foto’s: Schalk Jonker

Jy sien nie vreeslik baie abbawaens op ons paaie en in ons kampterreine nie, wat eintlik verbasend is as ’n mens in ag neem hoe maklik dit is om met hulle oor die weg te kom en hoe min onderhoud hulle vereis.

Die versekering op abbawaens is oor die algemeen laer as dié van ’n woonwa of ryhuis, hulle hoef nie geregistreer te word nie, en jy hoef jou nie te bekommer oor dinge soos rybewyse en padwaardigheidstoetse nie.

Palomino se abbawaens word sedert 1968 al in Amerika vervaardig, en dit is hier waar die Durbanse boorling Gregory Renault die produk teëgekom het. Hy het dadelik besef dit is nommerpas vir die Suid-Afrikaanse kampgemeenskap en besluit om dit hierheen in te voer.

Gregory, wat sy verspreidingsonderneming op St. Francisbaai bedryf, het onlangs vir ons die Backpack Edition SS-500 geleen sodat ons ’n paar dae daarin kon kamp.

Lig die hoed

Die dak lig met die druk van ’n knoppie op jou afstandbeheer. Op elke hoek is daar stutte wat die dak boontoe druk tot hy sy maksimumhoogte bereik. Dit alles gebeur binne ’n kwessie van sekondes.

Met die dak opgeslaan kan iemand van 6 voet regop staan sonder dat sy kop aan die dak raak. Die deur is egter net 1,4 m hoog en jy moet jou buk ken as jy inklim. ’n Mens raak dit egter vinnig gewoond – veral as jy jou voorkop ’n keer of wat gestamp het.

Die deur het spesiale skarniere wat windweerstandig is; dus hoef jy nie die deur in te haak nie.

Langs die deuropening is ’n handvatsel om jou met die op- en afklim by die trappies te help. Die handvatsel kan wegvou.

Op die seil van die wa is ses vensters, elkeen met drie lae – die sogenaamde privaatheidslaag, ’n getinte PVC-venster en ’n gaasvenster om die goggas uit te hou.

Kyk daai bene!

Die Palomino Backpack Edition SS-500 weeg minder as 550 kg, wat beteken jy kan hom met gemoedsrus agterop die meeste groter bakkiemodelle laai. In ons geval was dit ’n Ford Ranger-dubbelkajuit, en hoewel ons die agterklap moes platslaan sodat die wa kan pas, het dit steeds goed gewerk. Op van die langbakmodelle sal die wa in sy geheel agterop pas.

Jy trek die wa met sperratstroppe vas wat jy inhaak by pasgemaakte passtukke wat op jou bakkie gemonteer word. Dan is jy reg vir die langpad. By die kampterrein laat sak jy dan net die die vier pote om die wa te lig, trek jou bakkie uit en laat sak die wa weer nader aan die grond. Of as jy net oornag, kan jy sommer so agter-op die bakkie slaap.

Die konsertinatrap werk goed, ongeag hoe hoog van die grond af jy staan. Die toetswa het elektriese domkragte op die pote gehad (en ’n afstandbeheer wat elkeen afsonderlik laat sak en lig), maar dit is opsioneel. Standaard is hy met ’n handaangedrewe domkrag toegerus, maar jy kry ook ’n passtuk vir jou koordlose boormasjien.

Watersake

Aan die “bestuurderskant” is die prop waar jy jou 57 l-watertenk volmaak. Dit is vir wanneer jy selfonderhoudend moet kamp; hier is ook ’n koppelpunt waar jy die woonwapark se kraan met ’n tuinslang kan koppel.

Langsaan is ’n tenklose waterverwarmer en agter die deurtjie die naaste aan die agterkant jou buitestort. 

Kyk agter jou

Links van die deur is ’n plek waar jy jou trukamera monteer. Die Ranger waarop ons toetsmodel was, het reeds ’n trukamera gehad, maar dié is in die agterklap en omdat ons dit moes platslaan, was hy nie van veel nut nie.

