Foto’s Evan Naudé & Piet van Heerde

Die debat oor allooi teenoor staal is nog lank nie verby nie. As jy ’n man met ’n BMW X5 vra, gaan jy gou hoor hoe outyds en belaglik staalvellings is. Vra jy ’n ander man in ’n Land Cruiser 70 en jy hoor weer die teendeel. Waar lê die waarheid?

Staal
Allooi

Voorkoms

Allooiwielvellings lyk mooier as staalvellings – dís ’n feit soos ’n koei. Sommige mense verkies dalk die robuuste voorkoms van ’n staalvelling, maar oor die algemeen vertoon allooi net netjieser.

Weens die aard van die metaal is daar nie baie ontwerpkeuses vir staalvellings nie en heelparty lyk eenders. Jy gaan dus nie rede hê om met jou trokkie se tekkies te spog op ’n hindernisbaan nie, want die kans is goed dat iemand anders dieselfde wiele het.

Daarteenoor kry jy allooiwielvellings in allerlei ontwerpe. Sommige is skreeulelik maar los ’n blywende indruk, terwyl ander fraai maar relatief vergeetbaar is.

Gewig

Een van die argumente wat allooi-voorstanders aanvoer, is dat allooiwielvellings minder weeg as die staalsoort. Die voordeel van ligter wiele is dat hulle flinker stuur en help om jou voertuig vinniger te laat versnel. Maar is flinke stuuraksie en indrukwekkende versnelling belangrike oorwegings vir ’n veldryvoertuig? Nie regtig nie, nè? Hou ook in gedagte dat veldrybande op sigself baie weeg. Die gewigsverskil tussen ’n allooivelling met ’n veldryband en ’n staalvelling met dieselfde band is dus min.

Die gewigbesparing en gevolglike brandstofbesparing wat allooivellings vir ’n swaargelaaide bosbakkie op pad na die Krugerwildtuin bied, word maklik ontdaan gemaak deur jou voorraad braai- en drinkgoed.

Wat wel in allooivellings se guns tel, is die laer ongeveerde gewig (unsprung weight) wat jou voertuig se skokbrekers meer genadig is, sodat hulle betroubaar werk en langer hou.

Roes

’n Staalwielvelling roes alte graag. Jy moet hulle gereeld nagaan – en as jy ’n bruin kolletjie sien, is dit raadsaam om dit dadelik te behandel met skuurpapier, ’n roeswerende middel en ’n nuwe laag verf of chroom.

Allooi roes nie sommer nie, veral nie die moderne soort nie. ’n Hoër nikkelinhoud vertraag roes, maar allooiwiele het ook ’n beskermende lagie wat vog weghou, hoewel dit mettertyd verweer en dan kan die aluminium oksideer. Die oksidasie lyk soos ’n onooglike wit skif wat jy óók kan behandel met skuurpapier, chemikalieë en politoer, maar dit is nie so maklik om te vernuwe nie, tensy jy die allooiwielvellings laat spuitverf.

Duursaamheid

Daar word beweer dat allooivellings sterker is as staal, maar dit hang af van die nikkel-aluminium-verhouding in die allooi. Hoe hoër die nikkelinhoud, hoe sterker die velling, maar hoe swaarder weeg hy.

As jy die aluminiuminhoud verhoog, dan verswak jy die wiel ten koste van gewigbesparing. Meer nikkel is ook geneig om die allooi bros te maak, terwyl meer aluminium die allooi maklik laat vervorm. Allooivellings kry ook gou krapmerkies, en as jy hom hard teen ’n klip stamp, gaan die buiterand van die velling buig (of kraak) en dan ontsnap die lug uit die band. Dis nie iets wat jy langs die pad kan regmaak nie en jy gaan hom na ’n spesialis moet neem om te hoor of hulle die velling kan red.

As dít met ’n staalvelling gebeur, kan jy die duik met ’n hamer regmoker en die band weer pomp. As die lugdruk in jou bande baie laag is en jou staalwielvelling tref ’n rots met só ’n harde slag dat die naaf buig, kan jy darem nog aanhou ry, al is jou wielbalansering daarmee heen. As dieselfde met ’n allooivelling gebeur, gaan hy soos ’n hardgekookte eier kraak en oomblikke later aan skerwe wees. Om dié rede kan jy jou voertuig met ’n hoogligdomkrag aan sy staalvellings ophys – iets wat jy beslis nie met allooi moet probeer nie.

