Onthou jy die dae toe jy met net ’n padkaart die langpad na die kampplek gevat het? Wel daardie dae is verby – mits jy weet hoe om jou GPS te gebruik.

Twee dekades gelede was dit hoofsaaklik weermagte, vlieëniers en seevaarders wat die Global Positioning System – of dan satellietnavigasie – gebruik het om hulle weg te vind.

Met die koms van GPS vir algemene gebruik, internetgereedskap soos Google Maps, en slimfone het dié prentjie verander.

As jy ’n paar basiese dinge reg doen, hoef jy nooit weer die pad byster te raak en in die donker tent op te slaan nie, sê Johann Groenewald van Tracks4Africa op Stellenbosch.

JY KÁN SONDER GPS

Omdat die meeste slimfone vandag met Google Maps toegerus is, is ’n GPS nie regtig nodig vir die kampeerder wat net in die land wil rondry nie, sê Johann. “In die stad ry ek self met Google. En as ek buite die land ry en nie my selfoon se datapakket wil uitput nie, gebruik ek ons GPSkaarte.

Ek wil amper vir ouens aanbeveel om op Google Maps te bly as hulle net tussen dorpe in die land wil ry. Dit werk – selfs vir van die grondpaaie. Een van die groot besware teen Google is dat die rytye nie altyd akkuraat is nie, maar as jy op die hoofweë en sekondêre paaie bly, is dit nie ver van die kol af nie.

“Google Maps en Google Earth en gratis sagteware soos Garmin se BaseCamp wat jy op jou rekenaar kan aflaai, is ook nuttige gereedskap om roetes te beplan.”

DIÉ EEN OF DAAI EEN?

Die keuse lê tussen ’n algemene straatnavigeerder of ’n duurder buitelug-GPS, wat veral bedoel is vir reisigers wat die agterpaaie wil vat.

Straatnavigeerders

“Die straatnavigeerder is gebou vir stedelike navigering – hy gee jou nie veel meer as Google nie. As jy bloot ’n GPS soek wat jou van punt A tot by punt B bring of ’n ekstra kaart daarop wil laai, kan jy een van Garmin se goedkoopste Nüvi-GPS’e koop. (Deesdae kan jy een koop met straatkaarte wat jy elke jaar gratis opdateer. Dis ’n groot pluspunt.)

“Hierdie GPS’e steek om ’n goeie rede inligting vir jou weg. As jy in die stad ry, is daar heeltemal te veel punte om op die skerm te wys. Die kaart word bloot vereenvoudig; dié inligting is wel daar as jy dit op die GPS soek. As jy ’n bietjie ekstra wil hê, kan jy kaarte oplaai wat met Garmin-GPS’e versoenbaar is (soos Tracks4Africa s’n).

“Mense dink dis slegs vir 4x4-ouens, maar net sowat 15% van ons data is vir 4x4-paaie – die res is paaie wat almal kan ry. Ons spesifiseer punte vir reisigers. In dié stadium het ons nog nie al die straatname vir al die klein dorpies nie, maar ons sal wel vir jou sê waar jy kan brandstof ingooi, kamp, eet, koop én waar jy in ’n noodgeval om hulp kan aanklop.”

Buitelug-GPS’e

“Buitelug-GPS’e, soos Garmin se Montana, steek ook inligting weg, maar jy kan hom verstel om punte te wys. As jy in die middle van nêrens ry en daar is net twee paaie en vyf punte, is dit nie nodig om die vereenvoudigde kaart op die skerm te hê nie. Baie van daardie paaie het nie name nie en ons maak die naamveld vol met inligting om te sê dis ’n grond-, sand- of tweespoorpad, én ons gee inligting oor dinge soos hekke, motorhekke en brûe.“Buitelug-GPS’e gee inligting wat straatnavigeerders nie gee nie. ’n Straatnavigeerder gaan nie vir jou toegegroeide paaie in Mosambiek wys nie en jy gaan jou kar krap. Die buitelug-GPS sê dit vir jou.”

KRY DIT REG

Om sonder probleme met jou GPS by die kampplek te kom moet jy twee belangrike dinge doen: Sorg dat die GPS se verstellings reg is en maak seker die koördinaat vir jou bestemming is reg, sê Johann.

“Stel jou GPS vir die vinnigste tyd en nié vir die kortste pad nie, en skakel die funksie af om punte te vermy (avoidances). Dan het jy klaar 90% van die probleme uitgeskakel.”

Die verstellings

“GPS-kaarte is almal min of meer gestel vir die vinnigste tyd – om jou op die grootste, vinnigste en veiligste pad te vat. As jy jou GPS vir die kortste pad stel, maak jy ’n fout. As jy byvoorbeeld van die Kaap af Upington toe ry, ken almal die pad: Jy vat die N7. Maar as jy die GPS vir die kortste pad stel, vat hy jou op die Tankwa-Karoopad en oor Bainskloof.

Dit ís wel die kortste pad, maar nie die vinnigste nie. Én jy kry pap wiele daarlangs.“ ’n Ander groot fout wat mense maak, is om die funksies te gebruik om sekere plekke te vermy.

