Illustrasies Dominic Wienand

Jy kan die saai voorkoms van byna enige standaardbakkie opkikker met ’n stel 33”-modderbande, ’n bosbreker, wenas en ’n snorkel. Maar is ’n snorkel werklik onontbeerlik of is dit net ’n treffende dog meestal nuttelose katoeter?

Waarom ’n snorkel?

’n Snorkel het drie hooffunksies: Om skoon lug aan die enjin te voorsien; om koel lug aan die enjin te verskaf; en om water uit die enjin te hou. Daar’s ’n daadwerklike verskil tussen stof in ’n huis en stof op die oop vlaktes van die Namibwoestyn.

Die stof in ’n huis bestaan uit wolletjies en vel- en haarselle, maar in ’n woestyn kry jy te make met fyn sandkristalle. En as dié in jou kar se enjin beland, gaan lê dit dikwels tussen die suierkop en -wand waar dit teen duisende revolusies per minuut op en af teen die metaal skuur. Ná ’n ruk is die metaal só erg verweer dat olie van onder af verby die suierring opstoot en ontbranding demp.

Brandstof gaan ook van bo af verby die ring lek en in die oliepan beland waar dit die olie verdun en die smering van bewegende dele belemmer. Kortom, stof in ’n enjin stuur af op ’n ramp. ’n Voertuig se luginlaat sit dikwels in sy wielboog.

Die rede hiervoor is dat die lugtoevoer in die wielboog koeler is as in die enjinkompartement.

Dit maak sin vir ’n stadsmotor, maar ’n veldryer se wielboog is ’n vuil plek vol modder en stof. Ingenieurs voer aan dat ’n veldryer se lugfilter die stof gaan uithou en dis tot ’n groot mate waar, maar daardie stof gaan ook die filter vinniger verstop en dan sukkel jou enjin om asem te haal – en werkverrigting ly daaronder. ’n Snorkel skep dakhoogte asem, want daardie lug is aansienlik skoner as die lug wat in wielboë ronddwarrel.

Waarom eerder koel lug?

Koel lug is digter as warm lug, want dit bevat meer suurstofmolekules per volume – as jy natuur-en-skeikunde op hoërskool gehad het, sal jy dié beginsel dalk onthou. Wat jy waarskynlik nié op skool geleer het nie, is dat suurstof nie vlambaar is nie.

Suurstof stel wel brandstof in staat om teen ’n lae temperatuur te ontvlam en help ook ’n vuur om vinniger en warmer brand. As ’n enjin se lugdruksensor meer lug meet, sal meer brandstof ingespuit word om die lug-brandstofverhouding te balanseer. 

Die gevolg is verbeterde ontbranding wat lei tot hoër werkverrigting.

Dikwels word beweer ’n snorkel sluk meer lug as ’n standaardluginlaat en pers dit dan saam om enjinwerkverrigting te verhoog, maar die lang pyp van ’n snorkel is só vol knakke en draaie wat die lugvloei omvergooi dat ons dié bewering bevraagteken.

Die eintlike rede waarom ’n snorkel meer woema gee aan jou trokkie, is omdat hy lekker koel lug doer bo by die dak gaan haal.

Wat is so sleg omtrent water?

Water bestaan uit twee molekules waterstof (hoogs vlambaar) en een molekule suurstof (glad nie vlambaar nie). Dit maak nie saak hoeveel vuurhoutjies jy in die see gooi nie, die water gaan nooit aan die brand slaan nie.

Dieselfde gebeur met water in jou enjin: Dit wil eenvoudig nie brand nie. ’n Groter probleem is dat water nie saamgepers kan word nie. As dit by die suierpoort invloei, in die slagvolume beland en die suierkop slaan daarteen vas, gaan jou enjin summier doodruk – ’n verskynsel wat hidrostatiese stolling (of hydrolock) genoem word.

As die teëspoed jou ry, gaan die suier- kop en -stang boonop morsaf breek, en dan sit jy met ’n groot (en peperduur) probleem. ’n Snorkel se derde funksie is dus om water uit die enjin te hou. Maar hokaai eers: Net omdat jy ’n snorkel het, beteken dit nié jy kan sommer net deur ’n rivier jaag nie.

Wanneer ’n petrolvoertuig se bedrading, vonkverdeler en die dinamo wat wisselstroom verskaf water kry, veroorsaak dit ’n kortsluiting. Die verkoeler se waaier is ook nie gemaak om onder water te werk nie en dit kan aan skerwe breek.

Ewenaarslotte en die ratkas se asemhalingskleppe is óók nie ontwerp om water uit te hou nie. Jy gaan met al dié dinge en nog meer moet plan kry voor jy veilig deur diep water kan ry. Die ironie van ’n waterdigte voertuig is dat hulle soveel makliker dryf en dus in ’n sterk stroom meegesleur kan word. Jy kan nie deur dakdiepte water ry bloot omdat die snorkel se kop dakhoogte sit nie.

Die nadele

Nes met enige ombouing is daar risiko’s wanneer jy ’n snorkel laat aanbring. In die meeste gevalle moet jy ’n gat in jou voertuig se bakwerk laat sny. Die modderskerm- paneel is seepglad en vol kurwes – as ’n boorpunt gly, gaan jy met ’n onooglike skraap op die bakverf sit.

En as iemand verkeerd meet en die gat net ’n paar millimeter na links of regs saag, gaan die snorkel nie behoorlik pas nie. Die ontblote staal in die rand van die gat moet ook deeglik behandel word teen roes. As roes eers ’n vatplek kry, is dit moeilik om te keer.

’n Onvoorsiene nadeel van ’n snorkel is dat dit die herverkoopwaarde van jou voertuig kan beïnvloed. Daai snorkel lyk dalk vir jou gaaf, maar ’n ma van drie skoolkinders soek eerder ’n doodgewone Toyota Fortuner wat nié lyk of hy reg is vir die zombie-apokalips nie. Kopers gaan jou ook nie meer betaal as die boekiewaarde van jou trokkie net omdat jy ’n snorkel laat aanbring het nie.

Die moeite werd?

’n Snorkel se vernaamste doel is om koel en skoon lug aan jou voertuig se enjin te verskaf – as dit die rede is waarom jy een wil aanskaf eerder as dagdrome van duikboot speel in die Apiesrivier, dan is jou kop reg aangeskroef.

Maar voor jy ’n snorkel op jou splinternuwe dubbelkajuitbakkie laat aanbring, stel ons voor jy leef eers ’n jaar of twee met jou bakkie saam om te sien of jy werklik ’n snorkel nodig het. Soos ons reeds genoem het, is dit ’n risiko om gate in jou voertuig se bakwerk te sny en jy verloor dalk potensiële kopers as jy eendag jou trokkie wil vervang met ’n nuwe een.

Maar as jou hart tjoklits pomp elke keer wanneer jy ’n voertuig met ’n snorkel sien, gaan gerus voort en koop een, want dit is nié bloot ’n nuttelose katoeter nie. En kweek ’n baard vir die beste resultate.

Druksnorkel (Ram) Hulle is meer algemeen op viertrekvoertuie en het ’n kop met ’n luginlaat wat vorentoe wys. Wanneer die voertuig beweeg, waai reëndruppels en stof teen die agterkant van die snorkel vas en val deur dreineringsgate uit die snorkelkop sodat dit nie in die pyp af na die enjin gesuig word nie.
Draaikolksnorkel (Vortex) Hierdie is ’n gewilde soort op bakkies wat in oopgroefmyne werk. Dié snorkel het ’n rotorlem binne-in ’n potvormige houer. Die rotorlem draai in die rondte en waai stof na die kante van die pot waar dit in ’n stofvanggat beland en nie in die pyp afwaarts na die enjin gesuig word nie.
’n Bietjie geskiedenis

Die woord snorkel kom uit die Germaanse Schnorchel wat ’n slengwoord is vir neus of snoet. Die eerste verwysing na ’n snorkel is in Aristoteles se boek Oor die dele van diere (350 v.C.) waarin hy skryf oor sekere diere – onder meer die olifant – wat onder die water kan asemhaal deur sy “snoet” bo die wateroppervlak te hou.

Argeologiese opgrawings in Kreta, Griekeland, wys ook snorkels is reeds 5 000 jaar terug al deur seesponsboere gebruik. Dit is nie bekend watter voertuig eerste met ’n snorkel toegerus is nie, maar dit was waarskynlik ’n militêre landingsvoertuig wat uit die romp van ’n boot moes ry, land toe “swem” en dapper deur die vyand se bombardering oor ’n strand moes kruip.