Jy’s slaggereed om op jou vakansie te vertrek, maar die kleinspan sukkel steeds om te kies watter speelgoed móét saam en wat kan agterbly. Of dalk het jy pas besef daar’s nog heelparty herwinningstoerusting wat moet in voor jy op jou veldrynaweek kan gaan.

Pleks daarvan dat alles lukraak in jou motor se kattebak rondlê, hou dit eerder netjies bymekaar. Behalwe dat dit jou huis, kampplek en woonwa se binneruim ordelik hou, laat dit jou ook lyk na ’n ou hand as dit by kamp kom.

Booxe Bootbox

NINJA-KRAT

Dié krat is ’n innoverende liggewighouer wat in die holte agter die tweede ry sitplekke van ’n Toyota Fortuner pas. Die deksel is gelyk met die vloer, en as die matjie daaroor gerol is, gaan niemand eens weet dis daar nie. Jy kan deur die agterdeure daarby uitkom en dis dus nie nodig om die luikrug oop te maak en van agter af rond te krap nie.

Prys R1 495 by Booxe.

Weg Ry & Sleep sê

Kry ook die pasgemaakte Booxe- glywerende vloermatjie (R995) om die houer heeltemal weg te steek. Of betaal R2 395 vir albei.



Ironman 4x4 Maxi Case (48 l)

KLEIN WONDERWERK

Teen hierdie grootte is die 48 l-Maxi Case die kleinste trommel in die Ironman-4x4-reeks. Hy is net reg vir kleiner kampgoed en gereedskap, en hy’s gemaak van rateltaai poliuretaan (met wande van 3,6 mm dik) wat bestand is teen die nadelige effek van sonlig en gure weer. Die duursame sluitmeganise en skarniere gaan ook jare se betroubare diens lewer.

Prys R1 800 by Ironman 4x4.

Weg Ry & Sleep sê

Hierdie trommel is die enigste een in die Maxi Case-reeks wat nie ’n binneste rakkie het nie.



Thule Motion XT Medium

AËRODINAMIESE ARK

Die Thule Motion XT is nie net slank en elegant nie, maar het ook heelwat pakplek omdat dit ontwerp is om meer as net klere te dra. Dit is ook geskik vir kampgoed. Die PowerClick-stelsel laat jou deur ’n hoorbare klikgeluid weet as die knippe stewig aan die dakstawe vas is. Die glyslot sluit ook outomaties wanneer jy die deksel toemaak.

Prys R14 000 by Thule.

Weg Ry & Sleep sê

Die Motion XT is beskikbaar in ‘n groot verskeidenheid groottes.



Tentco-opvouwaentjie

LAAT DIE WIELE ROL

Wanneer jy by jou bestemming aankom, is dit lekker om bloot agteroor te sit en die wêreld te betrag. Dié waentjie maak dit vir die kinders maklik om daai swaar kratte rond te sleep. Dit vou heeltemal plat en kan ’n maksimumgewig van 68 kg dra.

Prys R1 200.

Weg Ry & Sleep sê

Die groot wiele maak dit maklik om oor sand en klip te sleep.



Ford Ranger-wegsteekkluis

RY VEILIG

Jy hoef nie meer bekommerd te wees oor waar jy jou beursie, huissleutels, selfoon en belangrike dokumente bêre terwyl jy reis nie. Hierdie kluise word gemonteer aan die onderkant van die agterste bank van die jongste geslag Ford Ranger (T6), en word gemaak van 1,6 mm-staal. Daar is twee sluitbare kluise – een aan elke kant van die bank.

Prys R1 325 by Front Runner.

Weg Ry & Sleep sê


Geen dief gaan ooit kan raai dís waar jy jou waardevolle goed wegsteek nie.



Camp Cover-ammunisiekissakkies

NETJIES IN KWARTE

As dit nie vir jou ordelik genoeg is om jou kampgoed in ’n trommel te pak nie, kan jy dit verder opdeel in hierdie sakkies wat binne-in ’n ammunisiekis pas. Die sakkies het deursigtige deksels sodat jy die inhoud kan sien, en boonop is die duursame seilmateriaal en ritssluiters waterbestand.

