Gerhardt het ’n omskakelaar in sy bakkie, dus kan hy toestelle wat met 220V-huiskrag werk van sy voertuig se batterystelsel af aandryf.

“Ek het ’n ander yskas soortgelyk aan dié een en gebruik dit al ses jaar lank sonder probleme vir kamp en kuier,” vertel Gerhardt. 

Die kern van die yskas se ombouing lê in die soort kompressor en die herposisionering daarvan. “Jy kry twee soorte kompressors,” verduidelik Gerhardt. “Die eerste werk met kleppe, gewoonlik in ’n lugdigte swart houer. Dié soort kompressor moet regop bly om te kan werk.” Die tweede soort is ’n liniêre pomp. Dit kan in enige posisie werk, maar dié moderne pomp is heelwat duurder.

Die ou soort kompressor se kleppe reguleer gasvloei deur die stelsel en keer dat die motor se olie nie in die pype kom nie. As dit gebeur, stol die olie in die klein pypies en kan die yskas nie meer verkoel nie.

“Jy moet dus versigtig wees om die yskasmotor regop te hou, anders gaan die olie deur die kleppe as die yskas te ver kantel,” sê Gerhardt.

Gerhardt het ’n 110 liter-Aim-kroegyskas by Pick n Pay gekoop, met die ouer soort kompressor. Dié moes hy 90° draai sodat dit regop staan wanneer hy die yskas op sy sy laat lê.

Gerhardt het ook sy yskas ’n nuwe afwerking gegee sodat dit die buitelewe beter kan hanteer. Hy het rubbervoete onderaan en stewige handvatsels aan weerskante vasgesit. En hy het ook die hele yskas met ’n taai stone chip verflaag gespuitverf en die rakke aan die binnekant van die deur met ’n plat stuk plastiekglas vervang.

Moderne yskaste werk met die osoonvriendelike R600a-gas, wat baie meer doeltreffend as die ouer generasies se gas is. “Ek het seker gemaak dat hy hierdie gas het. Dit gee hom ’n A-energiegradering, wat beteken hy trek minder krag,” sê Gerhardt.

“Dié yskassie werk net so goed soos enige kampyskas met dieselfde spesifikasies. En ek is nie so jammer vir hom nie!” sê Gerhardt.


Jy het nodig

  • ’n Kroegyskas. Maak seker die yskas het R600a-gas en ’n energiegradering van A.
  • Duram se stone chip-verf.
  • Twee handvatsels, twee rubbervoetjies en nylontou, wat jy by ysterwarewinkels koop.
  • Plastiekglas.
  • Klinknaels.
  • ’n Stukkie plaat vir die sykant van die yskas.

Maak só:


Maak die skroewe los van die staalstrook waarop die kompressor aan die onderkant van die yskas gemonteer is.

Met iemand anders se hulp, kantel die yskas stadig agteroor terwyl die ander persoon seker maak dat die motor nie te ver kantel nie en geen pypies toebuig nie.

Maak seker die kompressor sit mooi as hy gekantel is. Met hierdie model yskas het die gedraaide kompressor ’n paar millimeter te hoog gesit en het die bokant aan die binnerand van die yskasraam raak. Die oplossing was ’n spasieerder tussen die staalstrook onder die kompressor en die rand van die yskas.

Boor gate, sit ’n spasieerder aan elke kant in en skroef die kompressor weer met sy oorspronklike vier skroewe vas.

Sny ’n stuk staalplaat om die kant van die yskas waar die motor sit, toe te maak.

Versterk die deel waar jy later ’n handvatsel wil vassit. Gerhardt het ’n tweede stuk staalplaat met klinknaels vir dié doel op die paneel vasgesit.

Spuitverf die buitekant met Duram se stone chip-verf. Hiervoor sal jy ’n stone chip-spuitverfgeweer nodig hê. Om netjieser te werk, haal die yskas se deur af wanneer jy dit verf.

Sit die deur terug wanneer die verf droog is.

Heg handvatsels aan weerskante van die yskas met klinknaels vas.

Sny die binnekant van die yskas se deur uit en vervang dit met ’n plat stuk plastiekglas. Sodoende wen jy spasie in die yskas omdat die deur se rakke nie meer gebruik word nie. Jy kan ook perspex gebruik.

  1. Kantel en draai. Gerhardt het die yskas stadig op sy rug gekantel terwyl ’n tweede persoon seker gemaak het die pomp bly in ’n regopposisie en geen pypies buig toe nie.
  2. Lê bietjie. Die agterkant van die yskas word nou sy onderkant en ’n nuwe paneel, met ’n luggat langs die pomp, is met klinknaels vasgesit om die deel voor die kompressor te bedek.
  3. Staan stewig. Vier rubbervoetstukke is op die nuwe onderkant van die yskas vasgesit.
  4. Oop- en toemaak. Om te verhoed dat die deur te ver oopmaak en agteroor vou, is ’n stukkie nylontou aan een hoek van die deur en die boonste hoek van die yskas vasgesit.
  5. Mooi van binne. Gerhardt het die rakkies aan die binnekant van die deur vervang met ’n gladde plastiekglaspaneel.
  6. En van buite. Die stone chip-verf is met ’n spuitverfgeweer aan die buitekant van die yskas gespuit vir ’n taaier afwerking.
  7. Vatplek. Die laaste stap was om twee handvatsels met klinknaels aan elke kant van die yskas vas te sit.