FOTO'S: Ronel Steyn

Hi-Tec se nuwe middelslag stapstewel, die Wild-Fire Mid i, het nou die dag hier by ons kantoor opgedaag met die uitnodiging om dit op die proef te stel. Gee ons ’n halwe verskoning om ’n ent in die berg te gaan stap, en ons gryp dit met albei hande (en voete!) aan.

Ek het ’n ordentlike stel stapstewels in my kas wat nou al meer as 15 jaar lank diens doen. Sulke lekker swaar magefters wat goed ingeloop is en ’n kernoorlog sal oorleef. Perfek as jy ’n week lank die Vis gaan stap, maar haas onbruikbaar om elke dag te dra.

Die afgelope jare dra ek my veldloop-drafskoene (dié waarmee ek op grondpad hardloop) as ek dag- en naweekstappe doen. Dis lig en gemaklik en ek gaan nie sommer blase kry oor sulke korterige afstande nie.

Maar dit het sy nadele. Ek het ’n paar fris rugbybene wat met die dun enkels van ’n Gucci-model by my voete ingeskroef word. My enkels dop so maklik om soos ’n Labrador wat op sy rug gaan lê vir ’n maagkielie as ’n inbreker by die agterdeur instap.

Ek het ’n paar fris rugbybene wat met die dun enkels van ’n Gucci-model by my voete ingeskroef word...
Fokus op die skoene, nie die enkels nie.

As jy op gelyke grondpad stap is dit nie ’n probleem nie, maar wat gebeur as ’n mens byvoorbeeld in die Jonkershoek-natuurreservaat na die Eerste en Tweede Waterval wil stap?

Los rivierklippe, skerp kliprante, smal paadjies en hier en daar steil affe en oppe… Ek hoef net hieraan te dínk om te voel hoe my enkels boedel oorgee.

Ek dink al lank daaraan om ’n paar liggewig-stapstewels te kry. Toe die Wild-Fires hier opdaag, was dit asof iemand my gedagtes gelees het – ’n bietjie soos Facebook wat’n biltong-advertensie op jou newsfeed wys nog voordat jy besef het jy’s lus vir biltong!

Tuis in Jonkershoek

EERSTE INDRUKKE

Dis ’n ligte stel stewels dié. Verbasend lig – soos Floyd Mayweather in vergelyking met die Mike Tysons in my kas. En ek weet dis subjektief, maar dis nogal ’n aantreklike paar skoene.

Verbasend lig – soos Floyd Mayweather in vergelyking met die Mike Tysons in my kas.

Hulle lyk mooier as wat stapstewels hoef te lyk. Die paar wat ek getoets het was grys en kakie (jy kry hulle ook in grysbruin en goud), en ek het hulle die eerste week lank elke dag gedra. Deels om hulle in te loop (dalk is dit deesdae glad nie eens meer nodig nie) maar ook omdat ek glad nie omgegee het om hulle dorp toe en kantoor toe te dra met ’n paar jeans nie.

HOE VOEL HULLE?

My definisie van ’n paar gemaklike skoene vir alledaagse gebruik is dat jy nie eintlik deur die loop van die dag aan hulle moet dink nie.

Jy dink aan hulle wanneer jy hulle in die oggend aantrek, en dan saans weer wanneer jy hulle uittrek. Vir die res van die dag wil ek niks van hulle weet nie. Die Wild-Fires is nogal so. 

Hulle doen hulle werk sonder om ’n oorlas van hulself te maak. Dis nie skoene wat aan jou karring nie.

Hulle doen hulle werk sonder om ’n oorlas van hulself te maak.

Daar is twee dinge wat hier ’n rol speel. Eerstens iets wat OrthoLite® Impressions-tegnologie genoem word, ’n skuimrubberbinnesool wat stadig sy vorm herwin sodat jy die skoen gemaklik ’n klomp dae kan dra.

En dan is daar die ligte gewig van die skoen, moontlik gemaak deur XLR8. Nee, dis nie ’n warmgemaakte Ford V8 uit die jare ’80 nie! Dis ’n spesiale midsool wat ligter is as ander materiaal, meer skok kan absorbeer en meer energie kan herwin.

Netjies man, netjies . . .

Dis alles fraai, maar dit help niks as die skoen nie in die veld sy man kan staan nie.

Ek het hom juis in een van my gunstelingplekke ter wêreld, die Jonkershoek-natuurreservaat buite Stellenbosch, gaan toets – op daai einste 6 km lange staproete na Eerste en Tweede Waterval. Daar’s min dinge so mooi soos ’n windstil, sonnige wintersdag in die Kaap, en dit was een van daai dae.

Dis nie ’n tegniese roete nie, maar jy moet by tye jou trap tussen velde vol proteas ken en jy gaan ’n riviertjie of twee moet oorsteek. Jy moet ook by Tweede Waterval oor groot rotse klouter as jy naby aan die val wil kom. Dis veral met die terugstap waar daar plek-plek steil afdraande is – natterige los klippe jou dag kan bederf as jy nie mooi trap nie.

Daar’s min dinge so mooi soos ’n windstil, sonnige wintersdag in die Kaap, en dit was een van daai dae.

Dis hier waar die MDT-buitesole hulle waarde gewys het. Hi-Tec noem dit ’n gevorderde multi-rigting vastrapsool, maar ek weet net ek het nooit met ’n steil op- of afdraande rondgegly nie.

Die agterkant van die skoen het my hak lekker stewig vasgehou, en die veters wat deur ’n Ghillie-stelsel geryg word, het gesorg dat my resiesperd-enkels nie hulle eie rigting inslaan nie.

Ek weet daar is party stappers wat beweer vuil skoene het “houding” en die vuilheid bewys jy gebruik hulle soos hulle veronderstel is om gebruik te word, maar ek hou nie van ’n morsige loopding nie.

Hoewel ek deur modder, en soms deur en oor water moes loop, het die onsigbare i-shield-lagie oor die skoen wraggieswaar gehelp om druppels en spatsels weg te werp, en het die Wild-Fires aan die einde van die roete nog netjies gelyk.

SLOTSOM

Die Wild-Fires is die sportnutsvoertuig van die skoenwêreld: gemaklik in die dorp, maar meer as bekwaam genoeg as jy hom veld-in wil neem om die buitelug te geniet. Dit het my ook opnuut laat besef hoe ver skoentegnologie die afgelope 15 jaar gevorder het. Dankie tog vir vooruitgang!

PRYS
Jy kan die Wild-Fire Mid (steenkoolkleur) eksklusief by www.capeunionmart.co.za koop vir R999. Waarvoor wag jy? Jou enkels gaan jou bedank.