Prys

Allooi is aansienlik duurder as staalwielvellings. Jy gaan tussen R500 en R1 500 betaal vir ’n staalvelling, maar allooivellings begin by R2 000 en gaan op tot ’n aardige prys vir die duurstes.

Soos ons reeds genoem het, kan jy ’n staalvelling self in die bos herstel, maar as jy nie lus het nie, kan jy die werkie vir ’n metaalwerker gee om teen ’n paar rand reg te maak. Om ’n allooivelling te herstel hang van die aard van die skade af, maar die minimumprys is gewoonlik rondom R300 en meer. 

Diefstal

Omdat staalvellings betreklik goedkoop is, gaan ’n dief nie sommer sy tyd daarmee mors nie. Waarom sal hy die risiko loop om gevang te word met iets wat geen noemenswaardige markaanvraag het nie?

Duurder allooiwielvellings, daarenteen, is meer gesog. Jy hoef darem nie slapelose nagte te hê uit vrees dat iemand jou peperduur Dick Cepek-wiele van jou Prado gaan afsteel nie, want 17x8.5/6x139.7-wielvellings gaan byvoorbeeld nie op ’n VW Golf pas nie.

En dit sit nie in sommer enige dief se broek om ’n swaar veldryvoertuig met ’n hoë grondvryhoogte op te lig en ’n stapel bakstene onder die as te pak nie. Kortom: ’n Dief gaan eerder allooivellings ter waarde van R10 000 elk steel as staalvellings wat minder as ’n R1 000 kos, maar op die ou end is die kans betreklik laag dat iemand 4x4-wiele gaan steel, veral as daar gewilder wiele in jou buurt is om vas te lê.

Slotsom

Daar is talle redes waarom allooi beter is as staal. Hulle raak nie so warm soos staal nie, hulle weeg minder, hulle lyk mooier en hulle roes nie sommer nie.

Ál hierdie oorwegings is belangrik, ja, maar die eenvoud en betroubaarheid van staal troef al die voordele van allooi as dit by oorgrens-ekspedisies kom.

Weermagte en avonturiers maak nie om dowe neute op staalvellings staat nie.

Michelin se ruimte(t)wiel

Die Tweel is ’n lugvrye band wat deur die Franse vervaardiger Michelin gepatenteer is. Dié wiel beskik oor ál die voordele van ’n blootsband (binnebandlose buiteband), maar sonder enige van sy nadele. Die wiel bestaan uit ’n rubberloopvlak wat aan ’n wiel van poliüretaan vasgegom is.

Behalwe dat hy nie kan pap word nie, kan hy méér gewig dra, hy rem vinniger, gee ’n gemakliker rit en hy laat feitlik geen sywaartse beweging toe nie, wat sorg vir uitstekende padhouvermoë.

Waarom is hierdie verstommende wiel dan nie op elke motor nie? Die Tweel se gewildheid by vurkhysers, grassnyers en quads is wel besig om toe te neem. ’n Leidraad is dat dié voertuie almal stadig is.

Die Tweel is blykbaar raserig as jy vinnig ry, maar dis nie ’n onoorkombare probleem nie en kan reggestel word. Die struikelblok is eerder dat die gewone ou blootswiel behoorlik in die motorbedryf ingegrawe is. Die Tweel gaan nuwe wetsontwerp nodig kry, tegnici by motorhawens gaan heropleiding moet ontvang en die patentreg moet toelaat dat ander bandevervaardigers ’n soortgelyke produk mag maak – anders het Michelin ’n onregverdige monopolie.

Michelin is ieder geval heeltemal tevrede om blootsbande te vervaardig, gerus in die wete dat die patent vir die Tweel veilig in sy besit is.

Die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, gebruik die Tweel-patent vir sy Mars-robotte, en volgens Michelin gaan hy hom beywer om dié lugvrye bande op alle elektriese selfryvoertuie te sit. Dit gaan glo die bedryfskoste vir selfryoperateurs verlaag, en die behoefte verwyder dat iemand moet weet hoe om ’n band te ruil. Viva die wiel!

Vra die professor

Het jy ’n kwelvraag vir die 4x4-professor? Wonder jy byvoorbeeld of jou bosbakkie weer deur die toets gesit moet word nadat jy ’n bosbreker laat aanbring het? Is daar wetgewing oor die maksimumgewig op jou dakrak?

As die professor nie self weet nie, vra ons ’n kenner. Stuur gerus e-pos na rysleep@weg.co.za.