Jou GPS kan jou van bakboord na stuurboord neem omdat jy met jou verstellings gepeuter het om hoofpaaie én grondpaaie te vermy en daar nie veel keuses oorbly nie. Moenie dink daai masjientjie is altyd 100% reg nie – hy voer maar net opdragte uit,” sê Johann.

Waarheen nou?

“Die een probleem van ’n GPS is dat die kaart in jou brein – die mental map – verlore gaan, want jy is nie deel van die navigasieproses nie. Dis gevaarlik. In die stad kan jy dit vinnig regstel, maar as jy in die middle van nêrens ry, wil jy nie 50 km in die verkeerde rigting ry met min brandstof nie. “As jy ’n roete op jou GPS uitgewerk het, maak seker die lyn van jou roete lyk na die regte pad – kyk byvoorbeeld of daar dalk ’n bergpas is wat ontoeganklik is vir jou wa.”

ONTHOU DIE MINUS

Sommige bronne gee vir jou die koördinate sonder die S voor die breedtegraad en die E voor die lengtegraad, maar vervang die S met ’n minusteken (-). ’n Minus word vir liggings suid van die ewenaar en wes van die meridiaan gebruik. As jy die minusteken vir Hartenbos (-34.125630 22.118100) weglaat, gaan jy in die Middellandse See beland.

WEES OP DIE PUNT AF

Daardie string syfers wat aandui waar ’n plek is, bly vir baie mense ’n tameletjie omdat daar drie formate vir dieselfde ding is. En verskillende mense verkies verskillende formate. Vir algemene navigasie is dit eintlik nie ’n kwessie nie, sê Johann. Die belangrikste is dat jy kan onderskei tussen die verskillende formate.

Jy moet weet jy kry:

  • Desimale grade (hddd,ddddd – op van die straatnavigeerders aangedui as d.d°)• Grade, desimale minute (hddd mm,mmm of d°m.m’)• Grade, minute en desimale sekondes (hddd mm s,ss of d°m’s”).

’n Voorbeeld vir desimale grade is S33.91129 E18.56942. In grade en desimale minute word dit geskryf as S33 54.677 E18 34.165, en in grade, minute en desimale sekondes as S33 54 40.6 E18 34 09.9.

“Ouens gebruik werkblaaie om die een formaat na ’n ander om te skakel, en ’n program soos Garmin se BaseCamp het verstellings vir die formaat van jou keuse. Jy kanook die somme doen om van die een format na die ander oor te skakel, hoewel GPS’e al die formate hanteer. Voer die format wat die kampplek vir jou gee, in jou GPS in, al is dit nie jou voorkeur nie – jy kan daarna jou GPS weer verstel na die format van jou keuse, en dan sit die GPS dit vir jou om in die formaat waarvan jy hou.”

Dis baie belangrik om te weet die koördinaat wat die kampplek vir jou gee, is die regte een. Mense spesifiseer soms nie die formaat nie, of weet selfs nie wat die format is nie, en dis dan dat foute insluip.

“As iemand vir jou ’n koördinaat van Hartenbos gee en hy spesifiseer nie die format nie, maak dubbel seker. Gaan dit na op Google Maps of BaseCamp en kyk of daardie punt wel Hartenbos is. As dit buite die dorp is, moet jy weet daar is fout.”

DOEN DIE SOMME

As jy regtig wil, kan jy die somme doen om een formaat na ’n ander om te skakel.

  • Desimale grade na grade en desimale minuteOm die desimale grade S33.91129 E18.56942 om te skakel: Behou die S33; vermenigvuldig die .91129 met 60 (54.6774); behou ook E18 en vermenigvuldig die .56942 met 60 (34.1652). Die grade en desimale minute lees dan so: S33 54.677 E18 34.165. As jy die proses wil omkeer en van grade en desimale minute na desimale grade wil omskakel, deel jy die 54.677 en 34.165 onderskeidelik deur 60.
  • Desimale grade na grade, minute en desimale sekondesAs jy die desimale grade S33.91129 E18.56942 wil omskakel: Behou die S33, vermenigvuldig die desimaal .91129 met 60 (54.6774); behou die heelgetal 54 (minute) en vermenigvuldig die oorblywende desimaal .6774 met 60 vir die sekondes (40.6); behou ook die E18, vermenigvuldig die .56942 met 60 (34.1652), behou die 34 en vermenigvuldig die .1652 met 60 vir die sekondes (9.9). Daaruit kan jy die regte grade, minute en desimale sekondes neerpen: S33 54 40.6 E18 34 09.9.
  • Grade en desimale minute na grade, minute en desimale sekondesAs jy die grade en desimale minute S33 54.677 E18 34.165 wil omskakel in grade, minute en desimale sekondes: Behou die S33 en die 54 en vermenigvuldig die .677 met 60 (40.62); behou die E18 en die 34 en vermenigvuldig die .165 met 60 (9.9). Die grade, minute en sekondes is S33 54 40.6 E18 34 09.9. Om terug te skakel na grade en desimale minute deel jy die 40.6 en 09.9 onderskeidelik deur 60.

En as dit te alles vir jou te veel is? Laat die GPS vir jou die werk doen!

Weg Ry & Sleep sê: As jy jou eers daarin begin verkneukel, word navigasie ’n fassinerende stokperdjie.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook