Dis ongewoon dat daar nie genoeg voertuie is om te toetsbestuur by ’n bekendstelling nie. Die Johannesburgers het voor die Kapenaars op George geland en die sleutels gegaps.

Die uiteinde is dat ek op die agtersitplek van ’n Audi Q3 beland en met die N2 langs Plet toe ry waar ons oornag. En dit was ’n goeie ding, want ek kon vir ’n slag fokus op dinge wat onmoontlik is van agter die stuur. Gewoonlik klim motorjoernaliste net in en rý die nuwe speelding, en vergeet skoon van wat agter ons aangaan. Nou weet ek hoe my sewejarige seun voel!

Hy sou baie gehou het van die Q3; die luukse afwerking, die gemaklike sitplek (selfs vir ’n volwassene), die bekerhouers en die armleunings, en die vensters wat hope lig deurlaat. En alles werk sekuur soos dit hoort in ’n Duitse motor. “Ja, en?” vra jy dalk. “Die Q3 is immers ’n gesinskar. Natuurlik is die agtersitplekke gemaklik.”

Maar ís dit ’n gesinskar? Hy’s nie baie groot nie. Die binneruim is dalk effens groter as ’n Polo s’n en ek dink nie die kattebak het plek vir my gesin se bagasie vir ’n naweek- wegbreek nie. Selfs nie as ek die agtersitplekke effens vorentoe skuif en platslaan nie.

Maar dis ’n mooi kar, die stilering is stylvol en byderwets, en hy ry so glad soos wat ’n mens van ’n Audi kan verwag.

Maar as jy die prys en ruimte (of die tekort daaraan) in ag neem, is dit nogal ’n vreemde produk in die segment vir gesinsportnutsvoertuie.

Die volgende oggend klim ek agter die stuur in. Daar is ’n raakskerm in die instrumentepaneel en nog ’n skerm waar jy gewoonlik die toere- en spoedmeter sou kry. Jy kan hierdie digitale vertoonskerm aanpas om al jou bestuurs-, musiek- en navigasie-inligting te vertoon soos wat jy verkies, wat sal help om jou oë op die pad te hou pleks van jou foon. Gepraat daarvan: Jy kan ’n bykomende Audi-induksielaaier (R5 500) koop waarmee jy jou foon kan laai – koebaai aan die kabel wat alewig om die rathefboom vashaak.

Die klein 1,4 l-turbo-petrolenjin verskaf 110 kW en 250 Nm, en die sesspoed-S-tronic-ratkas (die dubbelkoppelaarsoort) is so verfyn as wat ’n outomatiese ratkas kán wees. Die vering is nogal sportief, wat lekker is op ’n bergpas, maar jy voel stampe en stote op gruis.

Ongelukkig kom geen Q3 met vierwielaandrywing na Suid-Afrika nie; net voorwielaandrywing. Dit sal bepaal waar jy jou naweke deurbring, maar onthou, die Q3 is nie juis ’n kar vir die boendoes nie.

Standaard-eienskappe sluit in LED-hoofligte, byderwetse flikkerligte en veiligheidskenmerke soos sluitweerremme, elektroniese stabiliteitsbeheer met wegtrekhulp teen ’n bult, verskeie lugsakke en ’n stelsel wat banddruk monitor.

Die intreemodel kos R567 500, maar jy kan jou motor aanpas met sportiewe afwerkings (vanaf R20 000) of deur verskillende pakkette te kies. Die Comfort-pakket (R21 500) bied onder meer ’n elektriese agterklap, parkeerhulp en verhitte sitplekke; die Technology-pakket (R33 500) het verbeterde navigasie en ’n selfs ghrênder stuurkajuit; en die Sports-pakket (R34 000) sluit in groter wiele en bestuursmodusse, plus ’n paar verbeteringe aan die binneruim. Baie gou kan jy tot R120 000 by die koopprys voeg.

Waar laat dit ons? Audi beweer sy enigste mededingers is ander luukse voertuie soos BMW en Mercedes-Benz, maar ek is nie so seker nie. Die Q3 is wel ’n luukse voertuig, maar dis moeilik om ander voertuie buite rekening te laat... Motors soos die VW Tiguan (’n vinniger vierwielaangedrewe model met dieselfde foefies kos minder as die topmodel), die Hyundai Tucson (goedkoper, met meer standaardluukses) en die Volvo XC40 (dieselfde prys, maar slimmer, veiliger en dalk mooier?).

Die Q3 is ’n fantastiese voertuig, maar sy mededingers ook. Gaan toetsbestuur hulle almal!

Audi Q3