Diere soos leeus, ape, bobbejane en jakkalse skroom nie om kos en water steel nie, en hiënas sal ’n klomp ander goed óók wegdra.

Weg Ry & Sleep het al verhale gehoor van hiënas wat bierblikke in kampe stukkend gebyt en jakkalse wat lief is om skoene en kouse te steel.

Dan is daar die gevaar van mense, wat nie net kos en toerusting nie, maar ook uiters waardevolle goed soos paspoorte, dokumente en geld uit jou kamp en voertuig sal vat as die geleentheid hom voordoen.

Gesels jy met meer kampeerders, hoor jy ewe vreemde kampstories. Botswana se blouape het uitgevind hoe om byvoorbeeld ammokiste oop (en leeg) te maak en selfs ’n kampketel se deksel te steel.

Een leser, Bertus Jordaan, is sy sonstort kwyt toe twee wyfieleeus een nag Rooiputs-kampterrein in die Kgalagadi-oorgrenspark binnegevaar het. “Hulle het die hele kampterrein omgekeer, al ons vuurmaakhout weggedra en selfs ons bure se kleretas uitmekaargeskeur!”

Keer diere só

Skakel eerder julle koplampe se rooi gloeilamp aan en vermy ook helder LED-ligte. Hou die vuur laag sodat jy nie nagblind word nie.

Pak ook enigiets weg wat hoegenaamd ’n kos- of mensreuk kan hê. En as jy naby olifante kamp, moet jy géén vrugte hê nie, veral nie sitrus nie,” waarsku een van ons lesers. Vat eerder geblikte goed saam. En as jy klaar is met die blikke, was dit uit en gooi hulle in die vuur om droog en skoon te brand. Dit kry nie net enige kosreuke uit nie, maar steriliseer die blikke sodat hulle nie in jou voertuig stink as jy hulle wegry nie.

Ouers met kleuters moet baie versigtig moet wees rondom roofdiere, want hulle sien klein kinders as prooi. En wanneer ’n mens in droë plekke soos die Kalahari kampeer, moet jy weet diere gaan kom water soek. Pak dus enigiets weg wat water in het. En as jy ’n bosstort onder ’n boom gevat het, skop droë grond oor die klam kol sodat die leeus of hiënas nie daar sal kom snuffel nie.

Teen skerpioene keer jy met toe skoene sodra die son sak, UV-flitse om die gediertes snags te sien en handskoene wanneer jy met hout werk.

’n Mens moet ook maar oppas vir ’n ratel. Enige kosreuke trek hulle aan en hulle kan baie skade aanrig.

Bye kan ook ’n gevaar wees. In droë plekke soos die Kalahari en Richtersveld woon groot swerms aggressiewe Afrika-bye. Hulle sal enige bier- of koeldrankblik binnevaar vir vloeistof en ’n steek in die mond is pynlik; selfs dodelik as iemand allergies is. Versamel daai Pringles-skyfiesilinders se doppe en maak jou blikkies ná elke sluk daarmee toe.

Luister na dié gesoute kampeerders

Dr. Stan Weakley, ’n afgetrede chirurg van Oos-Londen, het al baie toere en kampe agter die rug. In een toer het hy en sy vrou Anne oor 283 dae 40 000 km gereis – so ver noord as Soedan.

Hulle was in verskeie parke en het in byna elkeen wild gekampeer. Hier is sy raad:

’n Mens moet natuurlik geen kos naby jou grondtente los nie, sê Stan, maar hy meen ’n veilige boskamp het meer aandag as dit nodig.

 “Die enigste ding wat ek dálk buite sal los, is ’n groot kamptafel. Maar selfs dit kan leeus se nuuskierigheid prikkel, veral as dit ’n kosreuk het. Leeus se optrede snags is baie anders as deur die dag, sê hy, en omdat diere deesdae toenemend kontak met mense het, skroom hulle nie om in jou kamp te kom nie. 

“Ek het al gesien hoe leeus en hiënas se aandag snags deur kamptoerusting, skoene en enige ander voorwerp wat vreemd in die natuur lyk of ruik, getrek word. Hiënas sal boonop byna enige ding kou, van klere tot seep.

 “Die vinnigste manier om jou eerste wilde-kamp-aand ook jou laaste te maak, is om gevaarlike diere te lok. Want as jou vrou of kinders onverwags op leeus, hiënas of jakkalse in die stikdonker afkom, kamp julle dalk nooit weer nie,” sê hy. “Maar as jy jou kamp mooi organiseer, is ’n wilde kampeerplek nie vergelykbaar met ’n gewone omheinde een nie.” 

Hier is nog wenke vir ’n veiliger kampervaring.

Doen jou huiswerk. Gesels met parkowerhede en mense wat reeds op ’n plek gekamp het voor jy vertrek sodat jy weet watter diere om op voor te berei.

Weet waar jy kamp.  Maak seker jy slaan nie kamp op in ’n dier se jaggebied, olifant- of seekoeipaadjie nie (kyk vir tekens van ’n paadjie, asook mis).

Kyk wyd. Moenie jou grondtente naby digte bosse opslaan nie. Roofdiere kan jou makliker daar bekruip en dis ’n skuilplek vir slange. Waar moontlik, soek ’n 360 grade-uitsig vir ongeveer 25m om jou staanplek.

Gooi weg! Moet nóóit oorskietkos in die veld gooi of afvalsakke in bome ophang nie. Sit dit in jou voertuig.

Maak moles. Hou ’n hol blik en ’n lepel, polisiefluitjie, kompressor of selfs ’n vuvuzela en ’n pakkie Sparklers (daai vonkstokkies wat die Spur op verjaardae uitdeel) byderhand. Diere hou nie van vreemde lig of harde geluide nie en die onverwagse geraas sal in die meeste gevalle ’n roof- of aasdier verjaag. Jy kan eintlik die fluitjie heeldag dra, soos ’n knipmes. Moet egter nooit ’n trop olifante pla nie. Bly uit hulle pad op ’n veilige plek. 

Doen ’n “brandoefening”. Oefen ’n deeglike plan van aksie vir wanneer ’n roofdier jou kamp nader of binnekom. Maak seker jou familie, veral kinders, weet wat om te doen en waar die afweer-apparate is.

Moenie skoor soek nie. Moenie ’n dier koggel deur hulle geluide na te maak nie. Dit kan hulle naderlok of meer aggressief maak.

Hoe meer, hoe beter. Moet nooit snags alleen in ’n kamp ronddwaal nie. 

Luister. Wees bedag op voëls en bobbejane wat snags skielik raas en paddas wat ewe ophou kwaak. Dis gewoonlik ’n aanduiding van ’n roofdier in die omgewing.

Staan jou man (of vrou). As jy snags op ’n roofdier in die kamp afkom. Staan stil en maak ’n geraas of blaas op jou fluitjie.

Vou op, skud uit. Moenie jou hoed of baadjie teen ’n boomstam hang of op die grond neersit nie – skerpioene klim graag daarin. Maak ook seker voor jy gaan slaap dat ’n skerpioen nie onder jou beddegoed ingekruip het nie, selfs al slaap jy in ’n daktent. As jy onder ’n boom staan, kan hulle wel daar inkom. 

Bekyk jou hout. Voordat jy braaihout op die vuur gooi, trek dit met ’n haak rond om vir slange en skerpioene te kyk (skerpioene hou daarvan om in dooie hout te bly). Dra dik leer handskoene (soos herwinninghandskoene) as jy met sulke hout werk.