foto’s Kyle Kock

BUSHNELL POWER VIEW-DUBBELPAK (10 x 25 en 10 x 42)

Perfekte paartjie

Hierdie stel, wat eksklusief by Outdoor Warehouse beskikbaar is, gebruik ’n dakprisma en het meervuldige deklae oor die lense, wat ’n beter beeldgehalte beteken. Nou hoef jy en jou wederhelfte nie te stry oor wie se beurt dit is om vir die leeus te kyk nie.

Albei kom met ’n drahouer, lenslappie en nekband.

Prys R2 000 by Outdoor Warehouse.

Gewig 255 g (10 x 25) en 685 g (10 x 42)

Weg Ry & Sleep sê
Dit is ’n puik kombinasie vir ’n paartjie wat saam reis.


TRAILBOSS HAWK EYE (10 x 25)

Randrekker

Hierdie intreevlakmodel van Trailboss is een van die goedkoper modelle op die mark en beslis een wat jy kan oorweeg as jy jou sente moet omdraai. Die prys beteken nie noodwendig jy boet gehalte in nie. Hy het K9-dakprismas en sy lense word met ’n deklaag behandel.

Prys R360 by Outdoor Warehouse.

Gewig 240 g 

Weg Ry & Sleep sê
Die tweekleur-afwerking beteken jy sien hom maklik in jou rugsak raak.


MALKIN (10 x 50)

Kristalhelder

’n Mens sou dink ’n handelsnaam wat genoem is na ’n kat met merkwaardige sig, sal nie teleurstel nie. Die goeie nuus is dat die Malkin-reeks sy stem behoorlik dikmaak. Dié stel is boonop met stikstof gevul om te keer dat die lense opwasem op daardie koue oggende en warm middae langs die watergat.

Prys R1 200 by Cape Union Mart.

Gewig 880 g 

Weg Ry & Sleep sê
Dis amper asof sy gewig in jou hande ’n mens gerusstel, en dan is die beeld boonop kristalhelder.


NATIONAL GEOGRAPHIC DEUR BRESSER (8 x 21)

Die naam dra gewig

Die legendariese handelsnaam National Geographic het met die Duitse verkykerspesialis Bresser saamgespan om ’n reeks verkykers te skep wat die natuur nader aan jou bring. Dié model het ’n BAK-4-dakprisma en meervuldige deklae en jy kan op voorwerpe so naby as 5 m fokus.

Wanneer jy verder vorentoe kyk, tot op 913 m, is jou gesigsveld 125 m breed. Daar is min dinge wat jy nié met die outjie gaan raaksien nie.

Prys R400 by Camp & Climb.

Gewig 170 g 

Weg Ry & Sleep sê
’n Mens lyk sommer soos ’n natuurkenner met dié liggewig verkykertjie. 


PRAKTICA FALCON (7 x 50)

Stewige aanspraakmaker

Hierdie verkyker staan sy man stewig in die “waarde vir geld”-afdeling. Die Falcon se groot verstelknop stel jou in staat om die fokus maklik aan te pas, en met die gesigshoek van 7,5º kan jy oor ’n groot afstand sien sonder om jou kop te beweeg – net reg vir wanneer jy ’n swerm voëls in die lug moeiteloos wil dophou.

Prys R795 by Camp & Climb.

Gewig 825 g 

Weg Ry & Sleep sê
Hy word vir 25 jaar gewaarborg.


NATIONAL GEOGRAPHIC DEUR BRESSER (10 x 42)

Uit die boonste rak

Die grootboetie van die ander NatGeo-model op hierdie blaaie is water- en misdig. Hy span sy Bak-4-dakprisma en lense met meervuldige deklae in om die maksimum hoeveelheid lig deur te laat om vir ’n helderder beeld te sorg. Jy kan hom ook op ’n driepoot staanmaak.

Prys R2 500 by Camp & Climb.

Gewig 670 g 

Weg Ry & Sleep sê
Die omhulsel het ’n rubberlaag, wat beteken hy is skokbestand; jy kan hom dus met gemoedsrus in jou rugsak sit vir ’n staptog.


MALKIN (10 x 25)

Avontuursoeker

Dit is die goedkoopste van die modelle wat ons toets, maar hy het nietemin ’n reeks indrukwekkende eienskappe, nes sy Ouboet elders op hierdie blaaie. Hy spog met ’n gesigveld van 96 m teen 1 000 m danksy sy BAK-7-dakprismas en is veral geskik vir sportbyeenkomste.

Prys R350 by Cape Union Mart.

Gewig 240 g 

Weg Ry & Sleep sê
Teen hierdie prys het ’n mens niks om oor te kla nie.


TRAILBOSS HAWK EYE (10 x 50)

Draf saam met die groot honde

Dié outjie van Outdoor Warehouse word dalk nie in dieselfde asem as meer gevestigde handelsname genoem nie, maar dit beteken nie daar skort iets met sy gehalte nie. Die lense is met ’n deklaag behandel en die BAK-4- porro-prisma sorg vir ’n duidelike driedimensionele beeld. Die tweekleur-afwerking beteken jy gaan hom nie maklik verlê nie.

Prys R600 by Outdoor Warehouse.

Gewig 815 g 

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie is ’n goeie kopie as ’n mens sy vermoë teen ’n kleiner begroting opweeg.
Kry die produkte hier

Camp & Climb  campandclimb.co.za

Cape Union Mart capeunionmart.co.za

Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za