Vervaardigers gebruik verskeie tegnieke om die hoeveelheid ontspanning wat agterna mag plaasvind, te verminder. Dit sluit in haelklopwerk (in Engels shot peening) en voorstelling, wat ook veerskokwringing (scragging) genoem word.

Haelklopwerk behels dat die staalveer met strale klein balletjies geskiet word, wat baie klein duikies op die veeroppervlak veroorsaak en die oppervlakspanning verlig. Tydens voor-stelling of veerskokwringing word die veer tot drie keer heeltemal saamgepers. 

Dit word gedoen omdat die veer gewoonlik na vervaardiging effens langer as sy beoogde lengte is. Ná die voor-stellingsproses, krimp hulle tot hulle korrekte lengte. 

Bladvere, aan die ander kant, word met ’n effens groter kurwe gemaak as wat noodsaaklik is, maar na die voor-stellingsproses sal hulle die korrekte kurwe hê. 

Hoewel bogenoemde prosesse die meeste molekulêre stresvermindering voorkom, kan dit nie heeltemal vermy word nie. 

Daarom gaan jou vere nog ’n bietjie sak namate tyd verloop en jy die voertuig gebruik. 

Die hoeveelheid sal bepaal word deur die veer se grootte en ontwerp, die gehalte van die materiaal wat gebruik is, en die vervaardigingsproses.

Maak ’n ander plan

Daar is ’n beperking op die ekstra hoogte wat jy kan wen met onafhanklike voorvering. Jy kan gewoonlik jou ryhoogte by die wiele met tussen 40 en 50 mm verhoog, voordat dat jy probleme met die dryfas of vering begin teëkom. 

Hoewel die voertuig agterna met tot 20mm kan sak as die kronkelveer eers “ontspan” het, is dit moeilik om vooraf te sê presies hoe groot die verlies sal wees. 

En om die vering met 70mm, byvoorbeeld, te lig om op die ou end 50 mm te wen, sal eenvoudig nie werk nie. 

Die voertuig sal ’n veer hê wat vir ’n ruk te lank is voordat dit uitsak, wat probleme met die dryfas en bestuurvermoë sal veroorsaak.

As jy van die verlies wil herwin, kan jy die hoogte van die veer effens boontoe stel met ’n klein spasieerder (’n sogenaamde spring seat packer) of met verstelbare hoogtestutte, maar wees maar versigtig vir boonste veringarm-spasieerders.

* Mic van Zyl is die besturende direkteur van Ironman 4x4 Africa, die enigste invoerder en verspreider van Ironman-4x4-produkte (www.ironman4x4.co.za).