Ongeag die redes hoekom jy veral drinkwater moet berg, is dit absoluut noodsaaklik dat jy leer hoe om dit ordentlik te doen. Hier is ’n klompie basiese dinge wat jy moet weet.

Hoeveel het ons nodig?

Die meeste van ons het al die uitdrukking gehoor ’n mens kan van brood alleen nie leef nie.

Dis net deels waar, want die deursnee-mens kan teoreties drie weke leef sonder om te eet. Met water is dit egter ’n ander storie: Meer as 60% van die menslike liggaam bestaan uit water en jy kan nie veel langer as enkele dae daarsonder oorleef nie.

’n Meer akkurate voorbeeld sal wees om uit te werk hoeveel water het elkeen van ons daagliks nodig. ’n Mens werk dit volgens jou gewig uit, en dit kom basies neer op 30 ml per kilogram. Iemand wat 100 kg weeg, het dus 3 liter water per dag nodig.

Dit is natuurlik nooit ’n presiese syfer nie, bloot omdat daar veranderlike faktore buite ons beheer is, maar wanneer jy ongeveer 5% van jou totale water verloor, begin simptome van ontwatering kop uitsteek.

Dit kan wissel van hoofpyne, neusbloei en ’n droë vel wat jeuk. As jy vir langer tye ontwater, kan dit veroorsaak dat jy voortydig verouder.

Hou egter in gedagte die gemiddelde mens verloor amper 2½ liter per dag deur net normaal en gesond te lewe. Dit klink dus dalk of jy nie baie water hoef saam te ry nie, maar as basiese higiëniese dinge soos jou daaglikse stort en tande borsel ook bygereken word, het jy aansienlik meer water nodig.

Water verval nie

Gelukkig kan ’n mens drinkwater vir lang tye hou. Daar is geen konkrete bewyse dat water wat vir lank gebêre word, nie meer geskik is nie of onveilig is vir menslike gebruik.

Enige water wat aan lug blootgestel word, sal koolstofdioksied begin absorbeer, en ’n klein persentasie van daardie water sal in koolsuur omskep word. Dit laat die pH van die water daal. ’n Praktiese voorbeeld is daardie glas water wat jy snags langs jou op die bedkassie neersit.

Jy drink dalk net die helfte in die nag en die volgende oggend het die water dan ’n effense suur smaak. Is dit sleg vir jou? Dit hang af waaraan die water in jou slaapkamer blootgestel word.

Wanneer word water gevaarlik?

Ons het reeds gesê water kan nie regtig verval nie, maar die chemiese samestelling daarvan kan deur die omgewing beïnvloed word. Suikers, proteïene en mikrobes is van die sondaars wat jou water kan verander.

Net soos enige ander lewende wese het dié bakterieë ook water nodig om te oorleef, en wanneer dit in jou water beland, verander dit die samestelling dramaties.

Daarom moet jy liefs nie jou water in ’n houer berg wat voorheen vir iets anders as water gebruik is nie.

Besmette water is nie net water wat van ’n twyfelagtige bron soos ’n stilstaande dam afkomstig is nie; besmetting vind plaas wanneer bakterieë in die water beland. Dit is byvoorbeeld hoekom jy nie jou water in ’n ou aanmaakkoeldrankbottel moet hou nie.

Wat is die storie met plastiek?

Dit is onwaarskynlik dat die varswatertenk op jou woon- of boswa buitelangs aangebring word waar dit aan die son blootgestel is. Om dié rede is die meeste watertenks onder die wa of in die kaste binne.

Die goedkoper weggooibottels waarin ’n mens mineraalwater koop, is geneig om die gevaarliker opsie te wees. Party van hulle stel die chemikalie Bisfenol A (BPA) vry wanneer dit aan die son blootgestel word of in ’n warm motor gelos word.

BPA is ’n hormoonontwrigter en daar is ’n daadwerklike poging om dit uit die produksie te verwyder van plastiekprodukte wat deur mense gebruik word.

Dit is aansienlik veiliger om vir waterberging groter houers aan te skaf wat BPA- vry is. As jy geen ander keuse het nie of ’n houer gebruik waarin voorheen iets anders as water geberg is, maak ten minste seker jy steriliseer dit ordentlik.

’n Produk soos Milton werk goed. Tipe 2- en tipe 4-plastiekprodukte bevat nie BPA nie en is veilig om te gebruik.

Toerusting
Wees veilig!

Bekommerd oor besmetting?

As jy bekommerd is oor die gehalte van water wanneer jy kamp, kan jy dit altyd eers kook voor jy dit drink of gebruik. As jy steeds nie gemoedsrus het nie, kan jy watersuiweringstablette saamry. Daar is meer as genoeg van hulle op die mark wat heel doeltreffend werk deur die mikroörganismes te verwyder wat siektes veroorsaak.

Ry Sleep sê:

Plastiekprodukte word sorgvuldig vervaardig met ’n chemiese samestelling wat beïnvloed kan word deur omringende stowwe. Moet dus nie jou water naby goed soos brandstof of insekdoder berg nie.



Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep (Maart 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.