TRADE POWER-KRAGOPWEKKER

Gladde kalant

Heelparty oorde verbied tradisionele kragopwekkers omdat hulle so hard raas terwyl jou medekampeerders in stilte wil ontspan.

Jy kan sonde met die bure vermy met hierdie 2 000 W-petrolmodel met sy neutrale sinuskurwe. Jy kan hom huur by Go Camp en hy’s betreklik stil vergeleke met die opwekkers van ouds.

Hy loop op loodvrye petrol wat in ’n interne tenk van 5,7 l gehou word. Die opwekker weeg ’n skamele 31 kg en een tenk verskaf 220 V (én 12 V) vir langer as vier uur.

Prys: R540 vir drie dae se huur by Go Camp.

Ry & Sleep sê
Huur hom eers vir ’n paar dae en as hy jou goedkeuring wegdra, kan jy hom by Go Camp oorkoop.


SFC ENERGY EFOY COMFORT

Skoon en groen

As sonkragstelsels eenvoudig nie aan jou energievereistes voldoen nie en jy is bekommerd oor die besoedeling van gewone kragopwekkers, sal die Duitse energieverskaffer SFC Energy dalk ’n oplossing vir jou behoeftes bied – veral as jy ’n groot woonwa of boot sleep.

Die Efoy Comfort is ’n toestel wat ’n mengsel van metielalkohol en suurstof gebruik om ’n direkte stroom (DC) elektrisiteit op te wek vir ’n 12 V-toestel.

Die vervaardiger beweer sy toestel raas minder as ’n skootrekenaar en die uitlaatgasse bestaan uit stoom en koolstofdioksied.

Die toestel weeg 8,5 kg wanneer hy vol brandstof is.

Daar is drie modelle: die Efoy 80, 140 en 210 wat onderskeidelik 960 Wh, 1 728 Wh en 2 520 Wh per dag opwek.

Prys: Vanaf R42 235 by Atkins Industries.

Ry & Sleep sê
Die Efoy Comfort kan ’n wakende oog oor jou voertuig se battery hou én hom laai, indien nodig. 


MAGNETO- HERLAAIBARE LED-LANTERN

Aandagtrekker

Hierdie veelsydige lanterns het die afgelope paar jaar uiters gewild geword, veral nadat Eskom met sy streke begin het. Hulle doen nie bloot diens as lanterns nie, maar het ook USB-sokke waarin jy selfone kan prop om te herlaai as dit nie anders kan nie.

Die lantern se lig het twee verstellings waarvan die helderste 1 000 lumens straal. As jy hom egter flouer stel, kan die lig vir tot 60 uur skyn. Die Magneto-lig het stroombane wat hom beskerm teen té vinnige ontlaaiing en oorlaaiing.

Prys: R200 by Builders

Ry & Sleep sê
As jy hom by die huis gebruik, kan jy hom by die muur inprop – sodra die krag dan afgaan, sal die lantern outomaties aanskakel.
Hierdie veelsydige lanterns het die afgelope paar jaar uiters gewild geword, veral nadat Eskom met sy streke begin het.


Everlotus
Everlotus S3-1399S/BT

EVERLOTUS S3-1399S/BT

Waarde vir geld

Die piepklein Everlotus lyk soos ’n tipiese kamplanterntjie wat jy aan ’n tak kan hang, maar hy’t ook ’n FM- radio en MP3-speler met Bluetooth-tegnologie.

Hy’t ’n USB-kabel wat in vier soorte sokke pas én hy het twee 2 W-LED-liggies.

Die 4 V-loodsuurbattery kan een van die LED-liggies vir 23 uur laat brand of albei vir 12 uur, en jy kan vir 15 uur aaneen na RSG luister.

Prys: R580 by Camp & Climb

Ry & Sleep sê
Dit neem 6 uur om die toestel met Eskom-krag te laai, en 10 uur met die sonpaneel.


GO CAMP-SONPANEEL

Sonvanger

Hier op die suidpunt van Afrika geniet ons heerlike sonskyn – feitlik heeljaar lank. Maak gebruik van hierdie gratis energie met dié opvoubare 120 W-sonkragpaneel.

Hy kan kleinerige elektriese toestelle direk aandryf óf ’n battery herlaai. Hy vou klein op: 525 mm lank, 285 mm breed en 23 mm dik, maar sy mate is 1 415  x 525 x 3 mm as hy oopgevou is.

Prys: R350 vir drie dae se huur by Go Camp

Ry & Sleep sê
Hierdie eenheid is ’n goeie pasmaat vir Go Camp se batteryboks.


Everlotus S20-2377
Everlotus S20-2377

EVERLOTUS S20-2377

Alles-in-een

Die grootste eenheid van die Oosterse energiemaatskappy Everlotus is ook ’n reusagtige Bluetooth-luidspreker – dis veral nuttig as jy laatnag in die Richtersveld lus kry om karaoke te sing – maar die ingeboude 300 W-omskakelaar kan vier LED-ligte vir 12 uur laat brand of twee vir 24 uur.

Jy kan tot ses toestelle soos skootrekenaars en selfone laai afhangend hoeveel krag hulle trek. Dit duur ses uur om hom by jou huis propvol krag te laai en tien uur in die bosveld met die sonpaneel wat saam met die laaier verskaf word.

Die hele eenheid weeg ’n raps onder 10 kg.

Prys: R2 995 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê
Die ingeboude LED- lig help dat jy ’n oog oor alles hou.



GO CAMP-BATTERYBOKS

Slim stelsel

Hierdie diepsiklusstelsel van die kamptoerustingverhuringsmaatskappy Go Camp gebruik ’n hoërgraad-solenoïed wat in die houer ingebou is. Die solenoïed skakel outomaties oor tussen jou voertuig se battery en die stelsel se eie battery om toestelle aan te dryf.

Die Ctek 220 V-slimlaaier hou ’n oog op die 104 Ah-droëselbattery en het ’n sonkragreguleerder vir wanneer jy sonkragpanele wil koppel. Go Camp se stelsel kan uiteraard krag verskaf aan ys-vrieskaste en LED-ligte, maar jy kan ook laekrag-toestelle soos pompe, kompressors en 12 V-katoeters inprop.

Prys: R480 vir drie dae se huur by Go Camp.


KRY DIE PRODUKTE HIER

Atkins Industries: 064 906 6182

Camp & Climb: campandclimb.co.za

Go Camp: gocamp.co.za

Builders: builders.co.za