Jaco Zaayman van Kraaifontein het hierdie selfdoen-idee met ons gedeel. Hy het sy eie biltongdroogkas by die huis aanmekaar gesit as alternatief vir die soms peperduur produkte wat op die winkelrakke te koop is.

Inkopielys:

• 1 plastiekkampboks (60 l)

• 2 rekenaarwaaiers, 120 mm-grootte (beskikbaar by enige rekenaarwinkel)

• 3 tappenne (dowels), 12 mm-grootte

• 12V-battery

• 1 pakkie S-hake

Gereedskap

• figuursaag

• boor met ’n 6,5 mm- en 12 mm-boorpunt

• skroewedraaier

• 6-8 skroewe, 6,5 mm-grootte (kyk hoeveel jou waaiers nodig het)

Só maak jy:

1. Saag met jou figuursaag ’n sirkel in die grootte van die waaier se lemme (omtrent 120 mm) in elk van die twee teenoorgestelde kort kante van die plastiekboks. Die een waaier gaan lug inblaas, wat die ander een weer gaan uitblaas. 

2. Boor met ’n 6,5 mm-boorpunt gaatjies vir die skroewe en skroef die waaiers aan die binnekant vas. Maak seker die een waaier blaas in en die ander uit; daar is pyltjies wat die rigting aandui waarin die lemme draai. Al twee waaiers se lemme moet dus kloksgewys of antikloksgewys draai.

3. Boor met ’n 12 mm-boorpunt 20 mm van die bokant drie gate oorkant mekaar in die twee lang kante van die houer. Druk die drie tappenne daardeur – dís waar jy jou biltong gaan hang. 

4. Koppel die waaiers aan ’n 12 V-kragpunt, hang jou nat biltong met S-hake aan die tappenne en maak die deksel toe.

Deel jou selfdoen-idees met ons. Stuur ’n e-pos na digitaal@weg.co.za. 

WegSleep sê:
Ná vier tot vyf dae het jy heerlike tuisgemaakte biltong. 

Vleisboks van formaat! Hang jou vleis aan die tappenne om uit te droog.
Gewone rekenaarwaaiers word gebruik om die vleis droog te blaas.