fotos Kyle Kock

Toe ons laasmaand van die gewilder houtsoorte op die proef gestel het om te sien watter een brand die warmste, moes ons noodgedwonge ons byl nadersleep om die hout in ewe groot stukke te kap.

Ná die toets het ons egter nie die byl net in die buitekamer gaan gooi waar hy geduldig wag tot ons weer gaan kamp nie, want soos met enige ander kamptoerusting is dit so dat jou byl ’n belegging is waarna jy mooi moet omsien.

Die voormalige Amerikaanse president Abraham Lincoln het op ’n keer gesê as hy ses uur het om ’n boom af te kap, sal hy die eerste vier gebruik om die byl te slyp. Ou Abe was nie net eerlik nie, maar ook wys. Iets wat jy deesdae selde by politici sien.

Ons gaan nie hier oor jou keuse van byl gesels nie, maar dalk is dit tyd om nuwe lewe te blaas in die een wat jy gebruik wanneer julle gaan kamp.

Gaan loer in die motorhuis of jy enige van dié stukke gereedskap byderhand het.

Jy benodig

1. ’n Stomp en geroeste byl wat baie liefde en aandag nodig het.

2. Asyn – om die roesdeeltjies op die byl se oppervlak af te breek.

3. ’n Kombuissponsie met ’n skuurder – om die roes en vuil plekke skoon te maak.

4. Lynolie – daar is heelwat debat op die internet oor of jy rou of gekookte olie moet gebruik. Ons het gekookte olie gebruik omdat dit vinniger intrek en droog word.

5. Skuurpapier – ons het 100-, 220- en 800-grint gebruik om die byl en sy handvatsel te skuur.

6. ’n Ystervyl – ons het twee kleintjies gebruik om die byl skerp te maak.

7. ’n Slypsteen – dis nie noodsaaklik nie, maar dit kom handig te pas as jy jou byl baie skerp wil slyp.

8. Kombuispapier en lappe – dis nogal ’n morsige besigheid. Gebruik die kombuispapier om die olie te absorbeer soos jy aangaan.

9. Latekshandskoene – dit keer dat enige skerp reuke van die olie op jou hande agterbly.

10. ’n Stel dikker handskoene – gebruik dit nadat jy die rand van die byl gevyl het en dit skerper raak. Eerder Bangjan...


1. Maak skoon

Gewoonlik word ’n byl se kop nié van vlekvrye staal gemaak nie – en dit geld selfs vir dié van die hoogste gehalte. As die byl dus vir lang tye aan die elemente blootgestel en gereeld gebruik word, gaan dit lei tot oksidasie en verkleuring. Dit is die eerste aanduiding dat jou byl besig is om te roes.

Maak die byl se kop ordentlik nat met asyn en gebruik die kombuisspons se skuurkant om die roes af te kry. Ons byl het ’n laag verf gehad en ons het sommer ook daarvan ontslae geraak.

2. Skuur, skuur, skuur...

Die volgende stap is om van die res van die vuiligheid ontslae te raak en die byl gereed te kry om geslyp te word. Begin met ’n growwegrint-skuuurpapier. Ons het met 100-grint begin, maar as jou byl lyk of hy deur die oorlog is, begin dalk met ’n 60-grint.

Wenk: Gebruik ’n G-klamp om die byl vas te maak terwyl jy dit afskuur, want jy gaan heelwat krag moet inspan.

3. Wees skerp

Nou is dit tyd om die byl se rand te vyl. Gelukkig is dit nie naastenby so angswekkend soos dit klink nie. Moenie probéér om van die staal op jou byl se snykant ontslae te raak nie – hou op die bestaande profiel van die rand.

Met ’n byl is dit nie ’n presiese wetenskap nie en jy kan sommer met die oog skat. As jy egter een van daardie katoeters het waarmee jy ’n presiese hoek kan bewerkstellig, kan jy dit vir bykomende gemoedsrus gebruik. Vyl diagonaal in die rand in en herhaal die proses in die teenoorgestelde rigting tot jy terug is by die punt waar jy begin het.

Gebruik vyle met verskillende grinte vir ’n skoon snykant.

Wenk: ’n Bastervyl, wat van verharde staal gemaak is, werk die beste hiervoor. Dit byt in die metaal van jou byl in en sal jou help om die profiel van die snykant te behou.

4. Opgekikker

Gebruik die oorskietskuurpapier om jou byl se handvatsel af te skuur en voor te berei vir ’n laag olie en politoer. Albei ons byle het ’n houthandvatsel en ons het dit oornag in lynolie geweek sodat dit mooi geabsorbeer kan word. Jy kan ook die kop van die byl met ’n laag lynolie behandel.

Ons het sommer ook die slypsteen in die olie geweek voor ons dit gebruik het om die snykant af te rond. Afhangend van die weer behoort dit nie veel langer as ’n dag te neem om droog te word nie.

As die handvatsel nog taai voel, skuur hom weer af en verf nog ’n laag olie oor. Dit behoort dan vinniger te absorbeer.

As jy jouself in die byl wil sien, gebruik politoer en vryf hom blink. Die enigste gevaar is dat jou byl nou só mooi gaan wees dat jy hom nie weer wil gebruik nie.

Waarskuwing: Lynolie is hoogs vlambaar; wees versigtig hoe jy van die papier en lappe ontslae raak. Was die lappe eers in seepwater.

5. Laastens

Moenie jou byl stoor op ’n plek wat te droog óf bedompig is nie. Droë toestande kan die handvatsel laat krimp en kraak, en wanneer dit bedompig is, kan dit daartoe lei dat hy swel en skeeftrek. Hou die byl se snykant skerp en gee jou handvatsel elke jaar ’n laag olie. Dan gaan hy jou ’n leeftyd hou