Onthou, sonder ’n diepsiklusbattery gaan die Hella-sokke wat reeds daar is waarskynlik net werk terwyl jou wa aan jou kar gekoppel is. (Lees hier meer oor diepsiklusbatterye)

Só maak jy

AS JOU WA REEDS HELLA-SOKKE HET

1. Skroef jou waentjie se koppelprop, wat langs jou voertuig se sleepstang inprop, oop. 

2. Maak die draad los op punt nr. twee van jou kragpunt (die punte is gewoonlik mooi aan die agterkant gemerk, jy sal jou dus nie doodsoek nie). Dis gewoonlik ’n blou draad. 

3. Knip die Hella-sokke se drade net agter die neuskas af, waar hulle saam met die ander drade in ’n harnas in die onderstel van die waentjie na die agterligte loop. (Pasop dat jy nie die hoofdrade knip en sonder ligte Drakensberg toe moet ry nie!) 

4. Draai isoleerband om die punte wat jy afgesny het en druk die drade terug in die harnas. 

5. Boor ’n gaatjie aan die onderkant van die neuskas en druk die ander twee punte van die Hella-sokke se drade deur die gat. (Party waentjies het reeds ’n gaatjie wat met ’n proppie toegemaak is. Haal dan net hierdie proppie uit.)

6. Soldeer twee langer drade aan wat tot by die battery gaan kom, koppel dan ’n smeltdraad en aankrimppunte en koppel dit aan die battery. Jou wa se Hella-sokke behoort nou krag te hê sonder dat dit aan jou kar gekoppel is.

Inkopielys

• isoleerband
• 1 m elektriese draad, 6 mm-dikte
• 30A-smeltdraad
• 2 aansoldeer- of aankrimppunte
• 1 smeltdraadkassie

Gereedskap

• sterpuntskroewedraaier
• sykniptang
• boor met ’n 20 mm-gatsaag
• soldeerbout en soldeersel