Illustrasies Dominic Wienand

Die dubbelbatterystelsel bestaan uit ’n tweede (of derde) battery wat aan jou voertuig se alternator gekoppel is. Die doel daarvan is om elektrisiteit aan jou yskassie of cappuccinomasjien te verskaf sonder om jou hoofbattery leeg te tap. Jy kan jou eie dubbelbatterystelsel prakseer óf jy kan een van talle klaargemaakte stelsels koop en in jou voertuig laat aanbring.

Installeer hom só

Die eenvoudigste manier is soos volg: Heg die punt van een batterykabel aan die negatiewe pool van jou hoofbattery en die ander punt aan die negatiewe pool van jou tweede battery. Heg ’n tweede batterykabel aan die positiewe pool van die hoofbattery en die ander punt aan ’n isoleerder.

Van die isoleerder af loop daar nog ’n batterykabel na die positiewe pool van jou tweede battery. Let wel dat jy smeltdrade vóór en ná die isoleerder in die positiewe batterykabels moet aanbring. Nou kan jy jou gunstelingkamptoestel aan die tweede battery koppel. Die isoleerder keer dat jou ys-vrieskas die hoofbattery se elektrisiteit steel.

Die doel van die ekstra battery(e) is om elektrisiteit aan jou yskassie of cappuccinomasjien te verskaf sonder om jou hoofbattery leeg te tap.

Die isoleerder kan ’n eenvoudige skakelaar wees wat jy self aan- of afskakel om die tweede battery te herlaai Dit is egter ’n beslommernis, want as jy in die oggend wegtrek, moet jy eers ’n ent ry om jou hoofbattery tot op 12,6 V te laai, dan moet jy aftrek en die skakelaar wip sodat die tweede battery ook laai, en as jy vanaand by jou kampplek stop, moet jy die skakelaar wéér wip om die hoofbattery te isoleer sodat hy môreoggend nog sterk genoeg is om jou trokkie se enjin te swaai.

Nee wat, vir die beste resultate uit ’n dubbelbatterystelsel stel ons eerder ’n intelligente solenoïed voor. Dié toestel weet self wanneer jou hoofbattery volgelaai is en eers dan sal hy die elektriese stroom uit die alternator met jou tweede battery deel.

As jy die tweede battery in jou sleep- of boswa wil monteer, kan jy nie die standaardligsok gebruik om die battery te laai nie. Hy’s nie naastenby opgewasse vir die laaistroom nie en dit gaan groot probleme veroorsaak.

Kry eerder “Anderson”-proppe (12 V, 120 A) waarmee jy die batterykabels tussen jou sleepvoertuig en jou wa kan koppel.

Die installasie van ’n dubbelbatterystelsel is ’n taak wat liefs deur ’n motorelektrisiën uitgevoer moet word, maar as jy hou van selfdoentakies, kan jy National Luna se toestel oorweeg. Dis verspotmaklik om self te installeer en lewer uitstekende resultate.

Ons het met Peter Slement, eienaar van National Luna, gesels oor hulle selfdoenstelsel.

Ons vrae aan National Luna

Waar moet die battery geïnstalleer word?

“Onder die enjinkap is ’n goeie plek as jy die stelsel permanent wil monteer, maar National Luna bied ’n draagbare dubbelbatterystelsel wat jy agter in jou sportnutsvoertuig kan staanmaak en saans uithaal as jy dit in jou tent wil gebruik.”

Is dit nie gevaarlik om ’n battery in die kajuit te hê nie?

“Kyk, as jy die swaelsuur en waterstof in ’n battery kan ruik, dan is dit tyd om hom te vervang. Jy moet in elk geval wegbly van daai ou soort batterye met die proppies wat kort-kort met batterywater opgevul moet word. ’n Moderne verseëlde battery sal nie gevaarlike gasse in jou voertuig vrystel nie.”

Watter battery is die beste?

“Die kort antwoord is dat die tweede battery so groot as moontlik (maksimum Ampère-ure) moet wees omdat jy hom nooit heeltemal wil paptrek nie. By National Luna verkies ons absorberende Glass Matt-batterye (AGM) omdat dit vinnig herlaai, soos ’n diepsiklusbattery optree én hoëvolumekrag kan vrystel.”

Is ’n alternator sterk genoeg om ál die batterye te laai?

“Jou motor se alternator is nie ’n diepsiklusherlaaier nie. Jy gaan weldra agterkom dat die tweede battery altyd aan die agterspeen suig en dikwels nie heeltemal gelaai word nie, veral as jy jou voertuig se enjin gereeld afskakel of kort ente rondry.

