Ons het by die boswerktuigkundige Allan Venter gaan uitvind hoe jy ’n enjin kan red wat water in gekry het. 
Die beginsels

’n Enjin het ’n luginlaat om lug na die enjin te vervoer. Die suurstof meng met die brandstof (hetsy diesel of petrol) en word dan in die silinder ingepomp waar dit ontbrand, die suiers afstoot en só die enjin laat draai.

Tussen die luginlaat en silinders is daar gewoonlik ’n lugfilter wat sorg dat relatiewe skoon lug sonder stof en ander gemors in die silinders kom. In petrolenjins kry jy ’n vergasser (wat die brandstof in ’n gas verander) of ’n brandstofinspuitingstelsel.

Dieselenjins gebruik ’n inspuitpomp om die diesel saam met die lug in die silinder in te spuit.

Teen hoë enjintoere kan lug teen 14 kubieke meter per minuut of meer in die enjin ingesuig en weer uitgeblaas word.

As daar enige vloeistof soos water in die silinder inkom, is daar groot moeilikheid.

Die suier beweeg teen luierspoed omtrent 800 keer per minuut op en af in die silinder. Dit word die suierslag (piston stroke) genoem. Wanneer ’n suier op sy hoogste posisie in die silinder is, bly daar ’n klein ruimte tussen die suier en die silinderkop oor waar die brandstof -en lugmengsel ontbrand, en die suier daarna weer in die silinder afgedruk word.

Sodra die volume water in die silinder meer is as die volume wat oorbly aan die einde van die suier se slag, sal iets moet meegee omdat die suier nie sy beweging kan voltooi nie.

Hierdie ruimte is gewoonlik baie kleiner in ’n dieselenjin as ’n petrolenjin, en dus is baie minder water in ’n dieselenjin nodig om hom ’n doodskoot te gee.

Dít kan verkeerd loop

Die toestand van ’n enjin waar daar vloeistof in die silinder is, word hidrostatiese sluiting (hydrostatic lock) genoem. Dit beteken daar is ’n sekere volume vloeistof (in dié geval water) in ’n spasie wat nie verder saamgepers kan word nie.

Omdat die vloeistof nie saamgepers kan word nie en die momentum van die krukas die suiers steeds aandryf, sal iets meegee. 

Gewoonlik is dit die suierstang wat die suier aan die krukas verbind wat eerste wat buig of breek. As die enjintoere hoog is, sal die skade heelwat groter wees.
Die kragte wat op die onderdele uitgeoefen word, kan nie geabsorbeer word nie en dit kan ook veroorsaak dat onderdele soos die krukas, suiers, suierstange, silinderkop, silinderblok en turboaanjaer beskadig word.

As die water teen ’n hoë enjinspoed in die silinder inkom, kan die skade baie erger wees. 

Teen ’n laer spoed is die moontlikheid groter om die enjin te red. 

Dis net nog ’n rede om nie deur water te jaag nie. Maak eers seker van die water se diepte, behou jou momentum en moenie probeer om jou vriende langs die pad nat te spat nie.

Volg hierdie stappe wat jou enjin en voertuig kan red:

Veiligheid eerste. Maak jou vensters oop en sitplekgordels los voor ’n wateroorgang. Sit die voertuig in 4x4 met die ewenaarslotte aan (as dit het). Om te verseker dat die enjin nie water deur ’n pakstuk of klein gaping insuig soos die water dit afkoel nie, laat die enjin eers afkoel.

Hoe hoog? Maak seker hoe hoog die enjin se luginlaat sit indien dit nie ’n snorkel het nie. Die luginlaat sit gewoonlik in die enjinruim agter ’n hooflig of aan die kant teen die modderskerm.

Te ver gegaan? As jy hierdie hoogte tydens ’n wateroorgang oorskry, moet jy onmiddellik die enjin afskakel. As jy gelukkig is, sal die enjin begin stotter en krag verloor om jou te waarsku.

Los die sleutel uit! Moenie nou weer probeer om die enjin aan die gang te kry nie. Ontkoppel die battery en laat die voertuig uitsleep tot op droë grond. 

Haal uit. Draai die vonkproppe of gloeiproppe uit en draai die enjin deur die krukaskatrol met die hand te draai. Soos die krukas draai, sal die suiers op en af in die silinders beweeg. Indien daar water in die silinders is, sal dit by die vonk- of gloeiproppe se gate uitgedwing word.

Maak droog. Maak die verdeler oop en droog goed af om ’n kortsluiting te keer. Enige ander elektroniese verbindings moet ook oop- en drooggemaak word.

Blikbrein. Die elektroniese beheereenheid van moderne voertuie kan ook beskadig word as dit nat is. As dit gebeur, haal dit uit en laat dit ’n paar uur lank buite droog word.
Droë lug. Maak al die lugpype en lugfilter los en hou dit dan vir so lank moontlik oop. Dis belangrik dat die filter en pype aan die binnekant droog is sodat daar nie later weer water in die silinders inkom nie.

Tap af. Gaan die olie- en brandstofvlak na. As dit hoër is as wat dit moet wees, het daar moontlik water ingekom. Om water uit die olie te kry kan jy die olie-aftapprop versigtig oopdraai (moet dit nie uithaal nie), en die water laat uitdrup. Omdat die digtheid van water en olie verskil, sal die water onder lê.

Toets die brandstof. Tap ’n bietjie brandstof uit die tenk uit en toets dit vir water deur dit ’n ruk te laat staan om te sien of die water en brandstof skei. As daar water in is, vervang die brandstof. Andersins kan jy verder ry.

Hou duim vas. Sodra jy seker is alles is droog, koppel alles en draai die sleutel. As jy die saak beredder het, sal die enjin swaai.

Maak seker jy kyk oral voor jy die sleutel draai
  • Al weet jy hoe hoog jou luginlaat sit, kan daar steeds water by jou enjin inkom as jy te rof deur water ry wat selfs vlakker as die luginlaat is. Sodra jy in die middel van ’n wateroorgang vassit, skakel onmiddellik die enjin af om te keer dat die suiers water in die enjin intrek.
  • Sodra jy uit die water is en die enjin mooi drooggemaak het, moet jy kyk of daar ander plekke is waar die water dalk gaan lê het. Een so ’n plek is die inlaatspruitstuk. 
  • Die laagste punt van ’n inlaatspruitstuk is soms laer as die plek waar dit aan die silinderkop vaskom en selfs ook laer as die luginlaat. Die water kan in dié kromming van die pype gaan lê.
  • As jy vermoed daar is water in die inlaatspruitstuk, is dit beter om dit ook af te haal en droog te maak. As daar wel water in is en die enjin word aangeskakel, sal die water dadelik in die silinders ingesuig word – en dan moet jy die hele proses van voor af begin.


* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #62 (Julie 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.