Dit is dus ’n goeie plan om nóg een hier aan te bring sodat jy behoorlik kan sien wat agter jou aan die gang is (die wa belemmer nogal ’n mens se sig na agter). Langs die trukamera se monteerplek is die buitelig.

Sake raak warm

Op die linkeragterhoek is die kas met die 9 kg-gassilinder en langsaan die gasgeiser wat vir warm water binne sorg.

Voorlangs

Die punt waar jy die kabel inprop om die wa in die ry te laai sit aan die voorkant. Langs dit is die sonpaneel se kragpunt – hier is ook ’n positiewe en negatiewe punt, soortgelyk aan dié van ’n motorbattery, waar jy krokodilklampe kan koppel as jou sonpaneel se prop verskil van die wa s’n. Daar’s ook twee rubberstoppe wat keer dat die abbawa jou bakkie skaaf en skuur.

Tuis in die kombuis

Die kombuis is regs van jou soos jy by die deur inkom. Hier is kaste bo jou kop en by jou knieë, maar die onderste een huisves die geiser en jy kan nie goed hier inpak nie. In die werkblad is jou wasbak en stoof, albei met ’n glasblad oor. Langs die kant van die kombuiskas is ’n kragpunt met USB- en gewone huissokke. Jy verstel ook die geiser en die temperatuur van die wa se verwarmer hier.

Kom sit (en lê) aan

Aan die bed se voetenent is ’n eethoekie met genoeg sitplek vir drie mense. Maar jy kan ook die tafelblad verwyder en ’n spesiale plank op die passtukke sit voordat jy die sitplekkussings herrangskik om ’n bed vir Junior te maak.

Dit is egter nie ’n baie groot bed nie – ’n eerstejaarstudent gaan byvoorbeeld nié beïndruk wees met dié slaapplek nie.

Langs die eethoekie is ’n venster wat jy kan oopmaak om die lug beter deur die abbawa te laat sirkuleer. Onder die lang bankie word die batterystelsel en die watertenk weggesteek. Vir ’n groter bed kan jy beswaarlik vra. Dit is so te sê koningsgrootte, en met sy stewige Serta-matras hoef jy jou nie te bekommer oor ’n gemaklike en goeie nagrus nie.

Bo die bed is ’n suigwaaier.

Binnelangs

Links soos jy by die deur inklim, is die skakelaar waarmee jy die dak kan laat lig en sak as jy dalk die afstandbeheer vir ’n oomblik verlê het. Langs dié skakelaar is ’n blink knop wat jy uittrek om die battery te ontkoppel. Sodoende kan jy keer dat die batterye afloop wanneer jy nie jou abbawa gebruik nie. Onder die skakelaars is ’n rakkie met pakplek en langsaan ’n yskassie om jou proviand koud te hou. Bo dit is ’n werkblad op ’n gemaklike hoogte en voor jou ’n kas waarin jy nog van jou kampgoed kan wegpak. Die brandblusser staan langs die deur in sy passtuk.

Woonwatoets
Woonwatoets
Die tegniese goed

Lengte: 3,9 m

Breedte: 1,93 m

Hoogte: 1,83 m

Nokhoogte binne-in: 1,98 m

Gewig: 543 kg

Prys: R268 000

PLUS

  • Die wa is verbasend ruim binne en voel nie beknop nie.
  • Hy word van ’n spesiale veselglas met ’n jellaag gebou en is sterk en duursaam.
  • Die USB-sokke vir selfoonlaaiers is ’n slim toevoeging.
  • Die dak is stewig – jy kan goed soos bergfietse daarop vasmaak.

MINUS

  • Hier is nie baie pakplek nie.
  • Die derde bed is regtig net vir ’n klein kind.

Weg Ry & Sleep het die abbawa by die verspreider geleen.

Weg Ry & SleepPalomino se abbawa is nét die ding vir paartjies wat moeiteloos maar tog met ’n mate van weelde wil kamp.

Inligting

Hoofkantoor: Fish Eagle Park 5, Tweede Laan, St. Francisbaai.

Kontak:  072 227 9752;  info@palominorv.co.za