“Buiten dat jy waarskynlik jou voertuig se standaardalternator met ’n sterker een moet vervang, is dit ook noodsaaklik dat jy jou tweede battery gereeld aan ’n ordentlike herlaaier koppel wat die gesondheid van jou battery meet en hom met die korrekte stroom herlaai.”

Batteryfeite

Ons het by ’n kenner gaan aanklop om raad oor die onderhoud van batterye. Reinhardt Avenant, bestuurder van Battery Pro in Bellville, het ons vrae beantwoord.

Is dit skadelik om ’n enjin met oorleikabels aan die gang te kry?

“Nie noodwendig nie, mits die skenkerbattery dieselfde grootte of groter is as die pasiëntbattery. Koppel die twee batterye – rooi (+) aan rooi – swaai die enjin van die gesonde voertuig en koppel die swart (-) oorleikabel.

"Swaai die enjin van die gestrande voertuig en ontkoppel die skenkerbattery onmiddellik – swart oorleikabel eerste, dan rooi – nadat die enjin begin werk het. Moet nooit ’n groot battery met ’n klein battery jump start nie.”

Hoe lank kan my voertuig staan voor die battery pap word?

“Twee tot drie weke, want daar is altyd iets wat stroom trek. Dink aan ’n motor se immobiliseerder en die horlosie in die instrumentepaneel. As jy een van die battery se pole ontkoppel, kan die lading van ’n gesonde battery vir tot ’n jaar hou.”

Wat is die tipiese lewensduur van ’n battery?

“Batterye hou 3-8 jaar, maar ons het al batterye gesien wat eers ná 10 jaar vervang is. Daarteenoor het ons ook al gevalle gehad waar ’n klant ’n battery binne ’n enkele dag verwoes het.”

Hoe maak ek seker ek kry die maksimumlewensduur uit ’n battery?

“Hou die battery se watervlak dop. Die plaatjies moet nooit hoog en droog bo die wateroppervlak uitsteek nie. Toets ook gereeld jou voertuig se alternator – dít is baie belangrik. ’n Gesonde alternator genereer 13,8-14,2 V. Minder as dit en hy gaan jou iewers in die steek laat.

“Moet nooit jou motor se ligte aan vergeet nie. Dis erg nadelig as ’n battery op dié manier pap word. As dit een keer gebeur, is dit sleg genoeg, maar ná ’n tweede of derde keer kan jy die battery net sowel weggooi.

“Wanneer jy ’n battery verwyder, moet jy dit op ’n koel, droë plek bêre. In ons werkswinkel het ons gevind batterye wat op die koue betonvloer staan, verloor aansienlik vinniger lading as dié wat ons op houtrakke langs die kasregister uitstal.

“Wissel gereelde kort ritte af met ’n lang rit van ’n paar uur. As jy daagliks werk toe pendel, moet jy naweke ’n bietjie wegbreek platteland toe.”

Hoe toets ek ’n battery?

“ ’n Gewone huishoudelike multimeter sal die battery se lading vir jou aandui as jy onraad vermoed. In ons werkswinkel het ons egter ’n gespesialiseerde toestel wat ook die battery se Ampère-ure kan bepaal, en dít is ’n beter aanduiding van die battery se algehele gesondheid.”

Sal daar ’n kortsluiting plaasvind as ’n battery nat word?

“Nee. Jy kan deur diep riviere ry en die battery kan heeltemal onder water wees en daar sal niks gebeur nie, mits die enjin aanhou loop en die kragtoevoer nie onderbreek word nie. Maar as die enjin stol, gaan jy vind dat die aansitter nie so lekker werk onder die water nie.”

’n Bietjie geskiedenis

Die battery is in 1800 deur Alessandro Volta gepatenteer – nou weet jy sommer ook waar “Volt” vandaan kom! Volta het 20 jaar voor dit dopgehou hoe sy vriend Luigi Galvani ’n padda dissekteer. Luigi het die padda aan ’n bronshoek gehang, en elke keer wanneer hy die lem van sy ystermessie in die dooie padda se boud gesteek het, het die padda se been geskop.

Die stomme Luigi kon dit nie begryp nie, maar Volta het later ontdek dat twee verskillende soorte metale wat deur ’n vogtige medium verbind is, elektrisiteit opwek.

Die battery wat Volta in 1800 gepatenteer het, het bestaan uit verskeie sink- en koperskywe wat in soutwater gedompel is. Jy kan Volta vandag bedank vir elke kopliggie, draagbare radio, slimfoon en ontelbare ander uitvindings wat op ’n battery staatmaak om te werk.

Bronne  batteryfaq.orgnationalluna.comoverland.co.za