Só maak jy

1. Haak jou woonwa en meet die laagste punt tussen die modderskerms en die pad. Trek 30 mm by dié mate af om speling vir die vering te gee.

2. Trek die buitelyn van die flappe op ’n harde stuk karton na. Merk die monteergate sodat dit met dié op jou voertuig ooreenstem. (Sien die wenke.)

3. Laat iemand die karton vashou terwyl jy seker maak die onderkant van die modderflappe is parallel met die pad en teken die flappe daarop af.

4. Sny die vorms met ’n handwerkmessie uit die rubbermat.

5. Boor die gate in die kartonvorms – dit moet groot genoeg wees dat ’n pen of potlood daardeur pas. Merk die gate op die rubbermat. Die ruimte tussenin kan in sommige modelle vir die agter- en voorflappe verskil.

6. Boor 8 mm- tot 10 mm-gate vir die boute in die rubber. As jy versigtig werk, kan jy die gate effens groter boor sodat jy die flappe ’n bietjie kan rondskuif om hulle op die regte plek te kry voordat jy hulle vasskroef.

7. Skroef die ou flappe af, posisioneer die nuwe flappe reg en skroef dit vas. Bout hulle stewig vas met die groot wassers. Jy kan die boute met 30 mm-sinkboute vervang as die oorspronklikes te kort is vir die nuwe flappe.

WENKE
  • Jy wil die modderflappe nommerpas hê. Gaan só te werk om die grootte te bepaal: As die bande 285 mm breed is, moet die flap 10 mm aan elke kant oorsteek. Sny dit dan 305 mm breed.
  • Onthou, moenie met lang modderflappe teen hoë sypaadjies opry nie; die wiel kan dit teen die randsteen vasdruk en die flap uit sy montering skeur.

Inkopielys

  • 1 stuk 6 mm- versterkte rubbermat (die soort waarop jy soldeerwerk doen), grootte na gelang van die bandgrootte en grondvryhoogte
  • 2 stukke stewige karton van sowat 500 x 500 mm (die omslag van ’n boogknipleêr werk goed)
  • 4-6 boute met bypassende wassers, dieselfde grootte maar langer as dié waarmee die modderskerms agter die wiele aan die onderstel vasgeskroef is.

Gereedskap

• maatband
• potlood
• handwerkmessie
• boor met ’n 8 en 10 mm-boorpunt
• skroewedraaier of moersleutel