak by; dus verweer hy nie aan die buitekant of op die dak van jou veldryer nie.

Prys R2 200 by 1st Outdoor & 4x4. 

Weg Ry & Sleep sê
Ironman 4x4 het ook ’n reeks verskillende passtukke in voorraad om by jou behoeftes te pas.

Trailboss-3 t-Air Jack

Op sy nommer

Hierdie handelsnaam van Outdoor Warehouse vat raak met hierdie be- kostigbare lugdomkrag. Dit is ook die enigste van al die dom-kragte wat ons getoets het wat ’n stel handskoene insluit– jy gaan dus nie met roet uit jou uitlaatpyp aan jou hande sit nie.

Die rubberkeël is buigsaam, wat beteken hy pas op so te sê alle uitlaatpype.

Prys R2 400 by Outdoor Warehouse. 

Weg Ry & Sleep sê
Maak seker die lugpyp is nie gedraai of geknak as jy die domkrag afblaas nie. Anders pas hy nie terug in sy sak nie.

Saftrade-3 t-lugdomkrag

Draai jou sente om

Die Saftrade is die goedkoopste van al die domkragte wat ons getoets het. Hy kan ’n stewige 3 t lig én jy kry twee beskermende matte om die sak teen klippe en skerp dele op jou ryding se onderstel te beskerm.

Op die voorkant van die sak is duidelike aanwysings oor hoe om met die eenrigtingklep te werk.

Prys R2 000 by Saftrade. 

Weg Ry & Sleep sê
Die domkrag word verpak in ’n nuttige drasak sodat jy hom netjies en maklik kan inpak.

1ST Outdoor & 4x4 1stoutdoor4x4.co.za

4x4 Mega World 4x4megaworldonline.com

Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za

Saftrade saftrade.co.za

Takla takla.co.za