’n Voorrit-inspeksie is baie meer as bande skop en tenk volmaak. Ons het by Chris Ingram van R&D Offroad in die Kaap gaan kers opsteek oor waarna jy alles moet kyk. Hou hierdie lys dus byderhand as jy dalk binnekort op vakansie vertrek. En onthou, begin so vroeg as moontlik sodat jy betyds herstelwerk kan laat doen. 

1. Diens hom

Die belangrikste ding wat jy kan doen is om jou ryding gereeld te laat diens. Jou werktuigkundige behoort die meeste meganiese probleme te kan raaksien voordat dit ’n probleem tydens jou reis veroorsaak. Onthou egter om enige vrae of kwellinge (dis nou oor jou voertuig) met jou werktuigkundige te bespreek. 

Enige vreemde geluide of probleme wat die ryding gee, moet jy onder sy aandag bring. Dit is ook ’n goeie idee om saam met ’n werktuigkundige ’n tydjie met jou ryding te spandeer sodat hy vir jou kan wys waar om die basiese goed soos enjin- en ratkasolie na te gaan en hoe jy self klein probleme kan regdokter. 

2. Noodhulp vir jou kar

Kry ’n noodhulpstel vir jou ryding bymekaar. Dit sluit goed soos ekstra olie, verkoelerpype, waaierbande, ’n lugfilter, brandstoffilters, kabelknopers, duct tape, Q20 of enige ander soortgelyke smeermiddel, en ander dinge wat jy moontlik kan gebruik om herstelwerk langs die pad te doen.

Dit word aanvaar dat jy nie alle ekstra onderdele vir jou ryding kan saamneem nie, maar basiese goed soos dié neem nie te veel plek in nie. Jy moet egter ’n stel saamsit wat reg is vir jou ryding en alles waarmee jy vertroud is.

Sorg ook dat jy nooit die huis verlaat sonder ’n “mesmoertang” (soos ’n Leatherman) iewers in jou gereedskapkis nie!Die meeste installeerders van 4x4-bybehore sal jou kan bystaan om die elektronika na te gaan voor jou reis, maar kyk spesifiek hierna:

Kragbron. Gaan jou hoofbattery en ekstra battery na. Kry ’n multimeter en kyk wat is die voltlesings. Kyk ook of alle drade en verbindings nog stewig vas is, of die sekerings (fuses) nog heel is en of jy genoeg ekstra sekerings het. 

Kontak? Gaan al die kragproppe en koppelings vir jou yskas en enige ander elektriese toebehore na. Kyk of dit alles nog werk en ordentlik kontak maak. ’n Kragprop vir jou yskas wat op die eerste sinkplaatpad nie meer kontak maak nie kan jou hele vakansie in die wiele ry. Toets ook jou GPS, omsetter en alle ligte deur dit aan te skakel. 

Kragbron
Kontak

4. Vering en bande

Dit is baie belangrik om seker te maak dat  jou vering en bande nog in ’n goeie toestand is. Uiteindelik is dít wat kontak met die pad verseker. 

Boute en moere. Gaan al die boute, moere en buste van die vering en stuurkomponente na. Maak seker alles is stewig vasgedraai. 

Olielek. ’n Olielek by jou enjin is nie noodwendig die grootste probleem nie, maar ’n skokbreker wat olie lek, is ’n ander storie. Enige olielek aan ’n skokbreker is ’n doodskoot en jy moet dit dadelik vervang. 

Lugdig. As jou voertuig veringlugsakke het, kyk ook mooi of hulle nog hulle lug hou en styf opgepomp kan word. 

Bande. Terwyl jy onder jou voertuig is, kyk sommer ook na die sywande aan die binnekant van jou bande. Dit is ’n plek wat ’n mens geneig is om mis te kyk en wat vir jou groot, onaangename verrassing kan gee. Kyk ook of al die wielmoere styf vas is en dat die band nog genoeg loopvlak op het. 

Lugdig

5. Onder die voertuig

Terwyl jy onder jou ryding is om jou vering en bande na te gaan, kyk ook sommer na die enjin, water- en petroltenks. 

Eerste oogopslag. ’n Visuele inspeksie onder jou ryding kan vir jou baie vertel. Kyk vir olielekke by die enjin. Gaan die brandstoftenk en brandstofpype na. As jou watertenk ook onder die voertuig gemonteer is, gaan dit na vir enige lekplekke of krake. Jy wil nie in die middel van nêrens agterkom al jou water is skoonveld nie. 

By die wiele. Kyk ook vir lekplekke by die remme en rondom die koppelaar se slaafsilinder. Remvloeistof en koppelaarvloeistof wat uitlek kan baie vinnig ’n groot probleem word. 

Olies. Gaan al die enjin-, ratkas en ewenaarolies na. Vind uit by jou werktuigkundige waar om die kragstuurvloeistof, koppelaarvloeistof en remvloeistof na te gaan as jy nie weet nie. In ’n uiterste noodgeval kan enjinolie ook in ’n ewenaar gebruik word as jy dalk al die olie verloor het. Dit is nie ideaal nie, maar dit sal jou by die huis kry. 

Onder die voertuig

6. Buffers en bosbrekers

’n Staalagterbuffer en bosbreker is hoofsaaklik ontwerp om jou voertuig te beskerm en om hom meer bekwaam in die veld te maak. Dus moet jy seker maak alles hier loop ook nog klopdisselboom. 

Sleep. As jy jou ryding gebruik om te sleep, is die kans goed dat die sleepstang aan die agterbuffer vas is. Maak seker alle boute wat die sleephaak vashou is vas en as jy ’n verwyderbare sleepstang het, maak seker dat die pen wat hom vashou, stewig sit.

Herwinning. As jy ’n wenas op jou bosbreker het, kyk of die kabel of tou nog heel is, dat die motor werk en alles stewig vas is. Omdat die meeste herwinningspunte in die bosbrekers en buffers geïntegreer is, moet jy ook seker maak dat die boute wat dit aan die onderstel vas hou, stewig vas en heel is. 

Buffers en bosbrekers

7. Dakrak en kappie

’n Probleem hier kan jou vinnig laat terugdraai huis toe. 

Op sy eie voete. Maak seker die voete, boute en monterings van die dakrak is stewig vas aan die ryding. Enige ekstra goed wat aan die dakrak vasgebout word, soos ’n jerrykan-houer, hoogligdomkrag of afdak, moet ook nagegaan word. 

Kap dit uit. Die boute wat die kappie aan die laaibak vashou is belangrik. Maak seker hulle het nie intussen los geskud nie. Kyk ook of al die drukslotte, skarniere en gasskokbrekers nog goed werk.

Op sy eie voete
Kap dit uit