Prys R515 (vir ’n stel van 4) by Camp Cover.

Weg Ry & Sleep sê

Jy kan die sakkies ook vir badkamersakkies gebruik.



 

Outdoor Warehouse-ammunisiekis

DIE GOUE STANDAARD

Dit is ’n tipiese ammunisiekis en hy is reg om kamptoerusting en proviand in te bêre. Die afmetings is ook standaard: 511 mm lank, 400 mm breed en 251 mm hoog.

Prys R159 by Outdoor Warehouse.

Weg Ry & Sleep sê

Daar is ook ’n weergawe waarvan die deksel effens hoër is vir ekstra volume.



Camp Cover-ammunisiekisoortreksel

OMSEIL JOU AMMUNISIEKIS

As jy jou ammunisiekiste netjies wil hou vir ’n aantal jare, moet jy beslis dié seilsakke van Camp Cover oorweeg.

Dit kom ook handig te pas as jy ’n hele paar kiste op jou trokkie se dak wil vervoer, want daar is lussies waardeur jy stroppe kan trek om die kiste stewig op jou dakrak vas te maak. Camp Cover se reeks seilsakke is omvattend en daar is ’n sak vir byna elke denkbare kampitem.

Prys vanaf R717 (2 kiste) tot R1 287 (6 kiste) by Camp Cover.

Weg Ry & Sleep sê

Die sakke word met PVC uitgevoer vir ekstra duursaamheid en sodat jy dit makliker kan skoonmaak.



Ironman 4x4-dakraksak (500 l)

POFTROMMEL

As dit by sakke kom, is dié meneer die grootste een wat ons al teëgekom het. Hy het ’n indrukwekkende volume – ’n volle 500 l. Dis gemaak van duursame 500 D- waterbestande PVC-materiaal en kan aan jou voertuig se dakrak vasklou deur sterk stroppe en gespes. Die ritssluiters is ook waterwerend met klitsritsstroke om die inhoud droog te hou.

Prys R2 495 by Ironman 4x4.

Weg Ry & Sleep sê

Daar is kleiner weergawes... én selfs ’n groter 600 l-sak.


Ironman 4x4 Maxi-trommel (216 l)

HARDE TAS

Dís die trommel wat jy gaan nodig kry as jy álles en nog wat wil saamneem op vakansie. Hy word gemaak van dieselfde sterk poliuretaan as die kleiner Maxi Case (sien bl. 106) en jy het ook dieselfde slotte en skarniere.

Prys R4 500 by Ironman 4x4.

Weg Ry & Sleep sê

Daar is ’n rakkie aan die binnekant om jou gereedskap ordelik te hou.


Thule Ranger 90

SAGTE DAKTAS

Die nogal vreemd om te sien dat Thule sagte bagasiesak maak vir voertuie, maar gegewe die groot verskeidenheid tasse en sakke in hulle katalogus is die Ranger 90 seker nie té vreemd nie. Hy neem nie veel plek op jou motor se dak in beslag nie en die waterbestande ritssluiter en materiaal hou jou klere mooi droog.

Prys R6 000 by Thule.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan die Ranger 90 oprol en in ’n sak bêre.


Front Runner-wegsteekkluis vir Toyota Land Cruiser se 70-reeks

’N KLUIS VIR JOU CRUISER

Hierdie kluis pas onder die middelkonsole van ’n Toyota Land Cruiser 76 Troopy en 79-bakkie. Hy word direk aan die bakwerk vasgebout sodat geen dief hom kan wegdra nie. Die staal is 2 mm dik en as hy eers gemonteer is, sien jy hom nie sommer raak nie.

Prys R1 625 by Front Runner.

Weg Ry & Sleep sê

Toegang tot die kluis is maklik – mits jy die sleutel het.