Motorfietsryers spot altyd en sê jy kry net twee soorte van hulle: dié wat al geval het, en dié wat nog gaan val. Vir motoriste kan ’n mens die grappie effens aanpas: Dié wat meegevoel toon vir meganika en dan dié wat vere voel.

Goed, dis debatteerbaar of jy werklik meegevoel kan hê vir ’n enjin, want dit is immers net ’n versameling ratte, olie en metaalonderdele. Dis egter ’n feit soos ’n koei dat jy ’n enjin kan misbruik. Daar’s ooglopende vorme van mishandeling, soos om die toere van die 4.0-V6-enjin in jou FJ Cruiser in die rooi te hou terwyl jy drie maal per week in die duine speel – dis nou van die dag drie jaar gelede toe jy hom gekoop het... en jy het hom in dié tyd nog nie een keer laat diens nie.

Verkeerde bestuurstegnieke kan egter ook ’n enjin se gal werk. Jou buurman links van jou ry dalk dieselfde BMW X5-model as die ou wat regs van jou woon. Hulle werk dalk by dieselfde sakeonderneming en parkeer elke dag langs mekaar, maar die een se BMW breek gedurig terwyl die ander een die lof van syne besing.

’n Leser wil weet

Roland Barnard van Benoni het onlangs vir ons ’n interessante vraag gestuur. ’n Vriend van hom het ’n tweedehandse Mercedes- Benz Sprinter gekoop en dit omgebou tot ’n roomysbussie.

Die Sprinter het 300 000 km op die klok gehad en Roland se vriend het hom gery totdat die enjin opgepak het. Volgens Mercedes moes die turboaanjaer vervang word.

Roland het speurwerk op die internet gedoen en tot die gevolgtrekking gekom langdurige lae snelhede – soos ’n roomysbussie elke dag ry – is nié goed vir turboaangejaagde enjins nie.

Die ding wat hom bekommer, is hoe sy eie rygewoontes hierdeur geraak word.

Roland skryf hy het in 2011 ’n bakkie gekoop waarmee hy en sy vrou wildtuine besoek en hulle gunstelingstokperdjie, voëlskyk, beoefen. Hy sal dikwels derde rat inhaak, met die enjin wat luier, sodat sy bakkie dan teen ’n slakkepas aankruie terwyl die egpaar die veld fynkam vir voëls en ander soorte wild.

Volgens Roland se GPS-toestel kruip sy bakkie voort teen tussen 11 km/h en 17 km/h. Hy laat die bakkie elke 15 000 km diens en tot dusver het hy geen probleme ondervind nie. BMW is ook nie te vinde vir ’n enjin wat vir lang tye luier nie omdat die lug-brandstofmengsel ryker is, en dit laat koolstof aanpak.

Wat sê die kenners?

Volgens Danie Josling, senior bestuurder by Nissan Suid-Afrika se sentrum vir handelaarsopleiding en tegniese sake, is dit beslis nie raadsaam om ’n enjin vir lang tye te laat luier nie. “Een van die grootste gevare is dat enjinolie verdun kan word deur onverbrande brandstof wat deursyfer en die smering van onderdele verminder. ’n Ander gevaar is dat koolstof binne die enjin opbou en sodoende die lewensduur verkort,” sê Danie.

Ons het ook by Toyota gaan aanklop, en hoewel hulle tegniese dienste nie prontuit sê dis sleg om ’n enjin te laat luier nie, het Toyota wel bevestig die enjinolie van voertuie wat soos Roland se bakkie gebruik word (dink maar aan wildkykvoertuie in ’n reservaat) moet elke 5 000 km vervang word.

BMW is ook nie te vinde vir ’n enjin wat vir lang tye luier nie omdat die lug-brandstofmengsel ryker is, en dit laat koolstof aanpak. “ ’n Lekker begeesterde rit of ’n kort, vinnige versnelling ná ’n luilekker wildrit behoort van die ongewenste koolstof ontslae te raak,” sê Sibusiso Mkwanazi van BMW Suid-Afrika.

Roland wou ook vasstel of die vloei van olie na die turboaanjaer enigsins belemmer word deur die stadige enjinspoed, maar Danie by Nissan gee ons die versekering dat oliedruk vir enjins vooraf bepaal is en dat die korrekte druk gehandhaaf word ongeag die enjinspoed.

Sibusiso van BMW stem saam en sê die vloei van olie na die turboaanjaer is laag vergeleke met ander onderdele; die druk word bepaal deur die oliepomp en enjinprogrammatuur. “Die olie raak van oortollige hitte ontslae, wat ieder geval min is wanneer ’n enjin luier,” voeg hy by.

Wat Roland se geval betref, sê Danie as jy die raad in die handleiding volg dat olie en oliefilters meer dikwels as gewoonlik vervang moet word, behoort jy tegnies geen probleme te ondervind nie. (Dit is in die hoofstuk “Onderhoud in buitengewone toestande”.)

Aangesien Roland sy bakkie elke 15 000 km laat diens, het hy nog geen langtermynskade in sy bakkie veroorsaak nie, en gelukkig is Roland se slakkepasreise nooit langer as 600 km nie.

Waar of onwaar?

Omgewingsbewustes is vol lof vir enjins wat vanself af- en aanskakel by verkeersligte, maar sommige motoriste is skepties oor die gebruik van dié tegnologie in turboaangejaagde enjins. Beïnvloed dit sulke enjins se lewensduur?

Die amptelike antwoord by elke vervaardiger met wie ons gepraat het, is dat enige motor wat met dié funksie toegerus is, só ontwerp word om die tydelike ontwrigting te verduur. Dikwels word sterker batterye en ligter meganiese onderdele gebruik sodat die enjin optimaal kan presteer.

Die sogenaamde stop-start-funksie is al ’n geruime tyd met ons en daar blyk nie probleme te wees met dié tegnologie nie. Ouer voertuie met ou turbotegnologie moes eers vir ’n rukkie luier voor jy die enjin afskakel, maar dis beslis nie die geval met moderne rygoed nie.

Danksy moderne enjinontwerp en gevorderde metallurgie is dit nie meer nodig om jou turboaangejaagde bakkie te laat luier nadat jy van die winkel af terugkeer nie.

Bygesê, dit bly ’n goeie gewoonte om ’n enjin vir ’n kort rukkie te laat luier ná ’n rit sodat die turboaanjaer kan afkoel voor jy afskakel. Toyota se eienaarshandleiding noem pertinent dat jy ’n turboaangejaagde enjin vir minstens een minuut moet laat luier nadat jy in vierwielaandrywing gery of ’n wa gesleep het.

BMW se tegniese span hou vol dit is nie nodig nie, maar hulle erken wel daar is soms uitsonderings. “Soms wanneer jy sleep of ’n steil pas uitgery het – wanneer die enjin hard gewerk het en die verkoeling minder is, sou ons nie aanbeveel dat jy die enjin direk daarna afskakel nie. Wanneer jy van ’n snelweg afdraai en dit rustig vat oor die laaste paar kilometer tot by jou huis, sal dit die enjin genoeg tyd gee om af te koel,” sê Sibusiso.

Die moets en moenies

Heelparty motoriste maak hulle skuldig aan die volgende: Ons is geneig om ’n laer rat te kies voordat dit werklik nodig is (in Engels word dit lugging genoem). Mense doen dit gewoonlik omdat hulle brandstof wil spaar, maar die gevolg is nie noodwendig die finansiële besparing waarop jy gehoop het nie.

Deur die ratte vroeg te wissel vra jy die enjin om bietjies lug en brandstof te gebruik, maar wat eintlik gebeur, is dat die gewone hoeveelheid brandstof ingespuit word, maar met minder lug. Dit is sleg vir jou trokkie se katalisator en jy sal dalk merk dat daar ’n rookwolk by die uitlaatpyp uitborrel wanneer jy dit doen. Die gepaardgaande vibrasies is ook ’n teken dat die aandrywingstelsel besig is om te skud weens die verkeerde rat – en dít kan die onderdele seermaak.

Jou enjin kan ook beskadig word deur ’n onaangename reaksie bekend as voorontsteking. Dít gebeur as lug en brandstof spontaan ontvlam sonder ’n vonk uit die vonkprop. Die vonkproppe sal dit ontgeld en die silinderkoppe kan selfs kraak – iets wat soms gebeur in kleinkapasiteit-turboaangejaagde petrolenjins. Moet dus nooit ’n turboaangejaagde enjin in hoë druk maar lae revolusies laat loop nie.

’n Goeie riglyn is om hoë omwentelings oor lang tye te vermy, maar ook lae omwentelings. Hou dus die toere iewers in die middel en alles is in die haak. Die deursnee-motoris hou die toere egter aan die lae kant van die middeweg.

En dit is juis hieroor dat Danie voorstel jy rek af en toe bene en sit soms voet in die hoek mits die padtoestande en spoedperk dit natuurlik toelaat. Sodoende neem die enjin se doeltreffendheid toe tot ideale vlakke en jy raak van al daardie koolstof ontslae. ’n Trokkie wat lang kilometers agter die blad het, is gewoonlik in ’n “gesonder” toestand as ’n voertuig wat slegs stad toe en terug pendel.

Indien jy gemiddeld 20 000 km per jaar aflê en net soos Roland slegs met 600 km daarvan jou enjin laat swaarkry met lae omwentelings, kan jy maar ontspan – veral as jy op die ooppad tussen jou bestemming en die huis die petrol trap en laat waai.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook